Jesus voor Pilatus

6 December, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jesus voor Pilatus

Lukas 23:1-7

VIDEO OUDIO

Die Joodse Raad staan soos een man op en neem Jesus van Kajafas se huis af na die ander uiteinde van die stad, na Pontius Pilatus. Die Romeine moet Hom maar liewer verhoor want die Joodse Raad het nie die mag gehad om Hom die doodstraf op te lê nie. Die enigste manier om vir goed van Jesus ontslae te raak, sou wees om Hom vir die Romeine te gooi!

Hierdie manne moes baie desperaat gewees het, want hulle het nou nie juis ooghare gehad vir Pilatus nie. Herodus was natuurlik nog koning oor die provinsie Galilea, maar in plaas daarvan om ‘n koning aan te stel in Judea, het Rome besluit dat dit beter sou wees om daar eerder ‘n Prokurator of Prefek in beheer te sit. So is Pilatus dan in 26nC daar aangestel. Hy was nou nie juis die Jode se liefling nie! Hy was hard, gevoelloos en gierig. Per geleentheid het hy ‘n waterleiding na Jerusalem gebou, en toe verwag hy van die ryk Jode om te help betaal. Toe hulle weier, het hy summier die geld uit die skatkis in die tempel laat haal! Natuurlik het die Jode in opstand gekom en toe gee Pilatus sy soldate opdrag om hulleself te vermom en tussen die oproeriges in te sypel. Daar het hulle die niksvermoedende mense met knuppels aangeval. Talle mense is daardie dag doodgeslaan of doodgetrap in die warboel!

Dit is dus ironies dat die Joodse Raad hulle tot Pilatus gewend het vir hulp om van Jesus ontslae te raak. Hulle aanvanklike aanklag teen Jesus was natuurlik Godsdienstig van aard. Hy het Homself beskou as die Seun van God en dit was volgens hulle Godslastering! By Pilatus kom hulle egter met ‘n héél ander storie want hy sou hulle net uitgelag het as hulle met daardie soort van klag by hom aangeklop het. Skielik het hulle aanklag ‘n sterk politieke kleur gekry. Hulle klag lui so:

1. Jesus het die volk opgehits oftewel mislei.

2. Hy het die volk belet om belasting te betaal.

3. Hy het beweer dat Hy die Christus, die koning is.

Op die eerste aanklag het Pilatus seker maar net sy kop geskud, want wanneer het Jesus ooit die volk opgehits? Die naaste aan ophitsing waarvan ons weet, is toe Hy hierdie manne wat hom verhoor het ‘n spul giftige slange genoem het!

Ook die tweede klag was absoluut lagwekkend, want Jesus het presies die teenoorgestelde gesê as wat hulle beweer het. In Lukas 20:20-26 lees ons dat die skrifgeleerdes vir Jesus probeer vastrek het op die vraag van belasting, en dat Sy antwoord aan hulle was: “Gee aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.” Duideliker kon Hy dit nie gestel het nie, dat ‘n mens jou belasting maar moet betaal, want dit is reg. Waar het hulle dus aan hierdie leuen gekom? Net hulle sou weet.....

Aanklag nommer drie was egter iets totaal anders, en ek dink nie dat Pilatus mooi geweet het wat om met hierdie klag te maak nie, want eintlik was dit Godsdienstig van aard, en dus totaal buite sy veld van kennis. Hy vra dus vir Jesus: “Is jy die koning van die Jode?” Hierop het Jesus eintlik ‘n baie ontwykende antwoord gegee. Jy sal onthou dat Jesus reg deur Sy bediening baie vaag was teenoor die volk oor Sy ware identiteit. Teenoor die binnekring dissipels was Hy egter meer reguit.

Pilatus het dus geen ander keuse gehad as om Jesus onskuldig te bevind nie. Op géén enkele aanklag wat die manne voor hom gelê het, kon Pilatus enige waarheid vind nie. Maar toe begin die manne benoud raak omdat hulle gesien het dat die ganse verhoor besig was om deur hulle vingers te glip. “Maar Hy stook die ganse volk op met sy leer,” het hulle by Pilatus aangedring. Hulle pleit by hom om asseblieftog net nie na al hulle moeite hierdie saak van die rol te skrap nie!

Skielik vang Pilatus se oor die woordjie Galilea. “Kom Hy van Galilea af?” wou hy weet. As dit die geval was, dan was Hy mos onder Herodus se jurisdiksie! Pilatus hetn groot sug van verligting geslaak. Herodus kon maar met hierdie tamaletjie opgeskeep sit! Dankie-tog! Nou was dit uit sy hande uit!

Pilatus het al die mag gehad om hierdie verhoor net daar kort te knip en Jesus vry te laat, maar hierdie magtige man was te papbroekig om hierdie besluit, wat die waarheid sou laat seëvier te neem.

Ons wil graag vir Pilatus daaroor veroordeel, maar die feit is dat ons dikwels in dieselfde soort situasie beland, en dan doen ons presies wat Pilatus gedoen het. Sodra ons onseker begin raak, skuif ons liewer die probleem oor na iemand anders.

Daar is egter ‘n ander saak: Pilatus het presies gedoen wat God wou hê dat hy moes doen, want as Pilatus daardie dag sy man gestaan het, sou die geskiedenis dalk tragies anders verloop het, en sou ek en jy nie die vryspraak kon kry wat God daardie donker dag vir ons bewerkstellig het nie. Ja, Hy het selfs die Goddelose Pilatus gebruik om Sy doel te bereik!

Gebed:

O Here, die gebeure daardie dag maak my diep seer, maar ek besef dat alles so moes gebeur vir my vryspraak. Dankie Here!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026