“Kruisig Hom, kruisig Hom!”

8 December, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie “Kruisig Hom, kruisig Hom!”

Lukas 23:13-25

VIDEO OUDIO

Herodus het hom wel bitterlik vererg omdat hy niks uit Jesus kon kry nie, maar die feit is dat hy ook geen skuld in Hom gesien het nie. Herodus het Jesus onskuldig bevind, en daarom stuur hy Hom terug na Pilatus vir die finale verhoor, die vierde een vir die dag, sodat hy kon uitspraak lewer.

Pilatus het die priesterhoofde, Joodse Raad en ander belangstellendes bymekaar laat roep vir sy uitspraak. Hy het dit baie duidelik aan hulle gestel dat hy hulle saak baie deeglik ondersoek het en dat sy finale bevinding was dat Jesus onskuldig was. Dit was bevestig deur Herodus se bevinding wat gestrook het met syne.

Dit is egter onverstaanbaar dat ten spyte daarvan dat hy Jesus onskuldig bevind het, Pilatus besluit het om Hom tóg te laat gésel voordat hy vir Jesus vrygelaat het. Maar hiermee was die Jode stééds gladnie tevrede nie! Dan moes hy maar eerder vir Barabbas vrylaat. Barabbas was ‘n geharde misdadiger wat in die tronk was vir opstand en moord. Hulle was selfs bereid om iemand wat sulke verfoeilike dade gepleeg het te verruil vir Jesus. Maar Hy móés dood - gekruisig word, want hulle wou die ergste moontlike straf vir Hom hê!

Dit gaan ons verstand te bowe dat jy so ‘n verskriklike haat kan opbou teen iemand, veral as daardie Persoon in Sy ganse lewe nooit enigiemand skade aangedoen het nie en maar net liefde uitgedeel het in oormaat!

n Tweede keer het Pilatus probeer. Hy was vas oortuig daarvan dat daar géén skuld in Jesus was nie. Beslis nie die soort skuld wat Hom die doodstraf laat verdien het nie! Hierdie Jode was egter nou totaal besete, en hulle wou nie eers hoor wat Pilatus sê nie. “Kruisig Hom, kruisig Hom!” het hulle net aanhou skreeu.

Watter kwaad het die Man gedoen?” het Pilatus desperaat uitgeroep. Vir ‘n derde keer het hy vergeefs probeer om die Jode tot ander insigte te bring, maar hulle het net aanhou skree, al harder en harder: “Kruisig Hom, kruisig Hom!” Nou was dit nie meer net die volksleiers nie, maar hulle het die hele volk saam met hulle opgesweep, ook diegene wat slegs enkele dae gelede nog in verwondering aan Jesus se lippe gehang het. “Kruisig Hom, kruisig Hom!”

Die duiwel was desperaat om vir goed van Jesus ontslae te raak, want hy het gesien waarheen dit gaan, en dat hy baie mag sou verloor as Jesus eers in volle beheer was. Ek dink hy het baie lekker gekry toe hy sien hoe goed sy plan gewerk het en dat hy dit reggekry het om die hele volk teen Jesus op te sweep. Hy het al ook sy slag geslaan met Jesus se vertrouelinge. Judas was die eerste wat gesneuwel het en toe die groot een, Petrus! Hierdie manne was geskiedenis! Hulle sou nooit weer dieselfde wees nie!

Maar die duiwel het nie met God rekening gehou nie, want met sy gemene spel het hy rég in God se hand gespeel. Hy het nooit besef wat God beplan het nie, en dat Jesus se teregstelling juis die einde van die duiwel se heerskappy sou beteken nie. Maar daar is ‘n ander element waarmee die duiwel ook nie rekening gehou het nie, en dit is die werking - die WONDERLIKE werking van die Heilige Gees! Hierdie dissipels wat hy so uitmekaar gejaag het - selfs ook Petrus met sy verfoeilike daad sou later die heerlike, onmeetlike krag van die Heilige Gees beleef op Pinksterdag! Daar het die Here hulle opgehef uit die ellende waarin die duiwel hulle probeer dompel het en hulle kragtige getuies vir Jesus gemaak. Só groot was die krag waarmee hulle gevul was, dat selfs baie van dié wat “Kruisig Hom, kruisig Hom!” saamgeskree het, tot nuwe insigte gekom het en volgelinge van Jesus geword het.

Ons wil ons dikwels so blindstaar teen die werke van die bose, dat ons nie die wonderlike hand van God kan raaksien nie. Al wat jy lees of hoor in die nuus, is die verskrikking van plaasmoorde, ontvoerings, verkragtings, gesinsgeweld en korrupsie. En dan hang die donker wolk van die skrikwekkende virus ook nog oor ons koppe! Ons word gekondisioneer om met oogklappe deur die lewe te gaan en net alles was sleg is raak te sien.

Dit het tyd geword dat ons gelowiges ‘n slag daardie oogklappe afruk en begin kyk na die wonderlike dinge wat elke dag rondom ons gebeur. Wonderwerke vind rondom ons plaas, gebeure wat ons maar net aan die hand van God kan toeskryf. Draai jou kop ‘n slaggie weg van duiwel se werke, en sien God se wonderlike werke raak! Kyk weer ‘n slaggie mooi na ‘n eenvoudige blom, sien raak hoe absoluut volmaak dit geskep is. Verwonder jouself aan die asemrowende kleurewonder van ‘n klein suikerbekkie en besef dat dit die onverbeterlike werk van die Skepper is!

Stel dan jou lewe tot beskikking van die Heilige Gees - dieselfde onveranderlike, onverganklike Heilige Gees wat vir Petrus en die ander opgetel en verhef het. Laat Hom toe om jou ganse lewe te vul, en jy sal ook ‘n kragtige getuie van Jesus wees. Dan sal jy ook met nuwe oë begin kyk na die dinge wat besig is om rondom ons te gebeur en jy sal verby die duiwel se laaste krampagtige pogings tot heerskappy kyk en die Koninkryk van God sien wat besig is om in volle glorie te blom.

Gebed:

Here, vul my hele lewe met U Heilige Gees.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026