2 Korintiërs 6:14-7:1
‘n Bybelversie kan baie maklik uit verband geruk word, en dan as ‘n totale lewenswyse gesien word. Vat nou byvoorbeeld die eerste versie van vandag se Skrifgedeelte: “Moenie met ongelowiges in dieselfde juk trek nie.” Die eerste gedagte wat by jou opkom wanneer jy dit lees, is jou werksituasie. Die meeste van ons werk skouer teen skouer saam met ongelowiges. Moet ek onmiddellik bedank en ‘n ander werk gaan soek waar daar slegs gelowiges werk? En as my huweliksmaat ‘n ongelowige is, beteken dit nou dat ek van hom/haar moet skei?
As ons hierdie versie op sy eie gaan lees, en letterlik wil opneem, dan is dit inderdaad die opdrag! Maar as ons baie wyer lees, dan begin ons sien dat dit oor baie meer gaan as ‘n werksituasie saam met ongelowiges. As ons boonop in ag neem wat die lewensomstandighede van die mense in Korinte was, dan begin dit die prentjie totaal verander.
Wat was gelowiges in Korinte se situasie? Hulle was ‘n baie klein minderheid te midde van ‘n skare van afgodsaanbidders. Die stad was baie strategies geleë, met ‘n hawe aan twee kante van die stad. Daar was ‘n gedurige vloei van Italianers, Egiptenare, Siriërs, Jode en Oosterlinge, en almal se godsdiens is in die stad weerspieël. Daar was tempels vir Apollo, Asklepius, Afrodite, Demeter en Persefone. In die tempel van Afrodite, die seksgodin is ‘n duisend prostitute as priesteresse gehuisves, en prostitusie was die norm. Die morele standaard van die stad was iets allerverskrikliks, en dronk orgies was aan die orde van die dag.
Jy kom dus agter dat Paulus eerder praat van ‘n lewenswyse as ‘n werksituasie. Dink maar net, as jy gewoond was aan die losbandige lewenswyse van Korinte, dan kan dit nogal baie moeilik wees om skielik ‘n totaal ander tipe lewe te moet leef. Oral rondom jou gaan daardie lewe van vrye seks en drank voort. Die gelowige moet hom dus weerhou daarvan omdat dit ‘n sondige lewe is. Maklik, was dit vir die gelowiges beslis nie! Elders in Paulus se briewe aan Korinte praat hy juis van die liederlike invloed op die gemeente, waar gelowiges steeds die sondige praktyke as lewenswyse beoefen het.
Paulus wil dus vir die gelowiges van Korinte sê dat hulle hulle moes losmaak van die sondige lewe van die stad, en hulle daarvan distansiëer. Hulle moes ‘n lewe wat pas by dié van ‘n gelowige leef! Om dus nie in dieselfde juk as ‘n ongelowige te trek nie, kan ons dus eerder sien as om nie dieselfde soort lewe te lei as ‘n ongelowige nie.
As ons hierdie beginsel sou toepas op ons hedendaagse lewe, dan sien ons hoe die verleidelikhede van die stad ook vandag vir ons as gelowiges wink. Ons land is deurspek met afgodstempels van ‘n iewat ander aard, maar hulle is nét so aanloklik en verleidelik as die tempels van Korinte. Oral om ons is daar die tempels van die verleidelike geldgod, die kasino’s. Hierdie tempels is ontwerp om selfs die mees geharde gelowige ook aan te lok, met hulle asemrowende argitektoniese skoonheid en skouspelagtige vertonings. Die mooiste voorbeeld hiervan is die Lost City, wat jaarliks miljoene mense lok. En as jy eers daar is, dan wink die eenarm-bandiete met hulle flikkerliggies en beloftes van miljoene wat vir jou wag. Onlangs het aanlyndobbel die norm geword en jy kan selfs die dobbelliggies in jou eie sitkamer beleef!
Dan is daar nog die seks-tempels wat die manne én vroue se oë laat omdop, plekke waar hulle hulleself aan die wellus kan gaan oorgee. En moenie dink dat jy nie daar gelowiges gaan kry nie! Almal doen dit mos!
Sal ek aangaan? In die sakewêreld is daar die tempel van korrupsie wat soos ‘n vloedgolf oor ons land spoel. Om byvoorbeeld in ‘n munisipaliteit ‘n plan goedgekeur te kry, het jy eers nodig om die bouinspekteur om te koop.
In 2 Kor 6:14vra Paulus: “Hoe kan daar vennootskap wees tussen reg en onreg? En hoe kan daar gemeenskap wees tussen lig en duisternis?” As ons in ‘n verhouding met Jesus leef, kan ons nie ook terselfdertyd ‘n verhouding hê met hierdie soort wêreldse praktyke, die praktyke van die duiwel nie.
Dink so daaraan: as gelowige leef die Heilige Gees in jou en my. Sal ek Hom nou in ‘n dobbelhool saam met my neem? Of in ‘n vieslike plek soos die klubs waar meisies op my skoot sit en dans sonder klere aan? Ek gril my dood aan die blote gedagte daaraan! En sal ek oneerlike besigheidspraktyke bedryf soos wat ál die ander in elk geval doen? En dit terwyl my Verlosser, Jesus hier by my is? Hoe kán ek?!
Paulus wil met hierdie gedeelte vir my en jou op die hart druk om anders te lewe as ‘n ongelowige. Die dag as Jesus jou verlos, moet jou hele lewensuitkyk verander na een wat nie meer die praktyke van die duiwel aanhang nie, maar na ‘n lewenswyse wat gedurigdeur gaan vra: “Wat wil Jesus hê dat ek moet doen in hierdie situasie?” As dit jou lewenswyse word, sal jy nie meer in dieselfde juk trek as die ongelowige nie, maar jy sal jou eerder instel op die edel dinge van die lewe!
Gebed: Here, hou asseblief my oog gevestig op Jesus, en gee my die lus om dinge te doen wat heilig is, eerder as om die luste van die wêreld na te volg!