Johannes se Getuienis

22 February, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Johannes se Getuienis

Johannes 3:22-36

VIDEO OUDIO

‘n Feit wat ons dikwels totaal mis lees, is dat Jesus, net soos Johannes die Doper, ook mense gedoop het. In Johannes 3:22-26, vra iemand vir Johannes of hy bewus was daarvan dat sy “Opposisie” ook nou hierdie doop-ding doen? Mense het glo na Hom toe gestroom!

Hy het sékerlik gehoop om Johannes jaloers te maak, en toe het hy die twee teen mekaar afgespeel. Maar hy het nie met Johannes se lojaliteit teenoor Jesus rekening gehou nie en dit dan ook baie duidelik gemaak dat hy homself maar net as ‘n boodskapper gesien het. Sommige mense het dalk gedink dat Johannes die Christus was, maar hy het dit by herhaling heftig ontken. Hy was maar net voor die Christus uitgestuur. Hy het in elkgeval nie gedoop omdat hy gedink het dat hy beter as ander was nie, maar omdat God hom daardie opdrag gegee het. Hy het slegs God se opdragte uitgevoer.

Johannes het boonop al te deeglik besef dat Jesus waarlik die Christus was. Daarom was Jesus baie groter as hy. Hy moes dus minder word sodat Jesus, die Christus, verheerlik kon word. Dit was immers sy doel op aarde en dit is waarvoor hy gestuur was.

Elke gelowige, ek en jy ingesluit is ‘n gestuurde, net soos Johannes die Doper. Die Here het vir elkeen van ons ‘n uitgesoekte taak. Vir Johannes was dit om die pad vir Jesus gelyk te maak. Hy het dit met groot ywer uitgevoer. Die vraag is wat ek en jy maak met die taak wat die Here vir ons gee. Doen ons dit halfhartig, net uit pligsbesef? Of maak ons dalk soos die slaaf wat toevertrou was met die klomp geld - die een wat sy geld gaan begrawe het?

Die vraag wat mense dikwels vra is: “Wat is dan nou eintlik my taak?”

Ja, natuurlik is ons almal verskillend en natuurlik het elkeen ‘n ander opdrag van die Here. Die groot, oorkoepelende opdrag vind ons egter in Matteus 28:19, waar Jesus nie alleen die Apostels nie, maar saam met hulle ook elke gelowige die opdrag gee: “Gaan .... maak dissipels....” Dit beteken nie dat elkeen ‘n evangelis of ‘n sendeling moet wees nie. Maar dit beteken dat ek bereid moet wees om die taak wat ek gekry het om die uitbreiding van die Evangelie te bevorder, moet uitvoer so goed as wat ek kan, al is dit ook net om vloere te skrop! Een taak wat elkeen van ons het, is om liefde uit te leef op só ‘n manier dat dit ander mense honger maak vir die Evangelie.

In die volgende paar verse speel Johannes die Doper in sy antwoord die hemelse teenoor die aardse af. Hy maak in die eerste plek seker dat sy hoorders deeglik daarvan bewus is dat Jesus uit die hemel kom en dat Hy anders is as ons gewone aardlinge. Jesus, die Hemelse is natuurlik dan ook verhewe bo alle aardse dinge. Ons wil graag dinge uit ‘n eg-menslike oogpunt sien. Ons “praat die taal van die aarde” en wil dinge uitredeneer volgens gewone natuurwette. So is dit byvoorbeeld vir ons baie moeilik om te verstaan dat God se vergifnis totaal, allesomvattend is. Hoe is dit moontlik dat Hy maar net elke keer weer en weer kan vergewe? Ons probeer dit menslik beredeneer. Wat egter vir ons onmoontlik lyk, is by Hom moontlik.

Dalk is dit juis hierdie menslike redenasie wat gemaak het dat die Jode vir Jesus verwerp het. Hulle het die wonderwerke gesien en hulle het die wonderlike dinge wat Jesus gesê het met hulle eie ore gehoor. Maar omdat hulle dit menslik of aards wou uitredeneer, kon hulle dit net eenvoudig nie aanvaar nie. Jesus was die vergestalting van God op aarde, maar die Jode kon dit net eenvoudig nie glo nie. Hulle het die Messias vir hulleself baie anders voorgestel. Hy moes ‘n magtige heerser wees wat hulle sou verlos van die Romeine. Hier sien hulle egter ‘n Kneg wat kom doop en dien en mense gesond maak en met kindertjies speel!

Dan waarsku Johannes hulle: “God het Hom immers gestuur!” Wat daardie mense nie besef het nie, was dat hulle God in aksie gesien het. Al wat van hulle verwag was, was om dit wat hulle gesien het te glo en in die geloof God se aksie te aanvaar. Johannes herhaal hier Jesus se woorde aan Nikodemus van Joh. 3:16. “Wie in die Seun glo, het die ewige lewe”, maar hier is ook ‘n baie ernstige waarskuwing by: “wie egter aan die Seun ongehoorsaam is, sal die lewe nie sien nie, maar die straf van God bly op hom.” (Joh. 3:36). Om aan die Seun ongehoorsaam te wees, beteken om nie in Hom te glo nie. God alleen kan die ewige lewe gee, en Hy doen dit alleenlik deur geloof in sy Seun, Jesus Christus. Johannes wil doodseker maak dat nie alleen die Jode nie, maar die ganse wêreld vandag daardie boodskap begryp. Kom ons volg sy voorbeeld na en versprei die boodskap verder.

Gebed:

Here, help my asseblief om my opdrag om Jesus se Evangelie te versprei, met ywer uit te voer!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026