Jesus Word Verheerlik

1 March, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jesus Word Verheerlik

Matteus 17:1-8

Vir Johannes-hulle was dit harde werk en baie ontberinge om Jesus te volg. Dikwels moes hulle iewers onder die sterre op die harde grond slaap. Bedags moes hulle skares in toom hou en organiseer. Nogtans was dit alles ‘n reuse “avontuur” saam met die Messias. Maar toe begin hulle met groot kommer toekyk hoedat die donderwolke bokant hulle vorm! Die groot teenstand wat Jesus kry van die kerkleiers, maak hulle benoud. Daar kom al selfs doodsdreigemente! En skielik is dit nag as Jesus vir hulle vertel dat Hy in Jerusalem tereggestel gaan word. Simon is opstandig: “Mag God dit verhoed, Here! Dit sal beslis nie met U gebeur nie!” Hy verstaan nie. Hy word kwaai deur Jesus berispe. Dan verduidelik Jesus dat dit nie maklik is om Hom te volg nie. Dit kan soms ‘n bitter moeilike pad wees. Jy kan selfs die dood in die oë staar! Maar die uiteinde is alles deur en deur die moeite werd.

Simon voel afgehaal! Net ‘n dag of wat tevore nog was hy in die wolke, toe Simon dáárdie belydenis gemaak het dat Jesus die Christus, die Seun van die Lewende God is. Jesus het tóé vir hom gesê dat sy naam van nou af Petrus, die Rots sal wees. Hy het homself al klaar as die leier van die groep begin sien. En nou bring Jesus hom weer hard terug aarde toe.

Maar Simon, oftewel Petrus was nie die enigste wat al ‘n bietjie verhewe begin voel het nie. Johannes het sélf al ‘n bietjie neus-in-die-lug begin raak omdat hy een van die uitgesoektes was. Jesus moes dit agter gekom het, want Hy het vir hulle dit duidelik gestel dat as hulle Hom wou volg, moes hulle hulleself verloën en Sy kruis dra. Dis nederige werk!

Skaars ‘n week later roep Jesus vir Petrus, Jakobus en Johannes nader. Hulle drie moes saam met Hom teen ‘n berg opklim. Johannes het gewonder waaroor dit gaan, maar Jesus het nie ‘n woord gerep nie. Dit was ‘n verrassing. In doodse stilte stap Jesus vooruit. Die manne voel aan dat hier iets baie groot broei.

Dan, wanneer hulle bo is, gebeur die byna onbeskryflike, die gebeurtenis wat permanent in Johannes se geheue ingegrafeer is. Oopmond staar hy na sy Meester. Voor sy oë verander Jesus se hele gedaante. Sy gesig blink helder soos die son. Sy klere begin spierwit skitter sodat Johannes skaars na Jesus kon kyk.

Die volgende oomblik verskyn twee hemelse figure uit die niet. Onmiddellik weet Johannes net dat hulle die twee reuse uit die ou tyd is, Moses en Elia. Hulle het uit die hemel neergedaal om saam met Jesus te verkeer. Vir Johannes en die ander twee is hierdie asemrowende verskynsel een te veel. Hulle wil dit vir altyd so bewaar. Hulle wil selfs vir hulle hutte daar bou sodat hulle vir ewig daar kan bly.

Maar nog is dit het einde niet, want die volgende oomblik is daar ‘n skitterwit wolk bokant hulle, en uit die wolk kom die magtige stem van God: “Dit is My geliefde Seun oor wie Ek My verheug. Luister na Hom.”

Soos dooies val Johannes-hulle op die grond neer. Dit is uiters kosbare oomblikke! Maar die manne is gevul met angs. So bang is hulle, dat hulle nie eers wil kyk nie. Die Almagtige God het persoonlik met hulle gepraat!

Dan kom raak Jesus aan hulle: “Staan op, moenie bang wees nie.” As hulle hulle bevreesde oë oopmaak, is dit net hulle drie saam met Jesus.

Maar eers is daar ’n reuse taak om af te handel, want as dit nie tot die laaste druppel bloed uitgevoer word nie, is Jesus se koms op aarde nutteloos! Vir Jesus lê daar ‘n bitter moeilike pad voor, ‘n pad van lyding en vervolging, en aan die einde daarvan die afskuwelike kruisdood.

Wat die drie manne daardie oggend aanskou het, is slegs ‘n klein kykie in die toekoms, wanneer Jesus in heerlikheid op die troon sal sit. Die manne het wel die wonderwerke gesien wat Jesus gedoen het, en by ‘n paar geleenthede het hulle bely dat Hy die Seun van God is. Maar hierdie dinge het nog nie werklik vir hulle behoorlik ingesink nie. Hulle het Jesus so half as vanselfsprekend aanvaar as maar net nóg ‘n “vaal” Profeet. En dan, vir slegs ‘n enkele oomblik, kry hulle ‘n kykie in die hemel in, en hulle sien Jesus vir wie Hy werklik is, die ware, Lewende God! Moes dit dan nodig wees vir Jesus om Homself op só ‘n wyse te openbaar voordat hulle Hom werklik sou herken?

Ag, ons doen eintlik maar presies dieselfde! Al te dikwels aanvaar ons Jesus maar as vanselfsprekend. Hy is mos maar daar! Hy het so deel van ons alledaagse lewe geword, dat ons Hom nie meer herken as die Ware Lewende God nie. Ek kry dikwels diep seer as ek hoor hoe Christen-gelowiges verkleinerend of alledaags van Jesus praat. Dikwels word daar skertsend of selfs in ‘n grap na Hom verwys, wél in ‘n goeie sin. Maar met sulke soort opmerkings bring ons eintlik vir Jesus af na die vlak van die mens in ‘n slegte of vernederende sin. Ons moet altyd onthou WIE en WAT Hy werklik is. Hy is uiteraard God ALMAGTIG! Hy is die Koning van alle konings, die Skepper van die heelal!

Gebed:

Here Jesus, ek aanbid U as my Koning en my Here en my God. Al die lof en dank en aanbidding kom U alleen toe.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026