Kuisheid en Egbreuk

20 January, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Kuisheid en Egbreuk

Matteus 5:27-32

Die twaalfjarige meisietjie se ma kom opgewonde ingehaas: “Ek het baie goeie nuus vir jou!” Dadelik is die kind die ene ore: wat is dit wat Ma so laat babbel? Dit moet iets baie groot wees! “My kind, jy gaan trou!”

Die arme meisie se hart gaan amper staan. Sy begin nou eers die lewe geniet! Sy is in die fleur van haar kind-wees, en nou moet sy trou! “Wie is hy, ma?”

Dan moet sy hoor dat dit die seun is van ‘n welgestelde veraf familielid wat in Jerusalem bly. Sy het hom nog nooit met ‘n oog gesien nie, nie eers van hom gehoor nie. “Hy is nog maar sestien jaar oud, maar sy pa sal goed voorsien,” babbel Ma voort. Die arme meisie het nie ‘n keuse nie! Pa het die onderhandelinge gedoen, en sy het géén sê daarin nie. Sy moet noodgedwonge voortgaan met die huwelik, al is daar géén sprake van liefde of romanse nie.

So het die meeste huwelike afgeskop in ou Israel, en so word dit, terloops, nog steeds gedoen in sommige van die Oosterse lande. En dit was seker ook een van die groot redes waarom mense in daardie tyd wou skei. Onpas paartjies is teen hulle wil saamgegooi in ‘n huwelikskookpot. Om so ‘n huwelik te maak werk, het baie harde werk gekos.

Wys my die man wat nie ‘n oog vir ‘n mooi meisie het nie! En wys my die vrou wat nie met waardering kan kyk na ‘n aantreklike man nie! Eisch! As ek dan na die eise kyk wat Jesus stel in hierdie preek, lyk hulle mos totaal onrealisties en onbereikbaar. Dan moet ’n man mos dood wees! Of is hulle werklik so erg?

n Huweliksberader verduidelik eenmaal, dat as ‘n mooi meisie by jou verbystap, dan is dit maar net natuurlik dat jy met waardering na haar sal kyk. Daarmee is niks verkeerd nie. As jy egter, wanneer sy om die hoek verdwyn, agterna hardloop om ‘n baie deeglike kykie te kry, dan begin die rooi gevaarligte wild flikker! Dit is dán wat jy moet begin selfondersoek doen, want dit is die begin van egbreuk. Dit gaan alles oor sondige begeertes!

In ‘n tyd toe géén vrou veilig was alleen saam met ‘n vreemde man nie, het Jesus met Sy voorbeeld die samelewing genormaliseer met Sy verhouding, sonder enige bybedoelings, met verskeie vroue. Van hulle was selfs prostitute! Vandag is dit veral die predikant wat baie versigtig, en gedurend-biddend sy dagtaak moet aanpak, waar hy dikwels alleen saam met vrouens moet verkeer, en luister na hulle diepste hartsgeheime. Dikwels is ‘n vrou wat haar hart teenoor hom uitstort uiters kwesbaar, en kan dit in ‘n gevaarlike situasie ontwikkel.

Ons wêreld het in ‘n siek samelewing ontaard. Pornografie word eksplisiet op die tydskrifrakke uitgestal om die manne, en óók die vroue se hormone deurmekaar te krap. Op TV word rolprente vertoon wat jou kan laat hyg na jou asem. Dan het ons nog nie eers gepraat van die walglike pornografie wat vryelik tot elkeen se beskikking is op internet nie. In die samelewing staan die Evasgeslag dikwels skuldig deur uitlokkend aan te trek. Klere word dikwels gekies om die manne ‘n tweede en derde keer te laat kyk, en nie alleen te laat kyk nie, maar te laat begeer! Dit laat haar mos lekker voel as die manne haar nie in die oë kan kyk nie, maar as hulle oë oor haar geadverteerde rondings dwaal!

Dit bring ons dan by die derde teenstelling van Jesus, naamlik die egskeiding. Hieroor het ek al baie vrae gekry, maar ek wil dit baie duidelik stel dat ek nie ‘n huweliksberader is nie. Vandag het egskeiding baie maklik geword. In die Nuwe Testamentiese tyd was dit ook maklik, want die Jode het hulle eie interpretasie gehad oor ‘n versie in Deuteronomium 24:1, waar geskryf staan dat ‘n man maar van sy vrou kan skei as hy iets onbetaamlik aan haar kry. Hulle het op loop gegaan met hierdie versie, en gesê dat hy selfs van haar kan skei as sy maar net die kos verbrand, want dis mos onbetaamlik! Matt. 19 kyk in meer diepte na die kwessie van egskeiding.

Kom ons stel dit baie duidelik: Egskeiding is nie vir God aanvaarbaar nie, en dit is nie die manier om huwelikskonflik op te los nie. Om ’n huwelik te beëindig is bloot egbreuk. Daarmee neem Jesus nie ’n absoluut ongenaakbare houding in nie, en weereens moet ek dit beklemtoon dat ons nie ’n enkele versie moet neem en daarmee ’n onverbreekbare wet maak nie. Ons moet die preek in sy geheel lees om die ware betekenis te kry. As ons na die groot prentjie kyk, sien ons dat Jesus wil hê dat ons as “draers van die oorvloediger geregtigheid” allereers biddend voor die Koning sal buig. Ons moet eers daardie basiese oorgawe maak voordat ons met enige “ja, maar” oor ons huwelik kan kom.

Die vraag is egter of ons ooit nog in staat is om onbevange God se wil in ons huwelik te soek? Of soek ons maar die eerste beste “oplossing” wanneer dinge skeef loop in die huwelik?

Gebed:

Here, ek bid dat U my sal bewaar teen struikeling. Hou asseblief my hart rein en bewaar my daarvan dat ek verkeerde begeertes in my hart sal koester.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026