Josef in die Put

30 January, 2023
Luister Na Hierdie Dagstukkie Josef in die Put

Genesis 37:12-36

VIDEO * OUDIO

Die verhoog word opgestel vir ‘n toneelstuk propvol intriges. Net - dit is nie ‘n toneelstuk nie, maar ‘n verhaal met regte mense, en dit laat jou hare regop staan! In die hoofrol, die snuiter wat sy broers verklik het en homself boonop aanstellerig hou oor sy hele familie. Sy neus-in-die-lug houding begin maak dat niemand meer van hom hou nie, dat selfs sy eie broers hom haat met ‘n passie.

Jakob se seuns het baie ver gaan wei met die vee. Dit is nou ál sy seuns buiten die witbroodjie Josef. Waarom hy nie saam met hulle is nie, kan ons maar net raai. Is dit omdat hy homself nie wou verwerdig om saam met hulle in die veld te wees nie, of is dit omdat Pa Jakob hom voorgetrek het?

Die seuns is in die omgewing van Sigem met die vee. Jakob is bekommerd, want dit is mos in Sigem waar sy seuns die manne wat hulle suster Dina verkrag het, uitgemoor het. Die inwoners van Sigem is steeds bitter omgekrap oor hulle optrede, en daar kan nét moeilikheid kom. Einde ten laaste word Josef gestuur om te gaan kyk of dit darem nog goed gaan met sy broers.

Wanneer Josef by Sigem kom, is hulle nêrens te vinde nie. Op navraag verneem Josef dat hulle na Dotan is, en Josef vertrek verder op sy reis. Nou is hy alreeds ‘n honderd kilometer van sy huis in Hebron af.

Jakob se seuns sit by hulle skape onder ‘n koelteboom. “Kyk nou net wie kom daar aangewals”, merk een van hulle verbaas op. “Daardie klere sal ek oral herken!” Josef is nog baie ver as hulle hom sien, en onmiddellik styg die humeure. “Wat kom maak hy hier? Kom spioeneer hy alweer op ons? Ek voel sommer lus en sny hom keelaf!" Die idee begin posvat onder die manne. “Kom ons raak vir goed van hom ontslae, ons het nie sy soort nodig nie!” Jy sukkel nie met Jakob se seuns nie. Hulle het al bewys dat iemand wat hulle te na kom beslis tweede-beste daarvan gaan afkom!

“Haai, luister ouens, hy is darem ons broer! Ons kan hom mos nie net so staan en elimineer nie!” Ruben se gewete pla hom. Hy het hoeka al so ‘n skande oor die familie gebring toe hy sy pa se slavin-vrou verlei het. Hy wil nie nou nog ‘n broeder-moord ook op sy gewete hê nie. Maar die manne lag hom uit: “Het jy nou sag in die kop geword Ruben?” Ruben wil nog protesteer, maar dan dink hy aan ‘n plan om sy klein boetie te red: “Kom ons gooi hom in daardie droë put,” stel hy voor. “Daar sal hy nooit lewendig uitkom nie!” So ‘n put was gewoonlik bottelvormig, met ‘n klein opening bo, waarop ‘n klip geplaas is. As jy daarin sou beland is dit klaarpraat, want niemand kan daar uitklim sonder hulp nie. Ruben beplan om later, wanneer niemand hom sien nie, vir Josef te gaan red.

Maar dinge werk anders uit as wat hy of sy broers beplan het. ‘n Groep nomadiese handelaars kom verby, en skielik maak dit vir die manne nuwe vergesigte oop. “Kom ons verkoop hom! Dan is ons vir goed van die laspos ontslae, en dan kry ons darem nog geld vir hom ook!” Almal hou van die gedagte, en die Midianiete word nader gewink vir die transaksie. Josef behaal twintig silwerstukke, ‘n gangbare prys vir ‘n jong slaaf. Om ‘n familielid te verkoop as slaaf was daardie tyd as ‘n baie ernstige misdaad beskou, en dit het die doodstraf verdien. Maar dit het hierdie manne min gepla.

Josef se mooi klere word bemors met die bloed van ‘n skaaplam. Met lang gesigte kom sy broers ‘n week of twee later by Pa Jakob aan met die klere wat hulle "in die veld opgetel het”. Met gesigte wat drup van die onskuld, wil hulle by Pa Jakob weet: “Is dit nie dalk Josef s’n nie?”

Jakob is verpletter oor die dood van sy seun, sy liefling-seun. “Dit kon maar net ‘n roofdier gewees het,” snik hy. En sy seuns stem saam!

Tog snaaks hoe die geskiedenis homself herhaal: Jakob het sy pa bedrieg met ‘n bokkie, en nou bedrieg sy eie seuns hom weer met ‘n bokkie se bloed. Jakob kry sy eie medisyne terug. Sy seuns probeer hom skynheilig troos, maar hy is troosteloos. Sy seuntjie is opgevreet deur ‘n roofdier. Hoe afgryslik!

Intussen is Josef aan Potifar in Egipte verkoop. Kyk net hoe het ‘n reeks klein dingetjies van nuus aandra en aanmatigend optree, opgehoop tot ‘n reuse berg van ingewikkelde intriges. Geen intrige is eenvoudig nie, en dit is nie net een party wat skuldig is nie. Mense bewerk dikwels hulle eie ellendes.

Ons wil amper vra: “Maar hoe kon God toelaat dat hierdie verskriklike dinge met Josef en Jakob gebeur?” Om dit egter te verstaan, moet ons die hele verhaal lees soos dit oor baie jare sou ontvou. Die geheel prentjie maak dat ons in verwondering die asemrowende voorsiening van die Almagtige God sien, hoe Hy selfs verfoeilike menslike intriges laat werk het om Sy groot doel te bereik.

Ten spyte van Josef se aanvanklike snobisme en ten spyte van sy broers se haat, kom God in Sy groot genade en gebruik die netelige situasie júís uiteindelik om die hele gesin te red van ‘n gewisse hongerdood. God se genade werk baie anders as wat ons dikwels beplan!

Gebed:

Here, hierdie verhaal gevul met menslike intriges, laat ons maar net weereens besef dat U ten volle in beheer is, al lyk dinge vir ons soms so duister!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026