Lewenswedloop

2 August, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Lewenswedloop

1 Korintiërs 9:24-27

Groot sportgeleenthede is iets waaraan die Grieke goed gewoond was. Die eerste Olimpiese spele het alreeds 775vC plaasgevind, dus was dit alreeds ‘n baie ou instelling in Paulus se tyd. Maar dit was nie die enigste van sy soort nie. in Korinte was Isthmiese spele sommer ‘n reuse sportgebeurtenis. Paulus het by verskeie geleenthede waarskynlik sélf daar op die stadion gesit en kyk na die atlete, want hy gebruik atletiek dikwels as voorbeeld om waarhede tuis te bring. Hy gebruik weereens beelde uit die wêreld van sport, in sy briewe aan die Korintiërs. Hy het immers geweet dat hierdie mense dit baie goed sou verstaan. Die Isthmiese Spele was baie hoog op die kalender.

Paulus het Jesus se voorbeeld nagevolg, en dikwels beelde gebruik wat sy lesers baie goed ken, om waarhede by hulle tuis te bring. Dit het gewerk, want as jy eers ‘n prentjie in jou kop het waarmee jy ‘n sekere waarheid kan assosieer, dan vergeet jy die waarheid nie sommer nie. Ek is Sondag skaars uit die kerk, dan het ek klaar die dominee se preek vergeet. As hy egter ‘n aangrypende storie vertel om sy boodskap tuis te bring, dan onthou ek dit dikwels vir baie jare. Ek kan nou nog ‘n preek in redelike detail onthou van Ds. Dana Minnaar van veertig jaar gelede, net omdat hy so ‘n treffende beeld gebruik het om sy boodskap te illustreer. Sekere dele van daardie preek kan ek selfs woord-vir-woord onthou.

Dit is egter interessant om te weet dat Paulus se voorbeelde hemelsbreed van dié van Jesus verskil het. Jesus se totale bediening het op die platteland afgespeel, met uitsondering van enkele kere wat Hy in Jerusalem was. Die beelde wat Jesus dus gebruik, het feitlik alles te make met plattelandse dinge, gelykenisse van plaasboere, saailande en wingerde.

In teenstelling hiermee is Paulus se totale bediening weer in stede. Sy beelde het altyd iets te doene met die stadslewe en dinge wat in die stad gebeur. Dinge waarmee die mense bekend is en wat dadelik hulle aandag vang.

Wanneer Paulus dan hierdie baie belangrike waarheid by die Korintiërs wil tuisbring, gebruik hy juis ‘n beeld wat by hulle baie bekend is - atlete op die Isthmiese Spele. In hulle gedagtes kan hulle sien hoe die frisgeboude manne daar op die baan staan, spiere rimpelend in afwagting op die afsetter. Dan val die vlag, en die atlete is weg. Elke greintjie krag word ingespan wanneer hulle voortbeur. Die skare raak histeries as elkeen sy eie held aanmoedig. Wanneer die atlete die eindstreep begin nader, klink dit asof die stadion gaan ontplof. Gedryf deur adrenalien en die aanmoediging van die skare, gee elke atleet absoluut alles wat hy het om daardie lourierkroon te kan dra.

Uiteindelik is dit net één enkele ekstatiese atleet wat eerste by die wenstreep aankom en dan sy hande in die lug gooi van opgewondenheid omdat hy gewen het. Die ander het wel die wedloop voltooi, maar vir hulle almal is dit ‘n teleurstelling, want daar is maar net één enkele kroon. Waarom het hulle nie gewen nie? Het hulle dalk nie genoeg geoefen nie? Was hulle voorbereiding dalk nie goed genoeg nie? Het hulle dalk nie genoeg krag ingesit in die wedloop nie? Daar kan mos maar net een wenner wees!

Wanneer jy ‘n wedloop hardloop, dan moet jy besef dat jy nie noodwendig ‘n prys gaan wen nie. As jy halfhartig hardloop, gaan jy dit beslis nie maak nie. Boonop is daar hope selfdissipline nodig om waarlik bo te kan uitkom. ‘n Top atleet weet byvoorbeeld dat hy baie dinge moet prysgee as hy wil wen. Lekker kos is beslis nie op sy spyskaart nie. Hy moet eet wat hom die nodige krag gee, en dikwels is dit vervelige kos. Hy moet oefen en oefen, en baie tyd in sy voorbereiding sit, tyd wat hy heerlik kon gebruik het vir ontspanning.

As gelowige moet ek ‘n besluit neem: gaan ek maar net tevrede wees om saam te draf, of gaan ek voluit op hierdie lewenswedloop? Draf ek agterna, kan ek uiteindelik ook by die wenstreep uitkom, maar dit sal afgewater wees. Alleen diegene wat alles in die stryd werp, kry die oorwinnaarskroon! Net soos in sport, is voorbereiding uiters belangrik. Ek móét bereid wees om sommige dinge prys te gee. Sonde is een van hulle!

My Handleiding is die Bybel, en ek moet sorg dat ek dit verstaan en deeglik ken. Dit help nie om maar net 'n versie of twee te lees om my gewete te sus nie. Ek moet verstaan wat ek lees, en ek moet die agtergrond waarteen ‘n Bybelgedeelte geskryf is begryp om sodoende te verstaan wat die ware bedoeling is.

Gebed is my geestelike asemhaling. Daarsonder kan ek die wedloop maar vergeet! My krag en toerusting kom van die Heilige Gees, en ek moet Hom toelaat om my lewe te rig. Maar dan moet ek natuurlik ook die wil hê om die wedloop te wen! Daarsonder gooi ek halfpad al tou op!

Rig vandag jou oog op die wenstreep, en sit álles in om daardie belangrikste van alle wedlope te hardloop!

Gebed:

Here, ek wil hierdie wedloop wen! Wees U asseblief my Afrigter!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026