Hebreërs 5:11-6:3
Ons kleinkind is vanjaar 18 jaar oud, en natuurlik die mooiste jong dame in die hele wêreld! Ek onthou daardie dag nog baie goed - die eerste keer toe ek vir klein Zoë gesien het in die hospitaal - ‘n pap ou dingetjie wat skaars haar ogies kon oopmaak. Die ou sprinkaanbeentjies was om van te huil! En die boudjies - kleiner as hoenderboudjies! Maar toe begin sy mos suip! Melk by die liters, tot vervelens toe. En nes jy dink dat sy nou genoeg gehad het, dan begin sy weer van voor af - skree dat die berge weergalm as jy nie betyds die volgende sarsie gereed het nie. Skaars drie maande later lyk daardie einste sprinkaanbeentjies al so ampertjies soos dié van 'n balletdanseres. Soos ‘n spons neem sy haar omgewing waar en bêre die inligting vir toekomstige gebruik. Klanke fassineer haar, en alles wat beweeg. Tog só jammer dat hulle nie vir altyd so klein en skatlik kan bly nie! Agtien jaar het verbygegaan, en die melk het plek gemaak vir regte, egte kos - vleis en groente en alles wat gesond is. En ek dink: As Zoë wél so klein gebly het, dan was daar ‘n reuse probleem!
Jare gelede was daar saam met my op skool ‘n meisie wat nooit grootgeword het nie - Jenny. Toe ons hoërskool toe is, het sy steeds soos ‘n vierjarige dogtertjie gelyk. Sy was pragtig - skatlik, en almal wou haar opvreet! Maar sy het ‘n baie groot mediese probleem gehad en voordat sy mondig geword het, is sy dood. Tragies!
As ‘n baba nie groei nie, is daar probleme. As ‘n gelowige nie geestelik groei nie is daar óók probleme. In die geestelike lewe is daar nie stilstand nie - óf jy groei, óf jy kwyn weg! Dit is soos ‘n topfiks atleet: as hy nie aanhou oefen en oefen nie, verloor hy sy fiksheid en hy kwyn weg. Geleidelik gaan sy toestand agteruit. Oefening is ook nie altyd lekker nie, want dit verg opoffering en dissipline!
In Heb. 5:12 en 13 spreek die skrywer ‘n ander kwessie aan - die baba se kos. Vir die eerste paar maande kan hy net melk baasraak, en dit doen hy nogal baie goed! Maar dan begin hy met babakos, en geleidelik word dit al growwer en taaier, totdat hy uiteindelik ‘n stuk tawwe biltong met gemak kan kafdraf. Baie gelowiges kom selde verder as die Psalms en die Saligsprekinge, want hulle het nog nooit geleer om die moeiliker dele van die Bybel te lees nie. Openbaring is só ‘n skrikwekkende Boek, dat hy dit totaal vermy! As daar Bybel gelees word, is dit maar net ‘n ou stukkie om die gewete te sus en daar word nooit in diepte besin oor wat God eintlik vir jou wil sê daardeur nie. Vir ‘n huweliksverrykingskursus sien jy dalk nog kans, maar as daar ‘n kursus wat handel oor Bybelinterpretasie en eksegese aangebied word, bly jy baie ver weg, want dit is hééltemal bokant jou vuurmaakplek!
Dalk vra jy vanoggend: “Maar waar begin ek?” ‘n Goeie beginpunt is om by jou gemeente se Bybelstudiegroep aan te sluit. Lees die Bybel saam met ‘n goeie kommentaar. Ek gebruik die Bybellennium Eenvolume-kommentaar en ek vind dit uitstekend, want dit gee jou ‘n behoorlike agtergrond van die gedeelte en verklaar ook wat bedoel word met sekere moeilike begrippe. Dit pas verder ook die gedeelte toe op vandag se lewe. Met so ‘n kommentaar gaan daar vir jou ‘n hele nuwe wêreld oop, want dan begin die Bybel vir jou sin maak. Skakel in by 'n goeie Bybelskool. Daar kry jy 'n grondslag wat Bybellees vir jou 'n nuwe avontuur maak. Die belangrikste is egter dat dit alles in biddende afhanklikheid van die Heilige Gees gedoen word, anders beteken al hierdie dinge net mooi niks!
Vaste geestelike kos laat jou geestelik groei. Maar nou moet jy versigtig wees dat jy nie net in die wydte groei, en geestelik vet word nie. Saam met kos kom oefening. Daardie “vet” moet omgesit word in “spiere” sodat jy geestelik sterk kan word. Wees bereid om ook te gesels oor die dinge wat jy leer - deel dit met ander, en bespreek dit. Nie alleen verryk jy ander mense met jou kennis nie, maar sodoende anker dit ook vas in jou eie lewe. Iets wat jy net gelees het, vergeet jy gou, maar as jy dit met iemand anders bespreek het, word dit permanent in jou geheue vasgebrand. ‘n Bybelstudie- of selgroep is hier van onskatbare waarde, want hier kan jy dit wat jy geleer het met ander deel, maar terselfdertyd ook weer van hulle leer.
Maar jy moet ook ‘n stap verder gaan deur die dinge wat jy leer fisies uit te leef. As jy byvoorbeeld in Filippense 4:4 lees dat jy in alles bly moet wees, dan is dit ‘n pragtige gedagte vir die dag. Maak jy egter erns daarvan en leef dit doelbewus aktief elke dag uit, dan gebeur daar twee dinge: eerstens gee dit vir jouself ‘n wonderlike positiewe gemoedstoestand, maar verder het jy boonop ’n positiewe invloed op die mense met wie jy in aanraking kom. Stap in ‘n vertrek in waar iemand opreg, uitbundig die lewe as ‘n lied sien, en die donker wolkie wat dalk oor jou eie kop hang verdwyn soos mis voor die son.
O, daar is baie maniere om die Woord uit te leef - wees kreatief, en luister na wat God vir jou sê. Ek leef byvoorbeeld die Woord uit deur elke oggend ‘n dagstukkie te skryf en dit die wêreld in te stuur. Nie alleen deel ek hiermee die Woord met baie ander mense nie, maar vir myself is dit elke dag ‘n leerskool. Ek staan dikwels verbaas oor die dinge wat ek op hierdie manier uit die Woord leer. As jy oefening jou passie maak, kan dit baie lekker wees - dit hoef nie ‘n straf te wees nie. Geestelike oefening kan ‘n heerlike avontuur wees - myne is opwindend! Ek daag jou uit om vandag daarmee te begin!
Gebed: Dankie vir al die geestelike kos wat U vir my gee, Here. Help my asseblief om geestelik aktief te wees en elke dag U Woord prakties uit te leef!