Kleipotte en E-posse

3 May, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Kleipotte en E-posse

2 Timoteus 2:19-21

Ons het ’n paar dae gelede gepraat van daardie e-posse wat so op jou emosies wil speel en jou skuldig wil laat voel as jy dit nie aanstuur nie. Daar is wel dikwels gedeeltes van daardie e-posse wat goed is om met ander te kan deel. “Spoeg en plak” net die gedeelte wat die Here jou op die hart lê op ‘n nuwe e-pos, en stuur dit só aan diegene met wie jy dit wil deel. Sodoende raak jy ontslae van al die kwaadwillige aanhangsels, en verneuk jy die duiwel. Maar jy moet seker maak van die inhoud van die boodskappies wat jy aanstuur: sommige is werklik Skrifgefundeer en baie opbouend. Ander is weer net mooi, soetsappige rympies wat jou net goed laat voel.

In ‘n mate is hulle soos kleipotte. My Mosbolletjie is lief om kleipotte te koop by die stalletjies langs die pad. Gewoonlik beland hulle êrens in ons tuin. Daar is kleipotte wat nou al jare se wind en weer deurstaan het, en steeds mooi lyk. Maar ander sal net ‘n maand of wat hou, dan begin hy verkrummel, en uiteindelik verdwyn hy so stuk-stuk soos die miere hom wegdra. Ander weer disintegreer as die kat net teen hom skuur. Toets die e-pos, of hy werklik soos ‘n goedgebakte kleipot is wat jare lank die boodskap sal uitdra. Ek kry dikwels e-posse van mense, en dan herken ek dit as een wat ek self al jare gelede uitgestuur het. Dan wonder ek hoeveel duisende mense dalk al daardie possie gelees en versterk geraak het daardeur!

En dit is presies ook waaroor Paulus skryf in vanoggend se Skrifgedeelte. Nee, dit was beslis nie e-pos nie, want Paulus het nie ‘n rekenaar in die tronk gehad nie. Hierdie gedeelte handel oor die kwaliteit van jou lewenswandel. Hy beskryf die dinge wat jy in jou huis kry. Party is sommer alledaagse kleipotte, en ander is weer pragtige silwer eetgerei. Daar is dinge van goedkoop hout maar ook mooi goeters van suiwer goud. Daar is plêstiek borde wat jy koop teen tiensent-’n-dosyn, en héél bo op die rak is die borde van fyn porselein uitgestal vir "highdays & holidays."

Die Here ken dié wat aan Hom behoort,” skryf Paulus in vers 19. Natúúrlik weet Hy ook dat ons nie almal dieselfde is nie, en Hy wil ons gebruik volgens ons eie vaardigheid. Hý is immers die Een wat ons verskillende talente gegee het. Die fyn porseleinborde word slegs afgestof vir ‘n maaltyd saam met belangrike gaste. Die plastiekborde, daarenteen, word weer uitgehaal wanneer ons vir ‘n heerlike piekniek iewers in die veld gaan. Hulle is dus ewe belangrik, elkeen op sy eie terrein. Jy gaan mos tog nie porseleinborde op ‘n piekniek gebruik nie, en vir grênd gaste gaan jy nie plêstiekborde voorsit nie!

Moenie jouself as minderwaardig ag, net omdat jy dalk nié sulke gesofistikeerde talente gekry het as iemand anders nie. Die ou wat die vloere vee se taak is nét so belangrik as dié van die prediker. Stel jou voor dat jy Sondagoggend in die pragtige kerkgebou instap, jou hart ingestel op aanbidding en lofsang en ‘n boodskap van die Here. Maar sommer met die intrapslag staan die stofdampe op die vloer omdat dit weke laas gevee is. Die kerkbank is stowwerig en jou deftige klere smeer vuil. Teen die plafon hang stokou spinnerakke, en alles is sommer vuil. Daardie erediens gaan vir jou ‘n totale mislukking wees, want jy gaan die hele tyd sit en tob oor die vloereveër wat nooit sy werk gedoen het nie.

Laat my dink aan die storietjie van Ferdinand Deist oor die pomporrel konsert, waar die orrelis neergesien het op die koster wat die orrel moes pomp. En toe hou die koster op om te pomp, en die orreluitvoering sis tot ‘n stille einde. Eers toe die orrelis die nodige erkenning gegee het aan die koster en erken dat dit gesamentlik húlle konsert was, kon die uitvoering voortgaan.

Ja elkeen van ons is belangrik, maak nie saak hoe gering jou bydraetjie lyk nie. Daar is egter ook ‘n ander element wat bykom. As ons weer kyk na die kleipotte, dan sien ons dat sekere kansvatters wat ‘n vinnige pennie wil maak, sommer daar langs die pad uit ‘n moddergat klei gaan haal om potte mee te maak. Dáárdie is die potte wat kort voor lank mierekos word! Hulle is deurtrek van alle onsuiwerhede, en selfs al is hulle goed gebak, bly hulle bros en breekbaar. Ander pottebakkers doen egter groot moeite om klei te gaan soek wat suiwer en van goeie gehalte is. Hulle potte hou vir jare en jare.

In vers 19 skryf Paulus: Elkeen wat sê dat hy aan die Here behoort, moet wegbreek van ongeregtigheid.” Inderdaad is die Here die Pottebakker van jou lewe. Jy moet egter sorg dat jou klei van die beste gehalte is. Hoe meer onsuiwerhede van sonde in jou lewensklei is, hoe swakker gaan die gehalte van jou lewenspot wees. Dit gaan natúúrlik mos jou bruikbaarheid in die Koninkryk beïnvloed!

Moenie vir één oomblik twyfel dat God jou voorberei as ‘n bruikbare voorwerp om in Sy diens te staan nie. Juis dáárom is dit so belangrik dat jy veg teen enige kwaad, sodat die kwaliteit van jou “klei” die héél beste is, en jy vir jare lank steeds bruikbaar vir Hom kan wees.

Gebed:

Here, help my asseblief om my lewensklei suiwer te hou.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026
Lank Leef die Koning!
2 September, 2026