Jesus Kom Weer!

2 May, 2019
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jesus Kom Weer!

Openbaring 22:6-21

Johannes is baie opgewonde. Nog net die laaste paar lyntjies, dan is sy boek klaar. “Toe sê die engel vir my: “Hierdie woorde is betroubaar en waar.” skryf Johannes met bewende hand. “Die Here God, wat sy Gees aan die profete gee, het sy engel gestuur om vir sy dienaars te wys wat binnekort moet gebeur.”

Ja, betroubaar en waar! Hy het elke detail neergeskryf presies net soos hy dit gesien het. En die wonderlike is dat hy weer, na al die jare vir Jesus gesien en gehoor het. Dit was nou wel visioene, maar dit was so helder en duidelik soos die werklikheid.

Jesus sê toe: Kyk, Ek kom gou! Geseënd is elkeen wat die woorde van hierdie profetiese boek ter harte neem,” skryf Johannes. Nie sy woorde nie, maar Jesus s’n.

Dit is ek, Johannes, wat dit alles gehoor en gesien het.”

Ja, alles was vir Johannes so wonderlik, dat hy so ampertjies die engel wat al die dinge vir hom gewys het, aanbid het. Hy het al klaar op sy knieë neergeval om hom te aanbid, toe die engel hom stop: “Pas op, moenie!” het hy vir Johannes gesê. “Ek is 'n mededienaar van jou en van jou medegelowiges, die profete en dié wat die woorde van hierdie boek ter harte neem. Aanbid God!”

En toe sê die engel vir Johannes: “Moenie die woorde van hierdie profetiese boek geheim hou nie, want die eindtyd is naby.”

Vir oulaas praat Jesus weer met Johannes: “Kyk, Ek kom gou! Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het. Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde.”

Vir ‘n oomblik dink Johannes weer terug aan die manier waarop hy sy eerste boek begin het. Daar het hy dit so duidelik moontlik probeer beklemtoon wie Jesus waarlik is, dat Hy God almagtig is, reg van die begin van alle tye af, en dat Hy die Skepper-God is van hemel en aarde. En hier kom sê Jesus dit presies net so weer vir hom.

Dan beaam Jesus dit: “Ek, Jesus, het my engel gestuur om dit alles aan julle in die gemeentes te betuig. Ek is die Wortel, dit is, die Nakomeling van Dawid. Ek is die helder Môrester.”

Here, U moet asseblief gou kom! Ek wag op U!” sug Johannes.

Ja, Ek kom gou!”

Amen! Kom, Here Jesus!” antwoord Johannes opgewonde. Hy is meer as gereed om Jesus te ontmoet!

En so kom ons aan die einde van nog ‘n reeks dagstukkies. Vir my persoonlik was dit ‘n wonderlike reis saam met Johannes. Ek het hom leer ken as daardie weerbarstige jong “Seun van die Donder,” die jong visserman met soveel ambisie. Ja, hy wou héél bo uitkom, selfs saam met Jesus op die troon gaan sit en regeer.

Mettertyd het ek hom sien groei in sy geestelike lewe tot ‘n reus in die geloof wat onverskrokke saam met Petrus selfs die Joodse Raad aangedurf het.

En dan, op sy oudag begin hy skryf, en hy skryf die wonderlikste boeke wat menseharte diep aanraak. En dan veral hierdie groot, groot boek Openbaring, waar hy een van die héél belangrikste van vrae aanraak, die wederkoms van Jesus.

Aan die einde van hierdie boek moet ek vir myself die vraag afvra of Jesus se wederkoms vir my ‘n verskriklike berg is wat voorlê, of is dit ‘n wonderlike gebeurtenis om na uit te sien. Johannes skryf met borrelende opgewondenheid oor Jesus se wederkoms, en die hele skepping smag daarna dat daardie dag moet aanbreek. Vir my as gelowige is daar niks om voor bang te wees nie, want ek is reeds vrygespreek van die oordeel, en daarom kan ek saam met ‘n reuse skare van gelowiges uitroep: “Kom Here Jesus, kom gou!”

My vraag aan jou vanoggend is egter of jy ook so daaroor voel? Sien jy ook, nes Johannes met groot verlange uit na Jesus se wederkoms? Of sit jy dalk met vrees in jou hart, want jy weet nie of jy die binnekant van die hemel sal sien nie? As jy met daardie verskriklike vrees sit, dan smeek Jesus by jou om te kom en van die water van die lewe te kom drink. Dis verniet! Jy hoef niks daarvoor te betaal nie! Ek wil jou dan ook dringend uitnooi om vir my te skryf as jy met daardie probleem sit.

Marana ta!

Gebed:

Dankie Here Jesus, vir die groot voorreg wat U my gegee het om ‘n pad saam met hierdie wonderlike man te kon stap, en sy boeke te lees en te bestudeer. Dankie vir al die boodskappe van genade en liefde wat opgesluit is in die Johannes Evangelie en veral ook Openbaring, en dat U my opnuut hierdeur versterk en getroos het. Marana ta! Kom Here Jesus!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026