Jesus Word Gekruisig

26 September, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jesus Word Gekruisig

Matteus 27:32-44

Wat is die grootste gebeurlikheid in die ganse menslike geskiedenis? Sommige sal dalk reken dat dit die verskriklike vloed was wat die ganse menslike geslag uitgewis het, buiten die paartjies wat in Noag se ark oorgebly het. Ander sal weer sê dat dit die tweede wêreldoorlog was, want dit het die hele menslike bestaan totaal verander. Iemand kan dalk reken dat dit die dag was toe die eerste mens op die maan geloop het, want op daardie dag het die mensdom die hemelruim verower. 11 September en die tsoenami van ’n paar jaar gelede, of dalk die ramp in Japan ’n jaar gelede kon selfs ook in die prentjie kom. Iemand wat egter helder dink, sal eerder sê dat dit Jesus se geboorte was. Die koms van Jesus na die wêreld kan beslis gesien word as ‘n heugelike gebeurtenis!

Die heel grootste en mees verreikende gebeurtenis ooit in die ganse menslike geskiedenis was egter die gebeure 33 jaar later. Dit was die dinge wat tweeduisend jaar gelede op ’n warm koppie met die naam Golgota plaasgevind het. Op die oog af was dit maar ’n gewone gebeurtenis, waar ’n paar misdadigers tereggestel is. Dit was ‘n alledaagse gebeurtenis in daardie tyd. Die skokgolwe van daardie einste teregstelling word egter vandag, tweeduisend jaar later, steeds helder en duidelik gevoel, asof dit so pas plaasgevind het.

Nadat Jesus gegésel is, bespot en geslaan, was Sy kragte op ‘n einde. Hy kon skaars loop. Daar was egter nog ‘n volle kilometer se swaar klim oor tot bo op die Golgota-koppie waar die teregstelling sou plaasvind. Misdadigers moes sélf hulle kruis, of moontlik net die swaar dwarsbalk van die kruis teen die koppie op dra. Jesus was egter reeds so swak dat Hy nie in staat was om dit te dra nie. Daarom kommandeer die soldate vir Simon, waarskynlik ‘n proseliet uit die stad Sirene in die huidige Libië, Noord Afrika om Jesus se kruis te dra. Hy was maar net hier vir die Paasfees, en nou het hy géén ander keuse nie as om deel te word van Jesus se kruisiging. As ‘n Romeinse soldaat jou beveel om iets te doen, mag jy nie weier nie!

Hierdie was seker die langste kilometer in die wêreld se geskiedenis. Jaarliks, gedurende Paasfees loop miljoene mense hierdie paadjie steeds as pelgrimstog, die moeisame laaste kilometer van Jesus as (gewone) mens op aarde. Voor Hom doem die afskuwelike “Kopbeenplek” op, en Hy wéét dat die grootste foltering óóit daar op Hom wag. Die soldate gee vir Hom ‘n brousel van wyn en gal om te drink. Hy weier hierdie sarkastiese daad van “barmhartigheid.” Was dit uit gevoelloosheid en minagting wat hulle dit vir Hom wou gee? Vergelyk dit met Psalm 69:22, waar die lydende kos en water vra, en hy gif en asyn kry. Gee hulle hier vir Jesus gif om Sy Lyding te vererger? Of is dit dalk ‘n dwelm uit medelye met Hom? Ons kan maar net gis.

Dan kom die verdere vernedering as die klere van Sy lyf afgepluk word, en Hy in skaamte, kaal daar moet staan voor al die mense. Sy klere word as buit onder die soldate verdeel.

Watter verskriklike angs moes daar nie deur Jesus se gemoed gegaan het toe die man met die hamer en spykers naderstaan nie. Met ‘n grynslag op sy rowwe gesig, neem die soldaat ‘n ruwe ysterspyker, en hardhandig word dit deur Jesus se hand gekap teen die kruishout vas. Dit was nie deur Sy handpalm, soos ons tradisioneel op prente sien nie, maar deur Sy polse, wat die marteling vererger. Hy krul van die ondraaglike pyn, maar daar is géén genade nie. As die hand behoorlik vasgekap is, word Sy ander hand vasgespyker, en Sy voete. Kan jy jou die skreeuende pyn voorstel as ’n ruwe ysterspyker deur jou voete gekap word? Bloed stroom uit die wonde. Sy kopvel brand soos vuur waar die gif van die doringkroon Hom pynig. Sy rug is een groot rou wond, waar stukke vleis uitgeruk is deur die gésel. So, gemartel tot die dood toe, word Jesus opgehys teen die kruis. Hy word gespot en uitgejou, selfs deur die ander gekruisigdes.

Maar daar is ‘n verdere vernedering: Hy is nie alleen daar nie, maar Hy word tussen twee misdadigers, twee rowers opgehang. Wou die soldate dalk hiermee sê dat Hy die Koning van die sondaars, die misdadigers is? Daar was immers ‘n bordjie teen Sy kruis vasgespyker wat sê dat Hy die Koning van die Jode is.

Hoe ironies is dit nie, dat dit juis híér is waar Hy tuishoort, tussen sondaars. Hy het immers júís gekom om vir sondaars te kom ly en sterf. Hoeveel maal het Hy nie in Sy lewe saam met die sondaars, die gehates, die uitgeworpenes feesgevier, gesels, gekuier nie. Sou Hy dit nou, in Sy laaste uur anders wou hê? Tot die fynste detail het die soldate presies in God se hand gespeel.

Hierdie afgryslike gebeure was egter nog maar net die voorspel tot die grootste verskrikking óóit wat later op Jesus wag. Daarvan lees ons DV. more.

Gebed:

Here, ek huil vanoggend as ek die beelde voor my geestesoog oproep van die verskriklike lyding wat U moes deurmaak daar op Golgota - alles vir my, Here, sodat ek die verskriklike straf van die hel kan vryspring.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026