Lukas 5:27-39
Toe die Romeinse regering die pos adverteer van belasting-gaarder, het Levi die gaping gesien en dadelik sy tender ingesit. Hierdie kan ‘n betalende besigheid wees! Dit behels dat hy namens die Romeine belastings moet invorder van sy volksgenote, die Jode. Hy hou dan ‘n sekere persentasie daarvan vir homself, wat dien as sy salaris. Baie van hierdie Jode weet nie rêrag wat presies die belasting moet behels nie, en Levi het gehoor dat die ander tollenaars goed geld maak deur hier en daar iemand te verkul deur meer in te vorder as wat hy moes, en dan die res in hulle sakke te druk. Baie gou het Levi elke truuk in die boek geleer van hoe om mense af te pers en te verneuk om elke hoek en draai.
Wat Levi egter nie mee rekening gehou het nie, is dat almal hom skielik begin vermy het. Daardie stigma van Tollenaar-verneuker het aan hom begin kleef, en weldra het al sy Joodse vriende opgedroog. Daar was maar één genade oor, om by die res van die tollenaars in te val. Hy is met ope arms ontvang! Die ongeluk was egter dat hierdie spul nou rêrag die skuim van die samelewing was, suip en hou partytjie. G’n goeie Jood sou hom met hulle meng nie!
Dit is dus ‘n baie groot skok vir Jesus se volgelinge wanneer hulle een mooi dag by Levi se tolkantoortjie verbystap, en Jesus vir daardie gehate tollenaar aansê om Hom te volg. “Meester, hoe durf U! Sy reputasie stink!” Petrus is tot in sy siel geskok! En Levi kan sy ore nie glo nie! Niemand van enige waarde wil hom as vriend hê nie, en hier kom hierdie heilige Profeet en Hy roep hom, armsalige, verworpe, sondige Levi! Nét daar besluit hy dat dit die ideale geleentheid sal wees om Jesus aan sy vriende voor te stel. As Jesus bereid is om hóm te aanvaar, dan sal sy pêlle óók mos vir Jesus aanvaarbaar wees. Hy versprei die woord, en daardie aand hou hulle gróót makietie met ál die fluitjies en klokkies. Petrus-hulle is bitter ongemaklik saam met hierdie spul, maar hulle móét erken dat dit nogal baie jolig gaan, jy kan ámpertjies sê dat dit lekker is! Hulle kan egter nie verstaan hoe Jesus so gemaklik tussen die spul sondaars kan inpas nie.
Die volgende dag is die duiwel behóórlik los: ‘n Afvaardiging fariseërs keer vir Petrus en sy maters voor en trap hulle sommer lélik uit oor daardie berugte partytjie van die vorige aand. “Hoe kón julle! Wat het julle besiel om te meng met daardie skuim? Julle het sowaar saam met sondaars en tollenaars gaan staan en eet en drink!” Jesus hoor wat aangaan, en dan kom red Hy die situasie as Hy verduidelik: “Siekes het die dokter nodig, nie gesondes nie!”
En Levi? Hy was bereid om alles nét so te los om vir Jesus te volg. En ek is oortuig dat nie alleen Levi tot bekering gekom het nie, maar sékerlik ook baie van sy gure vriende. In hierdie verhaal sien ons dat dit nie noodwendig die mense is wat hulle hele lewe lank ‘n voorbeeldige lewe gelei het wat dissipels van Jesus word nie, maar ook dié met ‘n baie vrot verlede. Jesus veroordeel nie die persoon nie!
Hierdie half-ongemaklike situasie wat Levi geskep het, lei tot ‘n onvermydelike konfrontasie. Jesus gebruik egter juis die situasie om te toon dat Hy bereid is om énigeen te vergewe. As dit selfs moontlik is vir tollenaars en sondaars om hulle verhouding met God te herstel, dan is dit moontlik vir enige soort mens. Wat meer is: menslike taboes word onbelangrik! Ons moet leer om verby ons tradisies te kan kyk, en ander te aanvaar vir wat hulle is: skepsels van God net soos ek en jy!
Terwyl hulle nou besig is om oor tradisies te praat, trap die fariseërs sommer ook vir Jesus uit omdat Hy nie soos Johannes die Doper, sy dissipels leer om te vas en ander tradisies na te kom nie. Jesus se antwoord gee ‘n nuwe perspektief op die ou Joodse gebruike. Hy verwerp nie die tradisies nie, maar Hy sê dat daar ‘n tyd en ‘n plek is vir alles. Om dus bloot ‘n tradisie na te volg omdat dit tradisie is, het absoluut géén waarde nie. Maar op sy regte tyd en plek en met die regte doel voor oë kan dit wél nuttig wees.
Dalk staan jy vanoggend met ‘n dilemma: jy weet nie of jy ooit goed genoeg is om vir die Here van enige nut te wees nie. Sal die Here jou ooit kan gebruik? Dalk is jou sonde te groot of jou verlede te duister. Uit hierdie verhaal gee die Here vanoggend vir jou die versekering dat Hy verby al hierdie dinge kyk en iemand sien wat na Sy beeld geskep is. Hy wil jou beslis gebruik, al wat Hy vra is jou bereidwilligheid.
Of dalk is jou dilemma vanoggend dat jy sukkel om ‘n sekere persoon te aanvaar, juis oor sy duistere verlede, of moontlik oor sy voorkoms. Jesus vra van jou as gelowige om hom te aanvaar nes hy is, en om hom ‘n kans te gee in die lewe, soos wat Hy bereid was om selfs vir Levi ‘n kans te gee.
Gebed:
Here, leer my asseblief om mense te aanvaar soos hulle is.