Jesus Was Vuil Voete!

19 April, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jesus Was Vuil Voete!

Johannes 13:1-17

VIDEO * OUDIO

Die Johannes Evangelie bestaan uit drie onderafdelings. Hoofstuk 1-12 handel oor Jesus se werk op aarde, Sy openbare optrede. Die boodskap wat Johannes hierin wou tuisbring, is dat wie in Jesus glo, die ewige lewe het. Vandag begin ons by die tweede deel, hoofstuk 13-17 wat gaan oor die laaste paar uur wat Jesus saam met Sy dissipels gehad het voordat Hy gevange geneem is. Die derde deel, Hoofstuk 18-20 handel oor Sy kruisiging en wat daarna volg.

Ons tref Jesus nou aan saam met Sy volgelinge waar hulle saam ‘n maaltyd nuttig. Jesus se laaste ure as mens het aangebreek en Sy intieme kring manne is vir Hom baie belangrik, dus bring Hy dit met hulle deur en verseker hulle dat Hy hulle vir altyd sal versorg.

Die finale stap van God se groot verlossingsplan het aangebreek. Johannes skets in ‘n paar woorde die agtergrond van wat op pad was om te gebeur. Hy vertel van Jesus se liefde vir die wêreld wat so oneindig groot was, dat Hy tot alle uiterstes sou gaan. In die teenpool grynslag die duiwel, hard besig om God se plan te probeer verongeluk. In die proses speel hy egter direk in God se hand! Johannes maak dit ook baie duidelik dat Jesus van God af kom, dus is Hy die Een met alle mag en heerlikheid!

Die toneel is ‘n tipiese Oosterse maaltyd, waar almal uitgestrek lê in ’n ry rondom die tafel. Jy kan jou dus voorstel dat die een se voete maar ongemaklik naby die volgende se gesig was! Hulle oop leersandale het nie die vuil van die stowwerige straatjies van hulle voete afgehou nie, dus was dit noodsaaklik dat gaste aan tafel se voete eers gewas moes word. Dit was die slaaf se grillerige taak en as daar nie een was nie, het die persoon met die héél laagste status die voorreg gekry om hierdie onaangename takie af te handel - gewoonlik die vrou in die huis.

Wanneer Jesus, hulle Leermeester dus ‘n handdoek om Sy lyf bind en die wasskottel vat, snak die manne na hulle asems! Dit word net eenvoudig nie gedoen nie! Onwillig en sékerlik uiters ongemaklik, hou die manne hulle voete uit. Maar Petrus weier soos ‘n steeks donkie: “Nooit in der ewigheid nie!”

Ai tóg! Petrus was maar altyd dwars van die gereg! Hierdie slag het hy gesien hoedat sy Meester verneder word om slaaf te speel en Petrus wou géén deel hê aan sy Rabbi se vernedering nie. Dit het beteken dat Jesus maar eers weer mooi moes verduidelik sodat Petrus kon verstaan. Skielik het daar vir Petrus ‘n liggie (‘n baie klein liggie!) opgegaan. Hy besluit dat as Jesus wou was, dan moes Hy asseblief sommer sy héle lyf was! En weereens moes Jesus baie mooi verduidelik dat dit nie nodig was nie.

Jesus se handeling het gedemonstreer dat ons, Sy volgelinge se waardesisteme totaal verskil van dié van die wêreld. Eintlik het Hy daardie dag ons waardestelsels totaal omvergegooi! God se liefde en mag lê júís in opoffering en nederigheid. Hier het Hy, die Seun van God, Skepper van die heelal en Opperste Heerser dit prakties kom demonstreer deur sélf Slaaf te word en die nederigste van alle werke te kom doen!

Wat wou Jesus daardie dag vir Sy volgelinge sê?

Twee gedagtes kom na vore. Eerstens dat die voetwassery simbolies was van ons vuil sondige verlede wat skoongewas word deur Jesus. “As ek jou nie was nie, het jy nie deel aan My nie,” het Jesus vir Petrus gesê. Om enigsins deel te kan hê aan Jesus, móét ons toelaat dat Hy ons sondes afwas. Hoe doen Hy dit? Hy het die volle straf gedra vir ons sondes met Sy kruisdood op Golgota. Ons moet hierdie geskenk van vergifnis aanvaar en ons eie maak, dan is ons outomaties skoongewas.

Tweedens moet ons Jesus se voorbeeld navolg. As Hy, wat so hoog bo ons verhewe is, bereid was om die nederigste werk te doen, moet ons ook bereid wees om die minste te wees. Dit is nie maklik nie! Toe Adriaan Vlok destyds Desmond Tutu se voete gewas het, het die wêreld hom uitgelag en gespot. Dit was ‘n bitter vernederende simboliese handeling. Maar daardeur het hy baie rou wonde van oorheersing en baasskap genees.

Ons moet dit baie duidelik besef, dat jou lewe drasties verander die dag wanneer jy Jesus se vergifnis en verlossing ontvang. Dis egter maar net die begin. Hierna moet jy Jesus se voorbeeld navolg - jy kan nie maar gaan sit en ontspan nie! Jesus demonstreer dit dan ook baie duidelik dat een van die maniere waarop ons Hom moet volg, is om ook daardie selfde opofferende diens aan mekaar te bewys soos wat Hy gedoen het. Ja, ons wil almal graag leiers wees en die dinge doen wat edel en aanskoulik is. Min gelowiges sien egter kans vir die “vuil werk” - die dinge wat vernederend is om te doen. Om op ‘n parkbankie langs ‘n vuil, stinkende boemelaar te gaan sit en sommer net te gesels, is darem baie ver onder my waardigheid. Hoe ver is ek en jy bereid om te daal sodat Jesus, die Koning, verheerlik kan word?

Gebed:

Here, ek bely dat ek nog so styf vasklou aan my waardigheid. Help my asseblief om U wonderlike voorbeeld na te volg.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026