Kruisig Hom, kruisig Hom!

7 April, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Kruisig Hom, kruisig Hom!

Lukas 23:13-25

Herodus het hom wel bitterlik vererg omdat hy niks uit Jesus kon kry nie, maar één ding was hy seker van, Jesus was nie skuldig aan enige van die aanklagte wat teen Hom gegooi is nie! Herodus het vir Jesus onskuldig bevind, en daarom stuur hy Hom terug na Pilatus om uitspraak te lewer en Hom te vonnis, as dit dan móét!

Pilatus laat roep die priesterhoofde, Joodse Raad en almal wat sou belang stel bymekaar vir sy uitspraak. Hy stel dit baie duidelik aan hulle dat hy hulle saak baie deeglik ondersoek het en dat sy finale bevinding is dat Jesus onskuldig is. Herodus se bevinding bevestig dit, dit strook met syne.

Wat egter onverstaanbaar is, is dat Pilatus dan besluit dat alhoewel Jesus onskuldig is, hy Hom tóg sal laat gésel voordat hy Hom vrylaat. Maar hiermee is die Jode gladnie tevrede nie. Dan moet hy maar eerder vir Barabbas vrylaat. Barabbas was ‘n geharde misdadiger, in die tronk vir opstand en moord. Hulle is selfs bereid om iemand wat sulke verfoeilike dade gepleeg het te verruil vir Jesus. Jesus moet dood! Hy moet gekruisig word, want hulle wil die ergste moontlike straf vir Hom hê.

Dit gaan jou verstand te bowe dat jy so ‘n verskriklike haat kan opbou teen iemand, veral as daardie Persoon in Sy ganse lewe nooit enigiemand skade aangedoen het nie, maar net liefde en deernis uitgedeel het in oormaat.

n Tweede keer probeer Pilatus. Hy is vas oortuig dat daar géén skuld in Jesus is nie, veral nie die soort skuld wat ‘n mens die doodstraf laat verdien nie. Maar hierdie Jode is nou totaal besete, en hulle wil nie eers hoor wat Pilatus sê nie. “Kruisig Hom, kruisig Hom!” hou hulle net aan skreeu.

Watter kwaad het die Man gedoen?” Pilatus is desperaat. Vir ‘n derde keer probeer hy vergeefs om die Jode tot ander insigte te bring, maar hulle hou net aan skree, al harder en harder: “Kruisig Hom, kruisig Hom!” Nou is dit nie meer net die volksleiers nie, maar hulle het die hele volk saam met hulle opgesweep, ook diegene wat slegs enkele dae tevore nog in verwondering aan Jesus se lippe gehang het. “Kruisig Hom, kruisig Hom!”

Die duiwel was desperaat om vir goed van Jesus ontslae te raak, want hy het gesien waarheen dit gaan, en dat hy baie mag sou verloor as Jesus eers in volle beheer is. Ek dink hy het baie lekker gekry toe hy sien hoe goed sy plan werk, en dat hy dit reggekry het om die hele volk teen Jesus op te sweep. Hy het al ook sy slag geslaan met Jesus se vertrouelinge. Judas het eerste gesneuwel, en toe die grote, Petrus. Hierdie manne is geskiedenis! Hulle sal nooit weer dieselfde wees nie!

Maar die duiwel het nie met God rekening gehou nie, want met sy gemene spel het hy so reg in God se hand gespeel. Hy het nooit besef wat God beplan het nie, en dat Jesus se teregstelling juis die einde van die duiwel se heerskappy sou beteken nie. Maar daar is ‘n ander element waarmee die duiwel ook nie rekening gehou het nie, en dit is die werking - die WONDERLIKE werking - van die Heilige Gees, want hierdie dissipels wat hy so uitmekaar gejaag het, ook Petrus wat so hard geval het, sou later die heerlike, onmeetlike krag van die Heilige Gees beleef op Pinksterdag. Daar het die Here hulle opgehef uit die ellende waarin die duiwel hulle probeer dompel het, en het hulle kragtige getuies vir Jesus geword. Só groot was die krag waarmee hulle gevul is, dat selfs baie van die volk wat saamgeskree het: “Kruisig Hom, kruisig Hom!” later ook volgelinge van Jesus geword het.

Ons wil ons dikwels so blindstaar teen die werke van die bose, dat ons nie die wonderlike hand van God kan raaksien nie. Maak jy vandag ‘n koerant oop, dan is al wat jy sien die verskrikking van misdaad. Transitorowe, plaasmoorde, kapings, inbrake, rooftogte, verkragtings, gesinsmoorde. En dan hang die donker wolk van aardverwarming en nou ook die verskrikking van Covid 19 oor ons koppe. Ons word gekondisioneer om met oogklappe deur die lewe te gaan, en net al die slegte dinge raak te sien.

Dit het tyd geword dat gelowiges ‘n slag daardie oogklappe afruk en begin kyk na die wonderlike dinge wat elke dag rondom ons gebeur, wonderwerke wat om ons plaasvind, wat ons maar net aan die hand van God kan toeskryf. Hierdie “verskriklike” inperkings het veroorsaak dat ons moes begin om eredienste uit te saai. Nou bereik dit vyfkeer soveel mense as voorheen! Draai jou kop ‘n slaggie weg van die duiwel se werke, en kyk na God se wonderlike werke!

Stel dan jou lewe tot beskikking van die Heilige Gees, dieselfde onveranderlike, onverganklike Heilige Gees wat vir Petrus en die ander opgetel en verhef het. Laat Hom toe om jou ganse lewe te vul, en jy sal ook ‘n kragtige getuie van Jesus wees. Dan sal jy ook met nuwe oë begin kyk na die dinge wat besig is om rondom ons te gebeur, en jy sal verby die duiwel se laaste krampagtige pogings tot heerskappy sien, en die Koninkryk van God sien wat besig is om in volle glorie te blom.

Gebed:

Here, vul my hele lewe met U Heilige Gees.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026