Jesus se Taak Begin

29 July, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jesus se Taak Begin

Markus 1:12-20

VIDEO * OUDIO

Wat het Moses, Elia en Johannes in gemeen? Almal het ‘n woestyntydperk beleef. Moses was vir veertig dae op die berg gewees en Elia het vir veertig dae lank deur die woestyn geloop sonder kos. Johannes die Doper het sommer permanent in die woestyn gaan bly! Vir hierdie mense was die stilte en eensaamheid van die woestyn of berg ‘n kosbare tyd om God waarlik te leer ken en te leer om alleen op Hom te vertrou. Deur die swaarkry het hulle geestelik gegroei en sterk geword vir die taak wat hulle moes uitvoer.

Maar Jesus? Hy is mos God? Waarom sou Hy dit nodig hê? Ons mag nooit vergeet dat Jesus ook tegelykertyd ‘n ware mens was wat dieselfde dinge ervaar het wat ‘n gewone mens ervaar. Om waarlik Sy taak met welslae te kon deurvoer, moes Hy Homself ten volle met die mens vereenselwig, en dus moes Hy hierdie woestyntydperk deurmaak. Markus noem net so kortliks dat Jesus daar deur die duiwel versoek is. Die ander evangelies beskryf hierdie versoeking baie meer volledig. Die een groot boodskap wat egter hier na vore kom, is dat die duiwel hier ‘n vernederende nederlaag gely het. Dit was egter maar net ‘n voorsmakie, want in die finale slag, die “slag van Golgota” is die duiwel totaal verslaan.

Met Jesus se veertig dae in die woestyn agter die rug, begin Sy openbare bediening nou in alle erns. Hy begin preek - ‘n kort en kragtige preek, net soos Johannes: “Die bestemde tyd is vervul, en die koninkryk van God is op hande. Bekeer julle en glo die evangelie.” Markus laat val dit ook net so terloops dat Johannes in die tronk opgesluit is. Sy enigste oortreding was dat hy vir koning Herodus betig het omdat hy met sy broer se vrou, Herodias getrou het. Johannes moes uiteindelik die hoogste prys betaal hiervoor: hy is onthoof! Jesus kon dieselfde soort teenstand verwag in Sy optrede.

Die vraag is: wat beteken Jesus se boodskap? Het dit betrekking op ons vandag? In die eerste deel sê Jesus dat God se Koninkryk op hande is. Dit was die beste nuus wat die mensdom nog ooit gekry het. Die Koninkryk van God het in vervulling gegaan met Golgota, toe Jesus die finale losprys betaal het. En vandag kan ons ál die vrugte daarvan pluk.

In die tweede deel van Jesus se preek, sê Hy ‘n baie belangrike ding: “Bekeer julle”. Dit beteken dat jy moet breek met jou sondes. Nou sal jy dadelik vir my sê dat dit mos onmoontlik is. Geen mens kan waarlik met alle sonde breek nie? Bekering is egter ‘n aaneenlopende proses, waar jy elke dag jou lewe in heroorweging neem, en minder en minder sonde doen. Sodoende gee jy meer en meer plek vir die Heilige Gees om jou lewe te vul, en om sodoende nader aan God te kan leef. As daardie proses nie voortgaan nie, stagneer jy en jy begin stadigaan geestelik doodgaan.

Die derde deel van Jesus se boodskap is seker die belangrikste deel vir ons: “glo die evangelie”. Met ander woorde: Neem vir God op Sy woord en aanvaar met ‘n jubelende hart dat die goeie nuus van Jesus waar is. Maar dit help nie net dat ons glo dat dit waar is nie. Die duiwel glo dit ook, maar vir hom is dit slegte nuus! Ons moet daardie goeie nuus ons eie maak deur ‘n lewende verhouding met Jesus, die Boodskapper van hierdie evangelie!

Jesus wou egter nie die taak alleen deurvoer nie. Hy het mense nodig gehad wat die taak kon voortsit wanneer Sy taak afgehandel was. Hy sou vir Hom ‘n kerngroepie van manne uitkies wat later leierskap moes aanvaar en op hulle beurt weer mense oplei om dieselfde te doen. Sodoende sou dit ‘n reuse sneeubal-effek vorm. Wanneer Jesus egter dissipels om Hom bymekaarmaak, is daar ‘n paar dinge waarvan ons baie deeglik moet kennis neem, dinge wat ook vandag vir ons geld.

In die eerste plek sien ons dat dit nie die manne was wat Jesus wou volg nie, maar dat dit Jesus was wat die inisiatief geneem het om hulle te roep. Ander Rabbi’s van daardie tyd het ook leerlinge gehad, maar die leerlinge het kom vra om by die Rabbi te leer. In Jesus se geval werk dit andersom. Dit is nie die dissipel (dit is nou ek en jy) wat vir Jesus kies nie, maar Jesus wat die dissipel (my en jou) kies.

Jesus kies die manne met ‘n spesifieke doel, in hierdie geval om “vissers van mense” te word. Die ander Rabbi’s het hulle leerlinge opgelei om meesters te word in die uitleg van die Woord ens. Jesus wou slegs hê dat hulle moes kon “visvang”. Hulle moes leer hoe om ander mense na Jesus te lei, en dit geld óók vir my en jou vandag.

Ons sien dat die manne onmiddellik alles net so gelos het en Hom gevolg het. Die eerstes was Simon en Andreas, en daarna het Sebedeus se twee seuns, Johannes en Jakobus gevolg. Vandag verg dit van ons nog steeds groot opoffering om Jesus te volg. Dit was beslis nie maklik nie!

Het jy al die roepstem van Jesus gehoor, die roepstem om Hom te volg? Ja, as gelowiges glo ons almal. Maar dit is juis daardie geloof wat maak dat ons wil doen wat Jesus van ons vra, nie om ‘n beloning te kan kry nie, maar bloot uit dankbaarheid vir wat Hy alreeds vir ons gedoen het. Kan jy die ou halleluja-liedjie “Waar Hy lei, daar sal ek meegaan” met oorgawe sing en dit bedoel?

Gebed:

Here, maak my asseblief gehoorsaam aan U roepstem.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026