Leierskap

22 February, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Leierskap

Inleiding tot 1 Timoteus

VIDEO | OUDIO

Ons land sit met ‘n leierskapskrisis! Oral waar ons vandag gaan, is dit die kwessie wat mense se harte omklem. En wat van die kerk? Is daar ook ‘n leierskapskrisis in die kerk? Die vraag is: Wat is dit wat ‘n suksesvolle Christenleier maak? Sonder goeie leierskap kan ‘n gemeente kwalik suksesvol bestaan. In Matt 9:36 lees ons juis van so ‘n “gemeente” wat leierloos gedwaal het: “Toe Hy die skare sien, het Hy hulle innig jammer gekry omdat hulle verward en verstrooi was, soos skape sonder 'n herder.” Jesus sê dan vir Sy dissipels: “Die oes is groot, maar die arbeiders min.”

Het jy al op die platteland ‘n trop skape sonder ‘n herder in die pad gekry? Dis frustrerend want jy kan nie tussen die spul deurgery kom nie! ‘n Skaap is seker die domste ding op die ganse aarde! Eers wanneer hulle herder hulle weglei, kan jy deurry. So het ek al gesien hoedat ‘n gemeente sonder effektiewe leierskap baie dom dinge kan aanvang!

Dis egter baie belangrik dat ons altyd moet onthou dat daar maar slegs een ware Leier is, naamlik Jesus. In Joh. 10:11 sê Jesus: “Ek is die goeie Herder.” Die héél belangrikste element van Christen-leierskap is dus dat ons nooit mag vergeet wie die ware Herder (Leier) is nie.

Hierdie Herder delegeer egter Sy pligte. In Joh. 21:15-19 gee Hy opdrag dat Sy skape opgepas moet word. Dis belangrik om te weet dat Hy die leiding aan my delegeer. Ek word inderwaarheid geróép deur Jesus om daardie leiding te neem of om sekere pligte uit te voer. Ek is dus in Sy diens. Ek neem egter slegs leiding namens Hom.

Ek kan dus nie maar leiding neem soos ek wil nie, maar ek moet dit doen volgens Jesus se voorskrifte en opdragte. Hy is die Een wat die doelwitte stel wat ek as leier moet nastreef. As leier is ek dus ook nie die “baas” nie maar slegs die een wat rigting gee aan Jesus se opdragte. Hy het daardie gedagte uitgeleef en vir ons die voorbeeld gestel van hoe dit gedoen moet word. As hoogste Gesag in die ganse heelal, was Hy niks meer as ‘n Dienende Kneg nie en Hy het selfs sulke nederige dinge gedoen soos vuil voete was, siekes help en vir honger mense kos gee.

Is hierdie boek dan slegs vir “leiers” geskryf? Is dit net die dominee, pastoor of leier-ouderling wat dit moet lees? Allermins! Enige gelowige kan en MÓÉT ‘n leier wees op die een of ander terrein.

Daar is mos deesdae die tendens in die sakewêreld om allerhande fênsie titels te gee vir die mees eenvoudige werke, soos die toiletskoonmaker wat nou skielik “Hoof van Higiëne en Ontspanning” word. Dit maak dat daardie ou so ‘n groot trots in sy werk kry, dat alles sommer blink! So het die storietjie van Hendrik van der Linde die rondtes op internet gedoen van die “Besembestuurder” (jy móés hom al gelees het!), waar die man sy nuwe titel met groot trots uitgeleef het. Dit is baie slim taktiek en dit verseker produktiwiteit. As ons nou dieselfde in die kerk sou toepas, dan raak die gemeente ook produktief!

In ons eie gemeente het ‘n aantal “diensaksies” spontaan ontstaan wanneer “doodgewone” gemeentelede hulle passies begin uitleef het. Iemand het begin pannekoek bak, ‘n ander weer koeksisters. Iemand anders het weer begin om bekostigbare, heilsame etes van gedroogde bestanddele saam te stel vir armes. Intussen het een persoon begin om eredienste te hou vir Zoeloe huiswerkers. Baie gou was ander mense aangesteek deur hulle entoesiasme en dit het letterlik ontplof tot groot en uiters suksesvolle aksies.

Paulus het hierdie inspirerende brief oorspronklik aan Timoteus geskryf om die konsep van effektiewe leierskap aan hom te verduidelik. Timoteus was natuurlik een van Paulus se mees getroue metgeselle. Hy het vir ‘n tyd lank saam met Paulus gewerk in Efese. Toe Paulus tevrede was dat Timoteus ‘n gemeente kon behartig, laat hy hom daar agter as voltydse leraar. Natuurlik het so ‘n aanstelling baie probleme gehad en ek dink die arme Timoteus het hoofpyne beleef soos min! Daar was dwalinge wat sy nuwe gemeente geteister het en Paulus moes hom bystaan met raad en daad om dit te bekamp. In hierdie brief bemoedig Paulus dan ook vir Timoteus en hy gee hom vertroue om daardie dwaalleer te stuit en ‘n paar ander hoofpyne óók op te los.

Vandag is hierdie brief vir elke gelowige van groot waarde, want dit beantwoord vrae soos: Hoe ver strek my verantwoordelikhede as leier? Het ek genoeg gedoen? Hoe ver moet ek gaan met dit wat mense van my verwag? Wat vra God van my as leier?

Leierskap is ‘n wonderlike voorreg wat God ons gee. Ons moet dit egter reg gebruik tot eer van God en dit mag nooit óóit gebruik, of eerder mísbruik word tot my eie voordeel nie!

Gebed:

Here, leer my asseblief om my leierskap effektief en met groot entoesiasme uit te leef volgens U wil!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026