1 Petrus 3:8-12
“Ten slotte”, skryf Petrus in vers 8, en daarmee sluit hy die afdeling in sy brief wat handel oor ons verhoudings, af. As ons die voorafgaande gedeeltes lees, dan sien ons dat hy praat oor verhoudings met die staat, werkgewers en huweliksmaats. Nou gesels Petrus oor ons verhouding met ons medemens in die algemeen.
In hierdie perikoop gee die Here vir ons ‘n sleutel tot ware lewensvreugde. In vers 10 skryf Petrus: “As iemand die lewe liefhet…” - ‘n aanhaling uit Psalm 34. Dit skep egter ‘n verkeerde indruk dat dit hier met ‘n lang lewe te doene het. As jy hierdie jou lewensfilosofie wil maak, is daar ‘n paar riglyne om te volg teenoor jou medemens. Petrus gee sewe belangrike riglyne, wat jou nie alleen lewensvreugde gee nie, maar jou terselfdertyd ook nader aan die wil van God bring.
Eensgesindheid, is die eerste riglyn. By verskeie geleenthede is ek al aangevat oor sekere klemverskille waar daar in die kerk net eenvoudig nie oor saamgestem kan word nie, bloot omdat die Bybel nie duidelike riglyne daaroor gee nie. Kom ons los die dinge waaroor ons verskil en praat oor die dinge waaroor ons saamstem, en versterk mekaar só geestelik eerder as om af te breek. Moenie kyk hoe jy met jou naaste kan verskil nie, maar vind aansluiting by dit waaroor julle saamstem, en die bande van eensgesindheid bind julle dan saam as ‘n eenheid.
Medelye, is Petrus se tweede sleutel. Iemand wie se geliefde van haar weggeruk is deur die dood, het iemand nodig wat waarlik omgee om haar deur hierdie droefheid by te staan. Dit moet iemand wees wat verstaan waardeur sy gaan, en daardie skielike alleenheid begryp. As jy dus medelydend wil wees, moet jy bereid wees om daar te wees vir so ‘n persoon. Deur maar net te luister en om ‘n skouer te wees op wie sy kan huil, beteken vir so ‘n persoon meer as wat jy ooit kan dink. Medelye het ook ‘n ander sy, naamlik om ‘n ander se vreugde met hom te kan deel en om jubelend opgewonde te kan wees saam met jou medemens oor sy of haar groot vreugde.
Koos se seun het die eerste rugbyspan gehaal, en hy is baie opgewonde: “Baie geluk!” sê ek, maar ek stel nie rêrag belang nie, en Koos kan dit sommer in my houding sien dat hierdie belangstelling aangeplak is. Hy voel afgehaal, want ek was hoflik, maar hy kan sommer sien ek deel nie rêrag in sy opgewondenheid nie. Dink jouself in Koos se situasie in en voel sy borrelende vreugde. Wees dan opreg uit die hart uit bly saam met hom en wys dit met jou hele lyftaal. Koos sal voel dat daar mense is wat waarlik omgee, en dit sal sy geloof versterk.
Liefdevolheid, is die derde sleutel, en hierdie woordjie dek ‘n baie wye veld. Een voorbeeld van ‘n liefdevolle lewe is om nie op jou medemens se foute te fokus nie maar hulle eerder te bedek. Iemand wat oorgewig is wéét van haar probleem! Jy hoef nie vir haar te sê dat sy nou beter begin om reg te eet nie. Kyk liewer by haar probleem verby en probeer die mooi persoonlikheid sien. Vergeet van die foute en konsentreer op die persoon se sterk punte.
Goedhartigheid, die vierde sleutel, is dikwels ‘n baie moeilike een. ‘n Mens wil liewer nie ‘n ander se swaarkry raaksien nie, want dit laat jou skuldig voel. Ware goedhartigheid roer jou binneste en dit maak jou hart en hand oop om te help waar jy kan. Sodoende leef jy God se liefde uit op ‘n praktiese wyse.
Nederigheid, is die vyfde sleutel. As jy al goed op die geloofspad gevorder het, is dit tog so maklik om neus-in-die-lug te loop met ‘n “Ek’s heiliger as jy!” uitdrukking op jou gesig, net om te beklemtoon dat jy êrens op die pad van heiligmaking gekom het. Jesus het eenmaal gepraat van die Fariseër wat so op die straathoeke staan en bid sodat almal kan sien hoe heilig hy is. Dalk is dit ‘n oordrewe hoogmoed, maar ons kan maklik op ‘n baie subtiele manier geestelike hoogmoed openbaar.
Ware nederigheid is om nooit te vergeet hoe klein en gering jy werklik voor God is nie, en dat alles wat jy in die lewe bereik het suiwer genade van God is. Jy moet duidelik besef dat jy selfs die geloofshoogtes wat jy bereik het nie verdien het nie. Dit was nie jou eie goedheid nie, maar God het dit onverdiend vir jou gegee omdat Hy vir jou lief is.
Petrus se sesde riglyn kom uit Psalm 34, hoe jy op verontregting en kwaad moet reageer. Vir die ongelowige is dit totaal aanvaarbaar om iemand terug te kry as hy jou te na kom. Vir die gelowige is dit anders: draai die ander wang! Jesus het immers so gesê! God gee deur sy Gees vir jou die krag om verhewe te wees bo vergelding, en om eerder die kwaad met ‘n seënwens te beantwoord.
Met die sewende riglyn, ook uit Psalm 34 som Petrus hierdie gedeelte op: “Soek vrede en jaag dit na!” Kom hierdie sewe riglyne na, en jy kan verseker wees van ware lewensvreugde!
Gebed:
Here, hervorm asseblief my hart om vrede te soek en U wonderbare liefde vir my medemens aktief uit te leef.