Koningskind

14 November, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Koningskind

1 Petrus 1:10-12

VIDEO * OUDIO

My skoondogter Claudette skakel my eendag. Sy is betrokke by Tembe Olifantpark, en hulle het ‘n ou probleempie. Daar moes dringend kosvoorraad daarheen geneem word van Durban af, en die persoon wat dit gewoonlik doen was nie beskikbaar nie, en of ek en Mosbolletjie nie dalk sou kans sien om dit te gaan aflewer nie. Vir ons moeite kon ons vir twee nagte daar gaan oorslaap.

Dit het nie veel oorreding gekos nie, en so vat ons die lang pad na Tembe aan die suidgrens van Mosambiek. Daar aangekom, word ons letterlik op die hande gedra. Ons verblyf is in ‘n luukse safaritent en die aandete is uit die boonste rakke. Ek voel soos ‘n koning! Na ete wag ‘n verrassing: die gaste ontspan om ‘n gesellige kampvuur terwyl ons vermaak word deur dansers uit die Tembe gemeenskap. Die vertoning is puik!

Die volgende oggend word ons vroeg-vroeg uit die vere geboender: ontbyt is gereed en die veldvoertuig wag al vir ons. Die gids ontsien géén moeite om vir ons die beste moontlike wildbesigtiging te gee nie. Op byna onbegaanbare bospaadjies kronkel ons deur digte sandwoude agter ‘n trop olifante aan. Die gids werk letterlik soos ‘n slaaf om sy gaste koninklike behandeling te gee en ons baie spesiaal te laat voel. Laatmiddag is daar weer ‘n wildrit wat duur tot pikdonker. Hy bring ons tot binne raakafstand van ‘n groot olifantbul. Skielik stop hy en beduie vir ons in die ruigtes waar ‘n soenie staan en wei, ‘n baie skaars, piepklein wildsbokkie. ‘n Paar minute later jaag ons in ‘n pikdonker gangetjie in die sandwoud agter ‘n renoster aan! En deur dit alles vertel hy vir ons van al die voëltjies en bome…….

Daardie aand lê ek in my snoesige, warm bed en wonder…... Ek luister na die musiek van die bos, nagapies wat om ons tent baljaar, ‘n jakkals wat êrens sing, die klaaglied van ‘n hiëna, die donderende slag toe ‘n olifant sommer hier reg langs die kamp ‘n boom ontwortel. Ja, toe wonder ek wat ek dan gedoen het om dit alles te verdien? Wat maak my so spesiaal?

Petrus skryf dat kinders van God inderdáád baie spesiaal is! Besef ek en jy hoe wonderlik bevoorreg ons werklik is? Petrus wil hê dat ons met nuwe oë na onsself moet kyk en begin raaksien wat ons alles van God gekry het. Vir eeue lank het die Heilige Gees die profete geïnspireer om te skryf oor die Messias wat sou kom. Terloops, die Gees van Christus verwys na die Heilige Gees. Wanneer ons blaai deur die profete in die Ou Testament, voel dit soms vir jou of jy besig is om die gebeure in die Nuwe Testament te lees. Jy staan verwonderd wanneer jy ‘n noukeurige beskrywing lees van presies wat met Jesus sou gebeur. Hoe het hulle dit geweet? Dit was alles die werk van die Heilige Gees!

Moontlik moet ek net so terloops hier noem dat die Bybelboeke wat aan sekere profete of skrywers toegedig word, nie noodwendig fisies deur hulle geskryf is nie. So byvoorbeeld is die pragtige profetiese boek Jesaja slegs gedeeltelik deur die profeet sélf geskryf. Hy het iewers tussen 700 en 800vC. die eerste 39 hoofstukke geskryf. Die tweede gedeelte van Jesaja (hoofstuk 40-55) is tydens die Babiloniese ballingskap geskryf deur iemand anders (Jesaja was toe reeds lankal dood). En die derde deel (hoofstuk 56-66) is eers omtrent in 500vC. geskryf ná die ballingskap, weereens deur iemand anders.

As simboliek van die lang en komplekse ontstaantyd van die boek Jesaja, kan ons eintlik sê dat God met Sy volk op pad is – verlede, hede en toekoms, alles versmelt in een komplekse Bybelboek. En hoe wonderlik is die evangelieboodskap nie hier opgeteken in die boek waar God op pad is met Sy volk nie! Lees gerus maar weer byvoorbeeld Jesaja 40.

Hoe wonderlik bevoorreg is ons nie vandag nie, soveel meer nog as die profete van ouds. Hulle het nooit die voorreg gehad om hierdie Messias te sien nie. Maar nou het alles waar geword, al die wonderlike dinge wat Jesaja en die ander profete geskryf het. Die wonderlike is dat ek en jy die vrugte daarvan kan pluk! Selfs die apostels wat elke dag saam met Jesus was, het nie eers besef wie Hy rêrig was nie. Eers ná sy opstanding en hemelvaart het hulle werklik begin besef waaroor dit alles gegaan het. God was eeue lank besig om die verlossing te bewerkstellig, die verlossing wat ek en jy vandag kan smaak.

Maar nie alleen het Jesus vir ons die verlossing kom bring nie - ons het boonop die Heilige Gees gekry! Dit is deur die toedoen van die Heilige Gees dat ons kan glo, die Bybel kan bestudeer en met God in gesprek kan tree. O baie, baie spesiaal is ek en jy beslis! Ons is baie meer bevoorreg as selfs die grootste profete van ouds, en selfs nog meer as die engele.

Ons is inderdáád Koningskinders!

Gebed:

Dankie Here, dat U my so spesiaal gemaak het, en dat ek vandag kan weet dat ek ‘n Koningskind is. Help my asseblief om soos een te leef!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026