Kruisig Hom, Kruisig Hom!

29 April, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Kruisig Hom, Kruisig Hom!

Lukas 23:13-25

VIDEO | OUDIO

Herodus het hom wel bitterlik vererg omdat hy niks uit Jesus kon kry nie, maar die feit is dat hy ook geen skuld in Hom gesien het nie. Herodus het vir Jesus onskuldig bevind en daarom stuur hy Hom terug na Pilatus vir die finale verhoor, die vierde een vir die dag, sodat hy kon uitspraak lewer.

Pilatus laat roep die priesterhoofde en Joodse Raad en almal wat sou belangstel bymekaar vir sy uitspraak. Hy stel dit baie duidelik aan hulle dat hy hulle saak baie deeglik ondersoek het en dat sy finale bevinding is dat Jesus onskuldig is. Dit is bevestig deur Herodus se bevinding wat strook met syne.

Wat egter onverstaanbaar is, is dat Pilatus besluit dat alhoewel Jesus onskuldig is, hy Hom tóg sal laat gésel voordat hy Hom vrylaat. Maar hiermee is die Jode gladnie tevrede nie. Dan moet hy maar eerder vir Barabbas vrylaat. Barabbas was ‘n geharde misdadiger wat in die tronk was vir opstand en moord. Hulle is selfs bereid om iemand wat sulke verfoeilike dade gepleeg het te verruil vir Jesus. Maar Hy moet dood, gekruisig word, want hulle wil die ergste moontlike straf vir Hom hê!

Dit gaan ‘n mens se verstand te bowe dat jy so ‘n verskriklike haat kan opbou teen iemand, veral as daardie Persoon in Sy ganse lewe nooit enigiemand skade aangedoen het nie, maar net liefde uitgedeel het in oormaat.

‘n Tweede keer probeer Pilatus. Hy is vas oortuig dat daar géén skuld in Jesus is nie, beslis nie die soort skuld wat ‘n mens die doodstraf laat verdien nie. Maar hierdie Jode is nou totaal besete en hulle wil nie eers hoor wat Pilatus sê nie. “Kruisig Hom, kruisig Hom!” hou hulle net aan skreeu.

“Watter kwaad het die Man gedoen?” roep Pilatus desperaat uit. Vir ‘n derde keer probeer hy vergeefs om die Jode tot ander insigte te bring, maar hulle hou net aan skree, al harder en harder: “Kruisig Hom, kruisig Hom!” Nou is dit nie meer net die volksleiers nie maar hulle het die hele volk saam met hulle opgesweep, ook diegene wat slegs enkele dae tevore nog in verwondering aan Jesus se lippe gehang het. “Kruisig Hom, kruisig Hom!”

Die duiwel was desperaat om vir goed van Jesus ontslae te raak, want hy het gesien waarheen dit gaan en dat hy baie mag sou verloor as Jesus eers in volle beheer is. Ek dink hy het baie lekker gekry toe hy sien hoe goed sy plan gewerk het en dat hy dit reggekry het om die hele volk teen Jesus op te sweep. Hy het alreeds ook sy slag geslaan met Jesus se vertrouelinge. Judas was die eerste wat gesneuwel het en toe die groot een, Petrus! Hierdie manne is geskiedenis! Hulle sal nóóit weer dieselfde wees nie!

Maar die duiwel het nie met God rekening gehou nie want met sy gemene spel het hy so reg in God se hand gespeel. Hy het nooit besef wat God beplan het nie en dat Jesus se teregstelling juis die einde van die duiwel se heerskappy sou beteken! Daar is egter ook ‘n ander element waarmee die duiwel ook nie rekening gehou het nie, die werking - die wónderlike werking - van die Heilige Gees want hierdie dissipels wat hy so uitmekaar gejaag het, ook Petrus wat so hard geval het, sou later die heerlike, onmeetlike krag van die Heilige Gees beleef op Pinksterdag. Daar het die Here hulle opgehef uit die ellende waarin die duiwel hulle probeer dompel het, sodat hulle kragtige getuies vir Jesus geword het. Só groot was die krag waarmee hulle gevul is, dat selfs baie van die volk wat saamgeskree het: “Kruisig Hom, kruisig Hom!” tot nuwe insigte gekom het en volgelinge van Jesus geword het.

Ons wil ons dikwels so blindstaar teen die werke van die bose, dat ons nie die wonderlike hand van God kan raaksien nie. Kyk jy vandag nuus op TV dan is ál wat jy sien die verskrikking van misdaad. Transitorowe, bendegeweld, kapings, oorlog, rooftogte, verkragtings, gesinsgeweld. En dan hang die donker wolk van klimaatsverandering ook nog oor ons koppe. ‘n Mens word gekondisioneer om met oogklappe deur die lewe te gaan en net al die slegte dinge raak te sien!

Dit het tyd geword dat ons gelowiges ‘n slag daardie oogklappe afruk en begin kyk na die wonderlike dinge wat elke dag rondom ons gebeur, wonderwerke wat om ons plaasvind wat ons maar net aan die hand van God kan toeskryf. Draai jou kop ‘n slaggie weg van die duiwel se aaklige werke en kyk na God se wonderlike werke! Kyk ‘n bietjie mooi na ‘n eenvoudige blom en hoe absoluut volmaak dit geskep is. Kyk na die ongelooflike kleurewonder van ‘n klein suikerbekkie en besef dat dit die onverbeterlike werk van die Skepper is!

Stel dan jou lewe tot beskikking van die Heilige Gees, dieselfde onveranderlike, onverganklike Heilige Gees wat vir Petrus en die ander opgetel en verhef het. Laat Hom toe om jou ganse lewe te vul sodat jy óók ‘n kragtige getuie van Jesus kan wees. Dan sal jy ook met nuwe oë begin kyk na die dinge wat besig is om rondom ons te gebeur. Jy sal verby die duiwel se laaste krampagtige pogings tot heerskappy, die Koninkryk van God sien wat besig is om in volle glorie te blom!

Gebed:

Here, vul my hele lewe met U Heilige Gees!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026