Lidia

14 June, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Lidia

Handelinge 16:11-40

Video

Audio

               

Van Troas af neem Paulus en Silas ‘n skip oor die Egeïse see. Voor hulle lê die Europese vasteland. Dit moes seker vir Paulus ‘n groot oomblik gewees het toe hy voet aan wal sit in Europa. Vir hom is dit ‘n totale nuwe uitdaging. Hulle vertrek dadelik na ‘n baie bekende Romeinse kolonie in Masedonië: Filippi. Dis hier in Filippi waar Paulus en Silas in die tronk beland nadat hulle eers stukkend gegésel is. En toe, in plaas van om kermend hulle wonde te lek, sing hulle!

Maar Filippi is ook die plek waar Paulus vir Lidia ontmoet!

Die eerste Sabbat na hulle aankoms in Filippi, gaan soek die twee ‘n sinagoge. Paulus het altyd eers, wanneer hy by ‘n nuwe stad aankom, die sinagoges gaan opsoek om eerste vir die Jode te begin preek. Dit gee hom 'n platform vanwaar hy sy werk kan doen. Sodra dit gevestig was, het hy dan na die heidene begin uitreik.

In Filippi was daar egter te min Jode om ‘n sinagoge te regverdig. Die norm was dat daar minstens tien Joodse mans moes wees om ’n sinagoge te kon stig. Dus moes die handjievol Jode van Filippi noodgedwonge buite die stadsmure by ‘n rivier gaan aanbid.

Dit is dáár waar Paulus vir Lidia aantref. Sy was afkomstig uit die stad Tiatire. Lidea was ‘n handelaar in pers wolmateriaal, ‘n peperduur, kosbare stof wat hoofsaaklik deur adelstand en rykes gedra is. Lidia was dus ‘n welgestelde vrou, en sy het selfs haar eie huis gehad, iets wat min mense beskore was. Daardie oggend luister sy met groot belangstelling na Paulus se prediking. Sy word diep getref deur sy woorde, en sy maak haar hart oop vir Jesus. Sy word die eerste bekeerling op Europese bodem.

Lidia het die wonderlike nuus wat Paulus gebring het met haar huisgesin gaan deel. Haar opgewondenheid was só groot dat haar hele huis die geloof in Jesus aangeneem het. Nie lank daarna nie is sy en haar huisgesin gedoop, en word hulle volwaardige lidmate van die kerk van Christus. Die Griekse woord “oikos” wat Lukas hier gebruik vir huisgesin, sluit die ganse huishouding in. Dit beteken die uitgebreide gesinsisteem, wat nie alleen die kinders behels het nie, maar ook die slawe en werkers asook hulle gesinne. Dit was inderdaad 'n blye dag!

Wanneer iemand Jesus in sy lewe kry, vind daar veranderinge plaas. Een daarvan is om dankbaar te wees, en om hierdie dankbaarheid prakties uit te leef. In Lidia se geval het haar dankbaarheid beteken dat sy haar gasvryheid sou gee. Sy oorreed dus vir Paulus en sy geselskap om in haar huis te kom bly tydens hulle verblyf in Filippi. Sy moes deeglik besef het dat dit vir haar gevaarlik sou wees om hulle te huisves, want die owerhede was die Christene vyandiggesind. Maar sy stel nogtans haar huis oop. Later het sy ook haar huis oopgestel vir die gemeente om daar te kon kerk hou. Lidia stel dus die middele wat die Here haar gegee het tot beskikking van die Here.

Lidia was egter nie die enigste vrou wat Paulus in Filippi ontmoet die. Die tweede een was ‘n slavin, en vir Paulus en sy geselskap ‘n groot kopseer! Sy het ‘n “waarsêersgees” in haar gehad en was soos 'n stertjie, al agter Paulus aan. Sy het hom knaend kom lastig val waar hy wou preek. Toe Paulus die gees in die Naam van Jesus uit haar verdryf, is hy in die moeilikheid, want die eienaar van hierdie slavin het sakke vol geld uit haar bonatuurlike “gawe” gemaak. En nou het Paulus sy bron van inkomste vernietig! Uit weerwraak sleep hy en sy trawante vir Paulus-hulle na die stadsbestuur, en hulle word daarvan aangekla dat hulle Joodse oproermakers sou wees.

Ons ken die verhaal van Paulus en Silas in die tronk en hulle vrolike lofliedere. En die tronkbewaarder en sy gesin wat tot bekering gekom het. En skielik kry Lidia se huiskerk nóg ‘n uitgebreide gesin by, asook sekerlik daardie bevryde slavin.

Paulus-hulle is vrygelaat, en dan besluit hulle om na die volgende dorp te vertrek. Maar eers kom hulle weer ‘n slag by Lidia se huis bymekaar.

Wanneer ons deur Paulus se briewe blaai, sien ons dat hy telkemale met die vrouens in die gemeente praat. Hulle is die grondslag van die gemeentes. Ja, inderdaad noem hy dat hulle hoofbedekkings (hoede) moet dra en hulle stemmig gedra. Maar dis met ‘n spesifieke doel om in die samelewing van hulle tyd in te pas. Maar dan sien ons ook dat daar vrouens was wat leiding geneem het in die gemeentes, en dat Paulus dit aangeprys het.

Gereeld in sy briewe noem hy vroue soos Nimfa van Laodisea en Priscilla. Febe was nóg ‘n vrou wat baie beteken het vir die kerk. Paulus beskryf haar as “‘n suster, diaken en weldoener vir baie en ook vir my.” Febe moes beskik het oor materiële hulpbronne en ‘n goeie sosiale status gehad het om haar rol as weldoener te kon vervul. Sy was veel meer as net ‘n helper, sy het ‘n belangrike sleutelrol in Paulus se plan gespeel vir sy Romeinse sending.

Kom ons eer die vroue wat vandag ook ‘n reuse rol speel in die Koninkryk, en ons dank die Here vir elkeen van hulle!

Gebed:

Here, ek wil U vanoggend dank vir die vroue wat so ‘n reuse rol speel in die kerk. Nie alleen die leiers en predikante nie, maar ook dié wat pannekoek en koeksisters bak en oumensies troos. Ons eer hulle, Here!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026