Romeine 6:12-23
Ou Klaas was maar ‘n sukkelaar, en dit het gelyk asof die ongeluk die arme kêrel bloots ry. Hy het nie baie geleenthede in sy lewe gehad nie, gevolglik het hy skaars verder as die onderste sportjie van die leer gekom, newwermaaind nog om die bopunt van dáái leer te bereik! Harde werker, ou Klaas, maar as 'n ding kon skeefloop dan hét dit skeefgeloop ten spyte van al sy moedigste pogings. Male sonder tal het hy sy werk verloor. Een slag omdat sy maters hom verlei het, en hy die oggend nog half gesuip by die werk opgedaag het. ‘n Ander keer het iemand hom by sy baas beskinder, en weereens was hy sy werk kwyt. Toe kry die ekonomie ‘n insinking, en vir die hóéveelste maal moes hy werkloos sit. Die laaste strooitjie was egter beurtkrag, en hulle fabriek word tot stilstand gedwing. Klaas was op moedverloor se vlakte. Hoe harder hy probeer het, hoe swaarder het dit gegaan.
Toe, op ‘n dag ontvang Klaas ‘n oproep van 'n prokureur. Eers wonder die arme kêrel watse soort moeilikheid hy hom dié slag in bevind, maar die man vertel hom dat sy oom, Ryk Piet, in sy boedel sy besigheid aan Klaas nagelaat het. Hy het Klaas jammer gekry oor al sy ongeluk, en 'n gevestigde maatskappy met groot potensiaal was Klaas s'n om oor te neem. Hy was in die wolke. Klaas het met groot trots die baas se luukse leerstoel ingeneem, en die geld het ingerol sonder dat hy ‘n vinger hoef te roer. Daar was genoeg geld om gereelde partytjies te gooi en selfs ‘n peperduur versameling whisky in sy kantoor aan te hou, net vir so ‘n ou knertsie deur die dag. Daar was altyd maar ‘n ou klankie van tiermelk in sy asem!
Maar mettertyd kom Klaas agter dat alles nie heeltemal so maklik gaan nie. Toe die winste kwaai begin daal, besef hy dat hy iets sou moes doen. Hy skryf in vir 'n kursus in besigheidsbestuur, en daar leer hy van bemarking, personeelbestuur, selfdissipline, persoonlike verhoudinge en nog baie dinge. Die besigheid was wel syne, en hy kon maak wat hy wou, maar om susksevol te wees, moes hy opofferings maak en bereid wees om hard te werk. Boonop het sy uitspattige lewe en sy verknogtheid aan duur whisky nie net vir hom nie, maar ook vir sy besigheid 'n slegte naam begin gee. As hy bo wou bly, het hy besef, sou hy hiermee moes breek!
In Klaas sien ons tipies die lewe van ‘n sondige mens - dalk ek of jy? Jy probeer so hard om die saligheid te verdien, maar hoe harder jy werk, hoe meer raak jy in die moeilikheid. En wanneer jy die dag besef dat jy totaal verlore is, kom God uit sy groot genade en Hy red jou sonder dat jy dit verdien.
Dit is op hierdie stadium waar baie “baba-Christene” lelik struikel, bloot omdat hulle nie van mede-gelowiges die nodige ondersteuning kry nie. Ja, inderdaad het sy lewe verander, en hy leef nou onder die genade van God, maar dat dinge altyd seepglad verloop, is ‘n mite! As ‘n mens ’n waarlik betekenisvolle geloofslewe wil lei, wag daar vir jou harde werk voor. Die eerste stap is om jouself te bekwaam vir die verantwoordelikheid wat nou op jou skouers lê. Ja, inderdaad het jy nou ‘n groot taak, want as gelowige kan jy nie maar rustig terugsit nie! Die koninkryk van God het elkeen van sy burgers nodig. Dit is nie engele wat die Koninkryk uitbrei nie, maar doodgewone gelowiges! As jy in die duister is oor wat om te doen, gaan dit ook maar sukkel-sukkel, dus is dit noodsaaklik dat jy die Woord leer ken. Bybelstudie, kursusse, seminare, kerkbywoning, selgroepe - dit is alles maniere om jouself te bekwaam vir die taak.
Die tweede baie belangrike faktor is dat jy moet breek met sonde. Jy leer natuurlik wat sonde is deur die studie wat jy doen van die Woord. Die volgende stap is om dít wat jy geleer het dan prakties toe te pas. Dit help niks as jy al die kennis het en bly voortploeter in die sonde nie, want dan bly hang jy as’t ware op die randjie van die dood. “Die loon wat die sonde gee, is die dood,” skryf Paulus in Rom. 6:23. En as jy daarin bly voortleef, daal jy al laer en laer, totdat jy uiteindelik weer presies is waar jy was voor jou bekering. Wél nog 'n kind in die geloof maar onbruikbaar vir God!
As jy egter bereid is om skouer aan die wiel te sit, begin jy agterkom dat die genade van God vir jou al hoe groter en groter begin word. Soos wat jy meer en meer van jouself gee, kom jy met verbasing agter dat jy terug ontvang van God af, talle male meer as wat jy self gee. Eers dán word die res van Paulus se woorde in Rom. 6:23 vir jou duidelik: “Die loon wat die sonde gee, is (wel) die dood, (maar) die genadegawe wat God gee, is die ewige lewe in Christus Jesus ons Here.” As God dan vir ons daardie reuse geskenk van die ewige lewe gegee het, sal ons nie ook óns alles gee vir Hom uit dankbaarheid daarvoor nie? En die bonus is dat ons sélf ook verryk word in die proses! En onthou: die Heilige Gees is daar vir ons om ons deur al hierdie dinge te lei en krag te gee! Laat Hom toe om dit te doen!
Gebed:
Here, U genade oor my is so groot! Gee my asseblief die wil en ywer om alles in te sit, en ‘n nuttige burger van U koninkryk te wees!