Kwelvrae: Is Ek Uitverkies?

17 August, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Kwelvrae: Is Ek Uitverkies?

 1 Tessalonisense 1:2-10

Ons gaan vir eers ‘n bietjie afstap van Jesaja. Ons sal op ‘n later stadium met hom voortgaan.

Daar is talle kwelvrae waarmee baie gelowiges in die hart rondloop, en dikwels is ons te bang om hulle hardop te vra. In hierdie reeks gaan ons poog om na van hierdie vrae te kyk. En ek nooi jou by voorbaat uit om die vrae waarmee jy rondloop, vir my te stuur.

Ons begin deur te gesels oor die uitverkiesing, ‘n vraag waarmee baie gelowiges worstel. Vrae soos “Is God onregverdig?” en “Hoe kan God dan party mense uitverkies, en ander verwerp Hy?” kom dikwels op. God se liefde word selfs bevraagteken, want dit is mos nie liefde om iemand te verwerp nie? Selfs gelowiges vra dikwels: “Hoe kan ek seker wees dat ek werklik uitverkies is?” Daar is baie vrae oor hierdie onderwerp, en ek gaan probeer om ‘n paar antwoorde te vind.

Wat word bedoel met die woord “uitverkiesing”?

Dit kan verwys na God se keuse om ‘n persoon te kies om ‘n bepaalde taak uit te voer. Ons skrifgedeelte verwys egter na God se soewereine keuse om iemand te kies om Sy eiendom of Sy kind te wees. Natuurlik gebeur dit alles volgens God se ewige raadsplan. Lees gerus maar daarvan in Efesiërs 1:11. Op grond van hierdie liefdevolle raadsplan red Hy mense van Sy keuse en maak hulle só Sy kinders (Efes. 1:4).

Die tweede vraag is of dit dan nie dalk onregverdig is van God om slegs sekere mense uit te kies nie?

Die antwoord is ‘n baie besliste “NEE!” Die uitverkiesing is nie onregverdigheid nie, maar spreek juis van God se onverklaarbare liefde en genade. God het geen behae daarin dat iemand verlore gaan nie, maar Hy wil dat almal gered word.

Dit is nou maar eenmaal so dat mense van nature sleg is, en God se vyande is. Romeine 3:23 sê dit tog so duidelik: “Almal het gesondig en is ver van God af.” Romeine 6:23 gaan ’n stap verder en vertel wat so ’n mens se voorland is: “Die loon wat die sonde gee is die dood.” En dit is nie sommer net om te sterf nie, maar die ewige straf waarvan hier gepraat word. Is dit dan onregverdig as God iemand wat in sonde leef en die doodstraf moet kry, genadig is?

Kom ons stel ‘n situasie: jy stap in ‘n kamer vol slegte mense in en hulle begin jou koggel en vloek en met klippe gooi en jou uitjaag. Dink jy dat dit regverdig van jou sou wees om een van hulle uit te kies, aan die hand te vat, en hom uit daardie bose plek uit te lei? Jou idee is mos om hom maniere te leer, te versorg en ‘n beter mens van hom te maak. Natuurlik sou dit nie onregverdig wees nie! En is jy dan onregverdig teenoor die ander, omdat jy nie ook dieselfde met hulle almal gedoen het nie? Beslis nie, want hulle wou in elkgeval nie saam met jou kom nie!

Presies só is die mens teenoor God. Hulle wil in elkgeval niks met Hom te doen hê nie. En as daar dan iemand is wat nie uitverkies word nie, is dit baie beslis nie onregverdig nie. As Hy dus iemand uitkies om Sy kind te wees, is dit suiwer genade en onverstaanbare liefde. Hy kies dikwels selfs mense uit wat bittere vyande van Hom wil wees, en skop daarteen om Hom te wil volg.

Die derde vraag wat dikwels gevra word, is ‘n regte kwelvraag: “Hoe weet ek of ek uitverkies is?”

As jy vanoggend hierdie dagstukkie lees, dan is dit al genoeg rede om te glo dat jy wél uitverkies is. God se roepstem gaan na almal toe uit. Sy liefde is so onmeetbaar groot, dat Hy nie wil hê dat ‘n enkele mens verlore gaan nie. Die vraag is egter, of ek antwoord op daardie roepstem van God. “Ek staan by die deur en Ek klop,” is die smekende woorde van Jesus. As iemand aan jou voordeur klop, dan is hy nie daar om dowe neute nie. Hy wil graag hê dat jy oopmaak. Jesus klop ook op verskeie maniere, moontlik vanoggend deur hierdie dagstukkie. Dalk klop Hy deur iemand wat met jou oor Jesus kom praat. Sy grootste begeerte is dat jy vir Hom sal oopmaak. Dit is jou eie keuse of jy gaan oopmaak of nie.

Sien, die uitverkiesing het twee kante: God s’n en joune. In Romeine 5:8 skryf Paulus: “Maar God bewys sy liefde vir ons juis hierin dat Christus vir ons gesterf het toe ons nog sondaars was.” Maar jy moet glo! 1 Joh 5:12 sê: “Wie die Seun het, het die lewe; wie nie die Seun van God het nie, het ook nie die ewige lewe nie.Hy wil baie graag hê dat almal in Hom sal glo. Maar nie almal wil glo nie. God kies jou uit en bied aan jou die asemrowende geskenk van die ewige lewe. Dit is dan vir jou sélf om te besluit of jy daardie geskenk gaan aanvaar of nie. Dit is net ‘n eenvoudige “Ja” of “Nee”.

Ons is nog lank nie klaar met hierdie onderwerp nie. Môre kyk ons DV verder na nóg interessante vrae oor die uitverkiesing.

Gebed:

Dankie dat U my uitgekies het, Here, en dat U genade ook oor my kon spoel.  

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026