Romeine 13:8-14
Onthou jy nog die sestigerjare? Die Hippies met hulle slagspreuk: “Make love, not war!” As jy in daardie era geleef het, sal jy onthou dat hierdie verslonsde groep oral soos paddastoele opgeskiet het. Hulle lang hare was almal blond gebleik, en hulle groot strewe was liefde, vrede en vreedsaamheid.
Dit klink alles baie mooi en edel, totdat jy gaan kyk hoe dit beoefen is. “Vrye liefde,” was die woord van die dag, met die klem op "Vry!" Hierdie klomp het in groepe saamgebly in groot eenvoud, amper ‘n plakkersbestaan, verkieslik by die see, waar hulle heeldag lank op hulle branderplanke kon baljaar. “Vrede,” was hulle groet aan jou, en as jy dalk ‘n polisieman was, dan is jy uitgevloek met “Vrede vir jou ook, vark!” Gedurig slaags met die polisie, want hulle het gewoonlik geplak waar dit onwettig was, en dan was daar die walglike soet walm van dagga wat gedurigdeur oor hulle kamp gehang het.
Die gedagte klink vir ons vandag baie romanties, maar daar was een reuse leemte in hierdie beweging: God was totaal afwesig. Dit was ‘n vals liefde wat wêreldvrede probeer bewerkstellig het deur alle gesag te probeer ondermyn met ‘n vreedsame verset. Soms, wanneer hulle met plakkate deur die strate slenter, het die vreedsaamheid verdwyn, veral wanneer hulle met die polisie slaags geraak het.
Die Hippies se siening van liefde was ‘n totale mistasting van die betekenis van die woord. Liefde het vir hulle net een ding beteken, en die gevolg was stringe vuil kindertjies wat nie geweet het wie hulle pa’s was nie!
Wat beteken liefde werklik? Paulus sê dat om liefde uit te leef, beteken dat jy die hele wet van God prakties uitleef. Moord, diefstal en egbreuk is baie beslis nie deel van iemand se lewe as hy liefde uitleef nie. Maar dit gaan veel verder as net om fisies nie die slegte dinge te doen nie. Dit gaan ook oor die dinge wat in ‘n mens se hart broei: begeertes! Iemand wat ‘n begeerte troetel sal naderhand so behep wees daarmee dat dit soos ‘n sweer oopbars en hy toegee aan sy vuil gedagtes. As jy die sexy sekretaresse aankyk met oë wat die klere van haar lyf af brand, het jy maar net ‘n klein bietjie aanmoediging van haar kant af nodig om tot die daad oor te gaan en ‘n hele gesin (dalk twee) se lewens te verwoes.
Paulus beklemtoon Jesus se woorde, dat die ganse wet daarin lê om jou medemens lief te hê. Beslis nie met ‘n erotiese liefde nie, maar ‘n ware self-opofferende liefde soos wat Jesus dit uitgeleef het. Liefde wat iemand seermaak, is nie ware liefde nie, want Paulus verduidelik dat ware liefde nie iemand kwaad aandoen nie, maar die wet van God ten volle uitleef.
Die wet van God is nie ‘n klomp moets en moenies, wat jou op die ou end totaal verwar en uitput nie. Die wet is eerder ‘n lewenshouding waar God die uitgangspunt van alles is. Dit is ‘n lewenshouding waar jy in die eerste plek doen wat God van jou verwag, nie wat mense van jou verwag nie! Hierdie lewenshouding kan saamgevat word in die woordjie: “LIEFDE”. Nou moet ons ook baie duidelik besef dat liefde nie ‘n emosie of ‘n gevoel is nie, maar dit is ‘n praktiese daad van selfopoffering waarin God se eer gedien word en waar ander mense se belange voorrang geniet.
Wat beteken dit in die praktyk? As ek maar ‘n paar voorbeelde kan noem: om borrellende vreugde en vrede uit te straal in jou werkplek, doen jy klaar twee dinge: jy weerkaats die liefde van God, sodat jou kollegas Jesus in jou kan sien, maar terselfdertyd skep jy ‘n baie aansteeklike atmosfeer wat werkspanning verlig vir almal. Doen dinge vir iemand anders sonder om iets terug te verwag, soos om ‘n eensame sieke in die hospitaal of die ouetehuis te besoek en sommer net te gesels. Gaan vertroos iemand wat droefheid beleef, al is dit vir jouself ‘n bitter kruis. Wys vir iemand dat jy waarlik omgee.
Om liefde prakties uit te leef, sal dalk ook van jou vra om jouself te bekwaam om die evangelie met iemand anders te kan deel. Deur ‘n ernstige studie van die Woord te maak, gee dit jou nie alleen kennis om met ander daaroor te kan praat nie, maar terselfdertyd bring dit jouself ook nader aan God, en sodoende leef jy jou liefde teenoor Hom uit.
Paulus wil dit vir ons op die hart druk dat die tyd min geword het. As ons vandag na die tekens van die tye kyk, sien ons duidelik hoedat die aarde voortsnel na sy einde, teen ‘n verbysterende spoed. Al die geweld, korrupsie en oorloë, al die droogtes, hongersnood, aardbewings, verwoestende vloede en aardverwarming - alles dui daarop dat die einde naby is. Nou het dit tyd geword dat ons met ‘n nuwe dringendheid hierdie liefde uitleef op alle vlakke. Dat ons die evangelie verkondig aan almal wat wil luister, en selfs aan diegene wat nie wil luister nie.
Gebed:
Here, maak asseblief ‘n vuur in my wakker om U wonderbare liefde brandend uit te leef.