Kain se Nageslag

23 October, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Kain se Nageslag

Genesis 4:17-24

Kain het ‘n vrou gekry en hy het ‘n nageslag gehad. So lees ons in Genesis 4:17. Hierdie enkele sinnetjie het menige mense al laat kopkrap. Waar het hy ‘n vrou vandaan gekry? Sommige mense beweer dat hy met sy suster getrou het. Dit word egter nêrens in die Bybel gemeld nie, dus kan ons nie sê dat dit Skrifgetrou is nie en ook nie getrou aan ‘n historiese hantering van die teks nie.

Ons moet baie mooi verstaan dat die Bybel nooit bedoel het om die geskiedenis weer te gee nie. Ons mag dus ook nie meer in hierdie versie probeer lees as wat hier geskryf is nie. As ons gaan begin met allerhande teorieë hieroor, is dit alles suiwer spekulasie. Ons weet net eenvoudig nie waar Kain sy vrou gekry het nie.

Genesis 4:17 begin met ‘n familiestamboom, soos wat dit gebruiklik was in die tyd toe Genesis op skrif gestel was. Hierdie stamboom is nie maar net ‘n lys van name en nogmaals name nie. Dit vertel ‘n verhaal, die verhaal van die genade van God, in die eerste plek. Kain het geval, maar ten spyte daarvan gee God hom ‘n nageslag. Daar is selfs ontwikkeling in sy nageslag. Ons sien egter ook hoedat Kain se sonde deurslaan na sy afstammelinge.

Wanneer ons so vinnig deur die name lees, sien ons hoedat ontwikkeling plaasvind van ‘n primitiewe mens tot vakmanne wat yster en koper bewerk en selfs musikante. Ons moet egter onthou dat hierdie slegs ‘n vinnige oorsig is oor die ontwikkeling van die mense wat strek oor duisende jare. Dit is nie ‘n ontwikkeling wat eensklaps plaasvind nie.

Ons sien ‘n beskawing wat begin ontwikkel op alle terreine van die lewe. Dit begin by landbou en weldra begin hulle met die bou van stede. Kain was alreeds die eerste om ‘n stad te begin bou. Natuurlik het al hierdie ontwikkeling vereis dat mense begin om gereedskap te ontwerp.

Ook op die terrein van die kunste het daar ontwikkeling gekom. ‘n Beskawing verhoog jou lewenskwaliteit, en daarmee saam kom natuurlik ook die mooi en fynere dingetjies in die lewe. Vir daardie mense het dit nie bloot net gegaan om oorlewing nie, daar was die behoefte om hulle kunste uit te leef. Ten spyte daarvan dat Kain onder God se vloek moes leef oor sy sonde, is God se genade só groot dat Hy vir Kain se nageslag ‘n kunssinnigheid gegee het. So het dit gekom dat Jubal en sy afstammelinge musiekinstrumente ontwerp het, soos die fluit en die lier, om sodoende hulle kuns te kon uitleef.

Ons moet dus sê dat deel van God se gawes aan die mensdom was om te kon ontwikkel in kuns en kultuur, maar terselfdertyd ook in vakgebied sodat hulle kundigheid kon bemeester op vele terreine.

Ongelukkig was daar ook die negatiewe sy van al hierdie ontwikkeling. Dit het begin by Lameg, Kain se agterkleinseun. Hy het besluit dat een vrou vir hom nie genoeg is nie, en toe neem hy ‘n tweede vrou. Dalk was hierdie slegs die simptoom van wat werklik in Lameg se binneste aangegaan het. Ons sien hom as ‘n verwaande, arrogante man wat by sy twee vrouens spog oor sy vermoëns. By hom is daar absoluut niks van die genade te bespeur wat God gee nie. Hy is totaal genadeloos en van vergifnis is daar géén sprake nie.

Lameg sing vir sy vrouens: “Ek maak ‘n man dood wat my wond, en ‘n seun wat my seermaak. Kain sal sewe maal gewreek word, maar Lameg sewe en sewentig maal!”

Wraak, vergelding, onvergewensgesindheid, dit word deel van Lameg se lewe. God word totaal buite rekening gelaat, en hy neem die volle reg in sy eie hande. Later word hierdie soort bloedwraak ‘n algemene ding, en as iemand te-na gekom is, wreek hy hom nie alleen op daardie persoon wat hom die onreg aangedoen het nie, maar die hele familie van die man. Hy word sewe en sewentig maal gewreek!

Wanneer Jesus ‘n paar duisend jaar later gekonfronteer word oor vergifnis, gryp Hy terug na Lameg se uitlating. Hy sê egter nie vir Petrus dat jy sewe en sewentig maal moet vergewe nie, maar sewentig maal sewe keer! (Matt. 12:22)

Die ongelowige Lameg het ‘n lewenspatroon gehad van geweld en liefdeloosheid. Hy was nie die laaste nie. Ons sien dit telkemale in die geskiedenis opgeteken. Mense soos die goddelose Agab en Isebel, Herodus die Grote en sy goddelose seuns, Nero en nog vele ander.

Teenoor dit staan die lewenspatroon van die gelowige. ‘n Christen-gelowige het ‘n totaal andersoortige lewe wat vir ons iets vertel van ‘n lewe wat herskep is. Dit beeld iets uit van die genade en liefde wat God openbaar. Dit is presies die teenoorgestelde as die lewens van die Lameg’s en dit is gebasseer op liefde en vergewensgesindheid.

Wanneer ons die familiestamboom van Kain lees, sien ons ‘n stygende lyn van verval wat begin by die sondeval in die Tuin van Eden. Dit loop deur Kain en sy nageslag en dit bereik ‘n hoogtepunt in die wrede Lameg. Hierdie is die opbou na die groot klimaks wat bereik word in Genesis 6 waar ons die verhaal van Noag lees. Dit dien dus as ‘n aanloop om te wys dat die mensdom totaal korrup geword het. Dit het vir die Heilige God groot pyn veroorsaak oor die kroon van Sy skepping. God het dus nie ‘n ander keuse gehad as om drasties op te tree nie.

Gebed:

Here, dit maak baie seer om te sien hoedat die mensdom verval het. Ook vandag sien ons dit. Ek sien reikhalsend uit na U wederkoms.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026