Jesus se Doop

23 April, 2024
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jesus se Doop

Lukas 3:21-22

VIDEO | OUDIO

In twee kort sinnetjies beskryf Lukas ‘n gebeurtenis wat mense na hulle asems laat snak het: die dag toe God uit die hemel neergedaal het en Sy stem duidelik hoorbaar weerklink het tydens Jesus se doop.

Lukas gee nie veel inligting oor hierdie groot gebeurtenis nie. Hy sê nie eers waar dit gebeur het of dat dit wél Johannes was wat die doop-plegtigheid waargeneem het nie. Uit ander gedeeltes in Lukas sowel as ander evangelies kan ons wél aflei dat dit in die Jordaanstreek plaasgevind het en dat dit inderdaad Johannes was wat die doopwerk gedoen het. Dit word natuurlik ook wel deeglik beskryf in die ander evangelies. Lukas wou egter met hierdie beskrywing van die gebeurtenis dit baie duidelik stel dat dit nie Johánnes was wat Jesus gedoop het nie maar God Sélf! Die weglating van die plek van die doop, beklemtoon ook die feit dat dit vanuit die hémel gebeur het, soos Lukas dit beskryf dat die hemel oopgegaan het. Hierdie is natuurlik ‘n tipiese Ou-Testamentiese beeld van God wat verskyn wanneer gesê word dat die hemel oopgaan (vergelyk byvoorbeeld Jes. 64:1 en Eseg. 1:1).

Wat presies het daardie dag gebeur? As ons al die gegewens rekonstruktureer, sien ons vir Johannes besig om te preek (soos gewoonlik!) en hy moedig die hoorders aan om tot bekering te kom. Hulle moet van hulle sondes wegdraai. As teken dat God hulle sondes vergewe het, doop hy hulle. Die water was dan simbolies die ou sondes skoon af en hulle staan as nuwe mense.

Toe Jesus se tyd aanbreek, het Hy gebid - Hy was in gesprek met God en terwyl Hy bid gebeur daar groot dinge! Terloops, die evangelieskrywers beskryf verskeie belangrike gebeurtenisse in Jesus se lewe waar Hy in gebed was. Vir Hom, die Heilige was dit noodsaaklik om te bid, soveel te meer vir jou en my wat so geweldig afhanklik is van God!

Gebed is ons geestelike asemhaling en die manier waarop ons met God kan kommunikeer. Dit is ook ons “gesels” met Hom om krag te gee aan ons verhouding met Hom. Ons absolute afhanklikheid van Hom maak dit noodsaaklik om elke besluit en gebeurtenis in ons lewens met Hom te bespreek. Hierdie dagstukkie gebeur byvoorbeeld in biddende afhanklikheid aan Hom, want daarsonder kan dit nooit plaasvind nie. Die doel is nie om vanoggend uit te brei op die verskillende soorte gebed nie, maar bloot om te sê hoe geweldig belangrik gebed vir die gelowige is en hoe afhanklik ons daarvan is.

Die doop was verby en terwyl Jesus nog daar staan en bid, gaan die hemel skielik oop en die omstanders sien iets wat lyk soos ‘n duif wat op Hom neerdaal uit die hemel - die Heilige Gees in sigbare gestalte. Vanuit die hemel kom daar terselfdertyd die magtige stem van God wat sê: “Jy is My geliefde Seun. Oor Jou verheug Ek My.” God was dus Persoonlik betrokke by die doop van Jesus en hiermee gee Hy aan Jesus Goddelike gesag. Met hierdie gesag sal Hy vir die volgende drie jaar van Sy bediening optree. Met die beeld van die hemel wat oopgaan, kom God as’t ware Self sigbaar binne-in die geskiedenis van die mense in.

Die Heilige Gees wat só sigbaar op Jesus neergedaal het, is nie alleen ‘n teken van die teenwoordigheid van die Gees nie, maar dit is vir ons die hemelse goedkeuring dat Jesus namens God mag optree, en dit is dan ook die teken dat Jesus se bediening amptelik begin het. Hierdie is dan ook ‘n bevestiging van die woorde van die engel Gabriël in Lukas 1:32-35.

Wat sê Jesus se doop vandag vir ons? Is dit maar net nóg ‘n gebeurtenis in die geskiedenis waarvan ons moet kennis neem? Baie beslis nie! Die feit dat Jesus saam met ‘n klomp ander mense gedoop is, bevestig die feit dat Hy Hom met doodgewone sondige mense (soos ek en jy) vereenselwig. Die groot verskil is egter dat sondige mense gedoop word, maar Jesus is sondeloos. Deur aan te dring om gedoop te word, kom staan Hy reeds in ons plek en neem ons sondigheid op Hom, om op die ou end daarvoor te betaal aan die kruis.

Hy is nie ‘n God daar ver in die hemel nie, maar is saam met ons. Hy het dit bevestig in Mat. 28 en Hand. 1, waar Hy gesê het dat Hy tot aan die voleinding van die wêreld saam met ons sal wees. Dit bring ons by die feit dat ons in gesprek met Hom kan gaan te enige tyd en op enige plek. Ons het hier bo gesien hoe belangrik gebed vir Hom was en dan kan ons maar net besef hoe belangrik dit vir ons is. Gebed is nie noodwendig die formele aanbidding van God nie, maar ook die informele praat met Jesus wat alomteenwoordig is. Hoe meer jy dit doen, hoe nader beweeg jy aan God.

Aan die ander kant moet ons ook baie duidelik sien dat dit Goddelike gesag is wat Jesus gekry het. Nie alleen is Hy bý ons nie, maar in Hom het ons die hoogste gesag wat ooit toegeken is! Ons hoef dus nie met allerhande ompaaie, soos so dikwels in ons aardse rompslomp gebeur, na God te gaan nie maar ons gebed is ‘n direkte gesprek met die Allerhoogste gesag. Wat ‘n wonderlike voorreg!

Gebed:

Here, ons kan maar net in verwondering staan by hierdie gebeure, en U loof en dank vir dit wat U vir ons vermag het!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026