Leer uit die Geskiedenis

26 January, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Leer uit die Geskiedenis

Genesis 35:16-29

Dalk het dit tyd geword dat ons so ‘n bietjie in perspektief kyk na die geskiedenis van Abraham, Isak en Jakob. Die prentjie wat ons gewoonlik vir onsself wil skilder, is dat hierdie drie aardsvaders se lewens nie werklik oorvleuel het nie. Die feite is dalk so ‘n bietjie verbloem tussen die bladsye van die joernale.

Abraham word op 100 die pa van Isak. Maar dit is nie waar sy lewe eindig nie. Wanneer Sara sterf, trou hy weer, en daar word 6 seuns gebore uit die huwelik. Dus het Abraham 8 seuns gehad waarvan ons weet. Daar word egter ook net so terloops gemeld van byvrouens en hulle seuns, dus is dit moontlik dat Abraham dalk heelwat meer kinders gehad het. En daar word ook nie gepraat van sy dogters nie.

Isak trou toe hy 40 is, en op 60 word Jakob en Esau gebore. Abraham was dus 160 toe sy kleinseuns in die wêreld gekom het. Toe Jakob ‘n seun van 15 was, sterf sy oupa Abraham op ‘n rype ouderdom van 175 jaar. Dit is dus moontlik dat Jakob op Oupa Abraham se skoot gesit het.

Wanneer Jakob 40 is, word die prentjie vir ons geskilder van ‘n blinde ou Isak wat so te sê op sy sterfbed lê en sy seuns seën voordat hy sterwe. Toe was Isak al 100 jaar oud. Daarna hoor ons nooit weer van Isak nie, en ons neem maar aan dat Jakob nooit weer sy pa gesien het nadat hy weggevlug het nie, want die het mos gesterf. Dit is egter baie ver van die waarheid, want in Genesis 35 lees ons dat Jakob vir Isak gaan kuier het in Mamre nadat hy uit Haran terug gekom het. Isak sterf uiteindelik op die rype ouderdom van 180 jaar, dus toe Jakob sélf al ‘n man was in die fleur van sy lewe, 120 jaar oud!

Isak het dus nog gelewe toe Josef as sewentienjarige seun as slaaf verkoop is aan die Egiptenare.

Maar terug by die verhaal van Jakob. Daar heers groot vreugde in die huis van Jakob, want sy lieflingvrou, Ragel is weer swanger met hulle tweede baba. Dit was destyds groot vreugde toe klein Josef gebore is, want Ragel het lank gesukkel om swanger te raak. En nou is dit weer sulke tyd. Maar wanneer die dag kom dat die nuwe baba gebore moet word, is die vroedvrou bitter bekommerd. Dit is nie ‘n maklike bevalling nie, en soos wat die tyd aanstap begin dinge al slegter lyk. Ragel kry bitter swaar. Buite stap Jakob op en af. As sy geliefde Rageltjie dit tog net gaan oorleef....

Maar pas na die geboorte sterf Jakob se lieflingvrou, Ragel. Hy is verpletter, maar daar is darem ‘n sprankie vreugde in die tragiese gebeure. Klein Benjamin, “Seun van my Regterhand” oorleef die geboorte, en word vir Jakob ‘n troos in sy oudag. Ragel word begrawe langs die pad na Efrata, met ‘n reuse klip op haar graf om te merk dat sy die groot liefde in Jakob se lewe was.

Jakob het eintlik vier vrouens gehad, en nie net twee soos wat ons graag wil dink nie. Die ander twee was Bilha, Ragel se persoonlike slavin wat sy vir Jakob as vrou gegee het, en Silpa, Lea se slavin. Hierdie vier vroue het vir Jakob twaalf seuns in die wêreld gebring. Die enigste dogter wat gemeld word is Dina.

Ruben was natuurlik Jakob se oudste seun, maar omdat hy Lea se kind was, het Jakob seker nie so baie aandag aan hom gegee nie. Josef was natuurlik die appel van Jakob se oog, omdat hy Ragel se eerste kind was. Dalk wou Ruben sy aanspraak as die oudste seun, en natuurlik daarby die erfgenaam van die eersgeboortereg, versterk. Dalk wou hy vir ‘n slag die aandag op homself as oudste seun vestig - ons sal nie weet nie. Maar op ‘n dag pleeg hy ‘n liederlike daad wat ‘n mens die koue rillings gee: Hy het gemeenskap met sy pa se slavin-vrou, Bilha. Dit is ‘n uitdagende en walglike daad.

Vreemd genoeg lees ons nêrens dat Jakob teen hom opgetree het oor hierdie verfoeilike ding wat hy gedoen het nie. Maar baie jare later, toe die vaderlike seën oor Jakob se kinders uitgespreek word, word Ruben die voorreg van eersgeborene ontneem. Bloedskande is ‘n baie ernstige saak, en regdeur die Bybel word dit ten sterkste veroordeel.

Wanneer ons die lys name van Jakob se seuns lees, dan besef ons dat die dinge waarop Abraham net kon hoop, vir Jakob in vervulling gegaan het, Abraham en selfs Isak se ander kinders het hulle eie paaie gegaan en ander volke gestig. Jakob se twaalf seuns het die kern geword van die volk Israel, wat nou alreeds vierduisend jaar later nog steeds voortbestaan.

Die era van Jakob het nou tot ‘n einde gekom. Natuurlik leef hy nog vir baie jare, maar van nou af is dit sy seuns wat die geskiedenis gaan oorheers, en dan veral sy lieflingseun Josef. Jakob het ‘n nuwe naam gekry: Israel. Nou is dit nie meer Jakob nie, maar Israel wat die middelpunt van die geskiedenis word.

Dit is baie belangrik dat ons die Bybelse geskiedenis sal verstaan en in perspektief sien. Hierdie was werklike mense wat die geskiedenis help vorm het, nie fiktiewe figure nie. Uit hierdie volk-in-wording word tweeduisend jaar later die Messias gebore, die Verlosser wat vandag vir my en jou die enigste ware Bron van lewe is.

Gebed:

Here, dankie dat ek ook vandag kon leer uit die geskiedenis van die voorvaders van ons geloof. Help my asseblief om daardie geloof uit te leef soos wat U dit van my verwag.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026