Matteus 27:57-66
Jesus het gesterf.
Matteus noem dit nie so pertinent nie, maar uit sy skrywe is dit baie duidelik. Die ander Evangelies beskryf hoe Hy die laaste asem uitblaas en hoedat die soldaat die spies in Sy sy druk om dóódseker te maak. Vir Matteus is dit egter nie eers nodig om dit te beskryf nie. Almal het immers gewéét dat Hy dood was.
Nou is die verskrikking van die kruis uiteindelik verby. Al die spot, haat en marteling het genadiglik tot ‘n einde gekom. Jesus het ‘n eerlose dood gesterf. Hy is behandel soos ‘n misdadiger wat slegs die ergste straf moes kry van die vloekhout. Volgens Galasiërs 3:13 is elkeen wat aan ‘n kruishout hang vervloek! In skande moes Hy daar nakend hang ten aanskoue van almal, vervloek deur die kerkleiers, vervloek deur die volk. Vervloek deur God?
Maar dan ontvang Jesus ‘n eervolle begrafnis in ‘n nuwe rykmansgraf. Volgens Joodse gebruik moes ‘n lyk voor sononder begrawe word. Die dag het reeds ver aangestap, en daar moes haastig gewerk word om betyds alles te reël.
Josef van Aramatea was ‘n vermoënde man, en beslis ook invloedryk. Hy het immers die moed en vrymoedigheid gehad om met Pilatus te gaan praat oor Jesus se begrafnis. Hiermee stel hy homself in gevaar om hom die Joodse Raad se gramskap op die hals te haal.
Pilatus stem in dat Josef die liggaam kan neem, en Jesus se naakte liggaam word in linnedoeke toegedraai en in Josef se graf neergelê. Sodoende bewys hy die laaste eer aan hierdie Man. Nie een van Jesus se dissipels was eers naby nie! Almal het Hom verlaat, en die taak was op Josef om alles eiehandig te doen. Ja, daar was darem twee vroue wat gesit en kyk het wat Josef doen, maar selfs hulle het niks gedoen om te help nie.
Inderdaad het God weereens voorsien op die regte tyd en die regte plek. Toe daar niemand was wat die moed gehad het om Jesus se liggaam te versorg nie, het Hy vir Josef gestuur, die enigste man wat die moed sowel as die middele gehad het om die taak te verrig. Ons moenie Jesus se dissipels te gou oordeel hieroor nie. Onthou, hulle was verward, doodbang en platgeslaan. Hulle hele wêreld het ineengetuimel, en hulle het nie geweet watter kant toe nie. Dalk sou ek en jy presies dieselfde gedoen het. Petrus het darem probeer, en hy kon vir ‘n rukkie die hofverrigtinge bywoon, maar toe val hy self ook bitter hard. Josef was dus God se antwoord om Sy Seun, Jesus, ‘n eervolle en waardige begrafnis te gee. Sodoende begin die eerste stap van Jesus se verheerliking.
Maar alles was nie pluis nie: natúúrlik was die duiwel gladnie tevrede met die verloop van omstandighede nie. Die Joodse Raad hoor baie gou van Josef se planne en hulle sien gevaarligte flits. Wie sê dat die dissipels nie dalk Jesus se liggaam sou steel nie? Dan kan hulle mos beweer dat Jesus werklik opgestaan het soos wat Hy gesê het! As hulle dit sou regkry, kan hulle dalk die ganse volk opsweep! Nee dit mag beslis nie gebeur nie! Hulle moet baie gou ‘n plan beraam om alles te fnuik! Die volgende dag, Saterdag, oftewel die Sabbatdag gaan hulle na Pilatus toe en verduidelik hulle dilemma aan hom. Hy stem in om hulle ‘n wag te gee wat die graf verseël en dit dag en nag bewaak. Hoe ironies dat hierdie manne wat so verskriklik nougeset die Sabbat onderhou het, só desperaat is dat hulle nou skielik nie ‘n probleem het om werk te doen op die Sabbat nie! Hulle wou Jesus doodmaak oor Hy iemand gesond gemaak het op die Sabbat, en nou doen hulle véél erger dinge op die Sabbat! Dit is egter nog méér ironies dat hulle met hierdie handeling van hulle, hulle eie kele afgesny het, en presies in God se hand gespeel het. Die blote feit dat hulle sélf die graf verseël het, boonop met die goewerneur se kenteken, en dit bewaak is deur Romeinse soldate onder húlle toesig, maak dat enige moontlikheid van bedrog by Jesus se opstanding uit die weg geruim is.
Hier is dalk ‘n stukkie Goddelike humor betrokke, want dit is lagwekkend. Die Jode tref alle voorsorgmaatreëls teen die arme verskrikte dissipels, en hulle vergeet dat hulle eintlik met die Almagtige God te doene het! Teen Hom is sulke maatreëls absoluut lagwekkend. Boonop saboteer hulle hulleself, want die hele situasie is onder húlle jurisdiksie, en as enigiets verkeerd sou loop kan niemand anders beskuldig word as hullesélf nie!
Nou is die verhoog gereed vir die groot gebeurtenis, en die heelal wil bars van opgewondenheid! Paassondag is byna-byna daar!
Jesus se lyding, kruisiging, dood en opstanding hoort alles bymekaar. ‘n Mens mag nooit by die kruis alleen gaan vashaak nie, want sonder die dood en opstanding sou die kruisiging ook betekenisloos wees. Inderdaad is dit nét so met jou eie lewe: alles wat jy op aarde mag deurmaak is totaal betekenisloos as daar nie ‘n opstanding en ‘n lewe na die dood was nie. Daardie nuwe lewe is in der waarheid die hoogtepunt in jou ganse lewe! Jou worsteling op aarde is maar net die begin van alles.
Gebed:
Here, dankie dat ek kan uitsien na ‘n wonderlike ewige lewe in heerlikheid. Dankie dat ek vandag verseker kan weet dat Jesus nie in die graf gebly het nie, ten spyte van die Jode se pogings, maar dat Hy my vooruitgegaan het om ook vir my plek te berei in die wonderlike saligheid van die hemel.