Johannes Gooi Tou Op

6 May, 2026
Luister Na Hierdie Dagstukkie Johannes Gooi Tou Op

Handelinge 13:13-43

VIDEO | SPOTIFY

Met hulle werk wat afgehandel is in Siprus, klim Paulus en sy geselskap op 'n skip en vaar na die vasteland. Hulle gaan aan wal in die hawestad Perge in Klein-Asië.

Dan tref 'n groot terugslag vir Paulus. Pas na hulle aankoms in Perge, kom die jong Johannes Markus na hom. “Oom Paulus, ek het besluit om om te draai.”

Paulus is geskok. Hy het gedink dat hierdie sendinguitreik vir die jong man van onskatbare waarde sou wees. Dink maar net hoe baie hy kon leer uit so 'n ondervinding! En nou wil hy omdraai nadat hulle maar pas begin het! “Waarom, Johannes? Wat is fout?”

“Hierdie soort sendingwerk is maar net nie vir my nie. Ek hou nie van hierdie soort rowwe lewe nie......”

Inderdáád is dit 'n rowwe lewe, want hulle kan nie bekostig om elke aand in 'n herberg te slaap nie. Die harde grond, onweer en swaarkry is elke dag deel van hulle lewe. En die ergste lê nog voor! Paulus probeer nog om vir Johannes Markus om te praat om 'n bietjie vas te byt, maar die kêrel het klaar sy besluit geneem! Terwyl daar nou 'n skip is wat teruggaan na Antiogië, gaan hy daarop klim en huistoe gaan. Paulus is bitter ongelukkig, want dit voel vir hom asof Johannes Markus hulle in die steek laat. Later sou hierdie insident nog lelike reperkussies hê, en veroorsaak dat Paulus en sy goeie vriend Barnabas se paadjies skei.

Wanneer jy op 'n sendinguitreik wil gaan, moet jy die koste baie goed bereken. En as jy nie eenhonderd persent seker is dat jy dit gaan maak nie, moet jy liewer by die huis bly. So 'n uitreik klink dikwels baie romanties en 'n reuse avontuur. Maar die harde werklikheid is dat dit dikwels bitter moeilik is.

Toe ons destyds na Mosambiek is, moes ek ook voor die tyd mooi besin of ek werklik kans sien vir die swaarkry. Ons moes op die grond slaap, en met my rug en heupe wat nie altyd wil saamwerk nie, sou dit 'n nagmerrie wees. Boonop was daar die vlieë, muskiete, versengende hitte, sand, stof, insekte, primitiewe geriewe, gebrek aan skoon water en nog baie meer! Sien ek kans daarvoor?

Die finale antwoord het gekom toe my selgroep my finansieel borg om te gaan. Ek het vasgebyt en bitter swaar gekry, veral toe my voete boonop opswel soos ballonne van die lang ry, en ek baie pyn moes verduur. Dit was nog baie erger as wat hulle dit vooraf vir ons beskryf het! Nou weet ek presies wat om te verwag, en as dit die Here se wil is, gaan ek beslis weer as die geleentheid hom voordoen! Al daardie swaarkry was deur en deur die moeite werd!

Ja, met ons eerste uitreik was daar óók mense wat op die laaste nippertjie kop uitgetrek het, en ek het hulle daarvoor kwalik geneem. Maar toe ons eers daar is, het ek deeglik besef dat hulle nie sou aanpas in die haglike omstandighede nie.

Van Perge af val Paulus en Barnabas in die pad. Hulle stap in 'n noordelike rigting na die stad Antiogië in Pisidië, een van die streke in die Romeinse provinsie Galasië.

By die eerste Sabbat gaan hulle reguit na die sinagoge en hulle word met ope arms ontvang. Soos die gewoonte is, word daar eers gelees uit die wet, en daarna word Paulus en Barnabas gevra of hulle dalk 'n woordjie van bemoediging vir die mense hier in die verre vreemde het.

Paulus gryp hierdie uitnodiging met albei hande aan. As daar 'n geleentheid is om die Evangelie te verkondig, waarom sal hy dit dan weier?

“Israeliete en Godvresendes, luister!” begin Paulus baie plegtig, en jy kan 'n speld hoor val, want hierdie man praat met groot gesag. En dan begin Paulus 'n lang betoog wat die mense hulle ore laat spits.

Terloops, die “Godvresendes” is mense uit ander volke wat die Joodse geloof aangeneem het. Wanneer Paulus sy toespraak hou, praat hy dus nie slegs met Jode nie, maar ook met mense uit 'n totaal ander agtergrond.

Hy begin om 'n oorsig te gee van die geskiedenis van Israel, want dit is baie belangrik om te weet waar alles ontstaan het. Sy geskiedenisoorsig eindig by Johannes die Doper. Dan vertel hy van Jesus, van Sy sterwe en opstanding. Hy neem Skrifbewyse uit die Ou Testament om te verduidelik waaroor dit gaan. Die goeie nuus is dat God se beloftes nou waar geword het. Alles het in vervulling gegaan!

Die mense is opgewonde oor dit wat hulle hoor, en hulle nooi die twee manne uit om die volgende Sabbat weer te kom praat. Hulle wil beslis meer weet oor hierdie dinge!

Baie van die mense wat daardie dag in die sinagoge was, het saam met Paulus en Barnabas gegaan. Die twee manne het lang gesprekke met hulle gehad en alles vir hulle verduidelik. Die twee was in die wolke! Skielik sien hulle dinge gebeur! Nou begin die sendingreis die moeite werd raak!

Gebed:

Here, maak my asseblief gewillig om te gaan wanneer U my stuur. Help my asseblief ook om die swaarkry wat dikwels saam met 'n opdrag gaan, met blydskap te kan verdra!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026