Leef Jou Roeping Uit

29 February, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Leef Jou Roeping Uit

1 Timoteus 1:18-20

VIDEO | OUDIO

Het jy al ooit probeer om ‘n reuse hoop werk alleen te behartig, sonder om hulp te vra? En dit terwyl jy gewéét het dat jy dit nooit sou kon volhou nie! Dis presies ekke dáái! Ek vrek voor ek vra! Ek het al menigmaal so byna-byna uitgebrand, totdat Mosbolletjie haar voet hard neergesit en my tot my sinne geruk het! My verweer is gewoonlik dat ek die enigste een is wat daardie ding kan doen. Maar dan, wanneer ek baie huiwerig uit dwang vra of iemand dalk kan help, dan is daar al klaar ‘n dosyn bekwame mense wat met afwagting sit en wag om betrek te word!

Moses het met presies dieselfde dilemma gesit. Van dagbreek tot donker was hy vasgevang in die taak om mense se probleme op te los. Toe kom sy skoonpa Jetro en gee raad dat hy manne moes aanstel om daardie taak te verrig sodat Moses kon konsentreer op die dinge wat werklik saakgemaak het (Eks 18:1-26).

n Christenleier werk nie alleen nie, dit het Paulus baie vroeg al agtergekom, daarom stel hy persone aan as leiers in die nuwe gemeentes. Timoteus was een só ’n leier en sy taak was om leiding te neem in Efese. In 2 Tim. 2 lees ons dat Paulus vir Timoteus aansê om op sy beurt weer leiers aan te stel. So word nie alleen sy werklas verminder nie, maar die Evangelie word meer effektief uitgedra en Koninkrykswerk word ’n gedeelde en hanteerbare roeping en verantwoordelikheid.

Dit kan gebeur dat jy leierskap in ’n spesifieke situasie moet oorgee aan ‘n persoon met baie minder ervaring as jy. Jy weet egter dat die persoon wél die potensiaal het om dit te kan doen. Die persoon word dan as’t ware gedwing om die nodige ervaring op te doen en sodoende sy leierskapskwaliteite uit te kan brei. Jy doen hom dus ’n guns, terwyl jy jou energie dalk meer produktief kan aanwend. Sodoende bou jy verder aan God se Koninkryk!

Om in God se Koninkryk as leier te werk, moet nooit ligtelik opgeneem word nie! Dis nie sommer maar net ’n stokperdjie of iets om jou besig te hou nie! Jy moet eerstens séker wees dat God jou geroep het om die taak te verrig. Jy moet innerlik oortuig wees dat jou roeping waarlik van God af gekom het en dat dit nie maar net ‘n begeerte in jou hart is nie. ‘n Egte roeping word óók gekenmerk deur uiterlike erkenning deur ander gelowiges, wat jou innerlike oortuiging versterk. In Timoteus se geval het ouderlinge sekere geïnspireerde uitsprake oor hom gemaak die dag toe hy as leraar bevestig was. Boonop het hy ook sekere genadegawes ontvang wat hom toegerus het vir hierdie groot taak wat op sy skouers gerus het.

Die uitwendige erkenning van jou roeping deur medegelowiges beteken vir jou baie in jou stryd as Christenleier. Dit is een van die grootste dryfkragte wat jou motiveer om uit te hou en aan te hou. Dit bevestig vir jou dat dit waarlik God is wat jou geroep het, want jou medegelowiges erken jou roeping. Ek kry talle briefies en WhatsApp boodskappies, dikwels slegs enkele woorde wat my bemoedig in my taak om hierdie dagstukkies te skryf. Ek waardeer elkeen van hulle van harte, want elke notatjie bevestig my roeping en gee my krag om my taak met passie uit te voer. My pleidooi vanoggend is dat jy die Christenleiers in jou eie gemeente se hande sal sterk maak deur hulle te bemoedig en te vertel dat hulle arbeid waardeer word. Wanneer laas het jy vir jou dominee of pastoor gesê dat sy boodskap jou diep getref het? Kom ons los die kritiek vir ‘n slag uit en vervang dit met bemoediging!

Ons moet egter weet dat Christenleierskap beslis nie gepaard gaan met status en glorie nie, maar diens en stryd. Jesus se voorbeeld is kosbaar vir elke Christenleier: Hy was bereid om Sy “goeie reputasie” totaal prys te gee, deur saam met die semels, die tollenaars en sondaars te gaan eet. Die Samaritaanse vrou by die put was sedeloos en niemand sou dit waag om eers in haar rigting te kyk nie, nogtans het Jesus Homself verneder deur met haar te gaan gesels. Hy was bereid om die slawetaak te verrig deur Sy dissipels se vuil voete te was. Jesus, die Koning van alle konings se werk op aarde was gekenmerk deur diens en harde werk sonder enige glorie. Hoe hanteer ek my leierskap?

Daar is egter ook ‘n ander sakie van uiterste belang vir elke Christenleier: geloof en gewete! Hierdie twee uiters kosbare skatte moet jy bewaar en koester. As jy hulle verwaarloos, is jy besig om die tak af te saag waarop jy sit. Jou geloof is natuurlik daardie vaste vertroue op God en Sy genade, die genade wat nie alleen jou foute en sondes vergewe nie, maar ook die krag en bekwaamheid gee om as leier te kan optree. En ’n goeie gewete is dat jy gedurigdeur in jou gedagtes bewus is van wat God van jou verwag. Maar dit is nie waar dit eindig nie. Daardie gedagtes moet oorgaan in dade. Jy moet inderdaad dóén wat God vir jou vra om te doen. Alleen só kan jy jou taak tot uitvoering bring en jou ware roeping vervul!

Gebed:

Here, dankie dat U vir my al die toerusting gee om my roeping uit te leef. Help my asseblief om my taak met passie te vervul soos U van my vra!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026