Lukas 7:24-35
Nadat Johannes die Doper se dissipels vertrek het om hom die goeie nuus oor te dra dat Jesus tóg die Messias is, lewer Jesus ‘n getuienis oor Johannes. Inderdaad was hy ‘n baie besonderse man, maar waaroor dit éintlik gegaan het is die besonderse verhouding wat daar was tussen hom en Jesus. Watter rol het elkeen van hulle in God se verlossingsplan gespeel? Johannes word uitgebeeld as die grootste profeet van alle tye. Nogtans is hy slegs die profetiese voorloper van Jesus. Alhoewel Johannes so ‘n besonderse persoon was, kan ons nie werklik by hom stilstaan nie, want dit wat Jesus verkondig - die Koninkryk van God - bied soveel meer as wat Johannes bied. Johannes was die een wat boete-prediking moes doen. Daarmee moes hy die mense begin voorberei vir Jesus en vir die groot genade wat God besig was om op die aarde uit te stort. Wat Jesus verkondig is só belangrik dat Hy verklaar dat die geringstes in die Koninkryk van God selfs groter is as Johannes, die groot profeet.
Almal het nie dieselfde op Johannes en Jesus se prediking gereageer nie. Doodgewone mense het op Johannes se oproep gereageer het, selfs die gehate tollenaars het aggeslaan op Johannes se prediking. Hulle het berou gehad oor hulle sondes en tot bekering gekom en hulle laat doop deur die profeet, as teken dat God hulle sondes afgewas en vergewe het. Maar daar was ook diegene wat hierdie “sektery” uit die hoogte aangekyk het, en hulle daarvan gedistansieer het. Dit was veral die geestelike leiers, die Skrifgeleerdes en Fariseërs wat nie kon byt aan Johannes se eenvoudige prediking nie. Deur Johannes se doop te verwerp, het hulle ook God se verlossingsplan verwerp. Hulle was dus nie gereedgemaak vir die Een wat baie groter is as Johannes nie.
In die laaste gedeelte van hierdie perikoop sien ons Jesus praat oor die mense wat nie wil verstaan oor Johannes en Jesus se prediking nie. Hulle preke het radikaal van mekaar verskil, tóg tree albei op as agente van God. Jesus gebruik die beeld van kinders wat speel om te beklemtoon wat Hy bedoel. Johannes het treurige musiek verskaf, maar die mense wou nie huil nie. Jesus het vrolike musiek gespeel, maar die mense wou nie dans nie. Dikwels hoor jy vandag ‘n tipiese Johannes-preek wat sê: “Bekeer jou! Breek weg van jou sonde!” Baie mense druk hulle ore toe vir daardie preke! Hulle wil dit nie hoor nie. Dan hoor jy weer ‘n preek met ‘n totaal ander styl, waar die leraar preek oor God se genade en liefde. Baie mense wil ook nie hierna luister nie, want dis ou nuus, soetsappig, te eenvoudig! Iemand sal met elke preek fout vind!
Vir die predikers wat vanoggend hierdie stukkie lees, wil ek net sê, dat jy in goeie geselskap is, want selfs die grootste profeet van alle tye (Jesus se beskrywing van Johannes) en Jesus Sélf het héwig onder kritiek deurgeloop. Om maar ‘n voorbeeld te noem: toe Johannes hom weerhou het van alles wat sleg is, en ‘n kuis lewe streng volgens die wet geleef het, het mense hom daaroor gespot en selfs beskuldig dat hy duiwelsbesete is. Toe Jesus presies die teenoorgestelde doen, en Hom meng met sondaars en slegte mense en saam met hulle fees vier, is Hy óók gespot, en uitgekryt as ‘n “vraat en wynsuiper”. Die kritiek wat Angus Buchan moet verduur is totaal onmenslik. Ek het dokumente gelees wat jou hare laat regop staan, waar sy prediking selfs sou grens aan die werk van die duiwel!
Kom ons hou op om te kritiseer. Natúúrlik stem ek nie altyd saam met alles wat alle predikers sê nie. Dit gebeur van tyd tot tyd dat ‘n prediker iets sê uit die oortuiging van sy hart, maar wat nie heeltemal met die Skrif strook nie. Ons moet onthou dat selfs predikante en pastore ook maar net mense is, en dat hulle ook kan foute maak. Wanneer ons egter na ‘n preek luister, moet ons bid dat die Heilige Gees nie alleen deur die prediker sal praat nie, maar dat Hy ons harte oop sal maak om die boodskap te hoor wat Hy, die Heilige Gees, vir ons wil gee deur die prediker. Ons moet luister met ‘n oop gemoed en nie met vooropgestelde idees nie. Alhoewel jy bedag moet wees op enige vorm van dwaling, moet ons nie krities wees nie. Iemand merk eenmaal op dat die leraar dinge te veel herhaal, en sy kan dit nie vát nie. Toe wonder ek net oor dieselfde lied wat ons so dikwels sing en herhaal omdat dit mooi is en lekker is om te sing. As Skrifwaarhede die moeite werd is om te herhaal, kan jy dit doen tot vervelens toe! Ons durf nooit moeg word daarvoor nie! Gepraat van vervelige herhaling - hoeveel keer het jy al Psalm 23 in jou lewe gelees? Ek vra maar net........
Kom ons vergeet van die mens agter die preek, en sien die God raak wat deur die prediker praat!
Gebed:
Here, ek is sélf so lief daarvoor om te kritiseer. Vergewe my, en help my om U raak te sien eerder as die leraar op die kansel.