Handelinge 16:4-15
Met groot opgewondenheid vertrek Paulus, Silas en Timoteus uit Listra. Hulle doen aan by elke gemeente in Suid-Galasië, selfs gemeentes soos Ikonium en Antiogië, waar hulle laas nog uit die stad gejaag is. Oral waar hulle kom, versterk hulle die gemeentes en praat hulle moed in. Hulle vertel ook vir hulle van die besluite van die groot kerkvergadering in Jerusalem.
Paulus het hierdie reis van hom baie fyn beplan, en hy weet presies watter roete om te volg. Van Antiogië af volg hulle 'n westelike rigting om 'n splinternuwe gebied te gaan verken in die provinsies Frigië en Asië. Hy is opgewonde om ook hier die Evangelie te gaan verkondig.
Maar dan gebeur iets wat Paulus gladnie kan verstaan nie. Helder en duidelik hoor hy die inspraak van die Heilige Gees in hom, en dadelik weet Paulus dat hulle hierdie gebied moet oorslaan. Hy bevraagteken nie die Here nie, want hy het al geleer dat die Here baie beter weet as hy. Dit maak nie mooi sin nie, want dit is tog maar net logies dat jy die Evangelie verkondig óral waar jy kom. Nogtans doen Paulus wat die Here van hom vra, en hy draai noord na die provinsie Betinië. Hier wag groot uitdagings op hulle in die Bosporus met sy groot stede. Hier kan hulle talle mense bereik met die evangelie.
Maar weereens kom staan die Here in Paulus se pad. Hy wil vir Paulus op 'n ander plek hê! Al Paulus se mooi beplanning is nou totaal daarmee heen! “Here, wat wil U dan hê dat ek moet doen? Waar het U my nodig?”
En dan kom die versekering in Paulus se hart: “Gaan maar net aan, Ek sal jou die regte pad wys, My kind!” Nou het Paulus rustigheid, en hy en sy geselskap reis voort in ‘n wye boog deur die provinsie Misië tot by die Griekse hawestad Troas.
In Troas ontmoet Paulus 'n skrander jong mediese dokter met die naam Lukas. Hierdie man is sommer dadelik baie geïnteresseerd in Paulus se doen en late. “Ek sal wát wil gee om saam met julle te kan reis!”
“Nou, kom dan saam!” lag Paulus.
Daardie nag het Paulus 'n droom: 'n Masedoniese man kom staan langs sy bed en smeek hom: “Paulus, kom oor na Masedonië toe. Ons het jou hulp dringend nodig!”
Paulus skrik wakker. Hierdie droom was só werklik! “Kom help ons in Masedonië!” weerklink dit oor en oor in hom. En dan wéét Paulus, hierdie was nie maar net 'n droom nie, dit was 'n visioen wat die Here vir hom gegee het. Nou val alles skielik in plek! Nou verstaan hy waarom hy verhinder is om na Asië te gaan en ook Misië. Dit is omdat die Here hom nóú in Masedonië nodig het!
Donkeroggend skud Paulus vir Silas en Timoteus wakker: “Kom, opstaan, opstaan! Ons moet vertrek!” Silas verstaan gladnie, waarom nou skielik die haas? Hulle het dan beplan om 'n tyd in Troas te vertoef. “Timoteus, gaan roep vir Lukas. Sê vir hom dat ons vandag nog na Masedonië vertrek, en as hy nog wil saamkom, dan moet hy góú maak!”
Daardie selfde oggend nog vaar die vier manne op 'n skip oor die Egeïese See tot by die eiland Samotrake. Die volgende dag vaar hulle verder tot by die hawestad Neapolis, waar hulle vir die eerste keer in Europa aan wal gaan en hulle reis voortsit tot by die belangrike stad Filippi in Masedonië. Paulus weet nog nie mooi wat hulle doel nou eintlik hier in Filippi is nie, maar hy weet één ding, en dit is dat die Here hom en sy geselskap hier wil hê en dat Hy hulle hier gaan gebruik.
Paulus vra in die stad rond waar die sinagoge is, sodat hy sy gewone strategie kan volg, deur eers vir die Jode te gaan preek. “Sinagoge? Nog nooit van só 'n plek gehoor nie!” Die reël is dat daar tien Joodse mans in 'n stad moet wees om 'n sinagoge te kan stig. Tot sy skok moet Paulus uitvind dat daar nie eers tien Jode in Filippi is nie!
Daardie Sabbat gaan stap Paulus en sy reisgenote tot buite die stadsmure om te soek vir 'n paar Jode wat dalk iewers onder 'n boom vir hulle 'n bidplek ingerig het. Hulle kom 'n klompie vroue teë wat langs die rivier sit en gesels, en Paulus-hulle gaan sit by hulle en begin die Evangelie met hulle deel.
Een van die vroue luister aandagtig. Die dinge waaroor Paulus praat, is vir haar nie vreemd nie. Sy het jare gelede die Joodse geloof aangeneem, maar wat Paulus egter nóú sê, het sy nog nooit voorheen gehoor nie. Haar naam is Lidia, en sy is 'n knap sakevrou wat handel dryf in gesogte pers wolmateriaal uit Tiatira. Lidia neem die Evangelieboodskap sommer dadelik aan, en dan versoek sy vir Paulus: “Ek en my gesin wil gedoop word.”
Dit is groot blydskap in die huis van Lidia, en dadelik nooi sy die sendelinge om by haar tuis te gaan.
Ons moet fyn luister na die stem van die Heilige Gees. Dit kan alleen gebeur wanneer jy 'n intieme verhouding het met die Here. Paulus se ontmoeting met Lidia daardie Sabbat-oggend was baie belangrik. Dalk het die Here ook vir jou 'n baie belangrike ontmoeting. Luister na wat die Heilige Gees vir jou wil sê, soms deur die Woord, soms deur ander mense, soms selfs in 'n droom. Bevestig dit met die Skrif en wees dan gehoorsaam!
Gebed:
Here, maak my asseblief sensitief vir U stem. Maak my ook gehoorsaam om te doen wanneer U iets van my vra!