Johannes 1:1
Ons het gesien wat die Ou Testament oor die Goddelikheid van Jesus getuig. Kom ons kyk nou wat in die Nuwe Testament oor Hom staan.
Kom ons begin by die laaste Bybelboek, Openbaring waar God só beskryf word:
In Openbaring 1:8 verklaar Hy: “Ek is die Alfa en die Omega,” sê die Here God, Hy wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.” In Openbaring 21:6 sê God: “Ek is die Alfa en die Omega, die Begin en die Einde.”
Maar kyk nou net hoe word Jesus beskryf in dieselfde Openbaring. In Openbaring 1:12, 13, 17 en 18 staan daar: “12Ek het omgedraai om te sien wie dit is wat met my praat. En toe ek omgedraai het, het ek sewe goue staanlampe gesien 13en tussen die lampe Iemand soos die Seun van die mens. 17Toe ek Hom sien, het ek by sy voete neergeval en bly lê soos een wat dood is. Hy het toe met sy regterhand aan my gevat en vir my gesê: “Moenie bang wees nie, dit is Ek, die Eerste en die Laaste, 18die Lewende. Ek was dood en, kyk, Ek lewe tot in alle ewigheid; en Ek het die sleutels van die dood en die doderyk.”
In Openbaring 2:8 lees ons: “Skrywe aan die leraar van die gemeente in Smirna: So sê die Eerste en die Laaste, wat dood was en weer lewend geword het.” Hier is Jesus aan die woord. Openbaring 22:12, 13, 16: “12Jesus sê toe weer: “Kyk, Ek kom gou! Ek bring die loon saam met My om elkeen te beloon vir wat hy gedoen het. 13Ek is die Alfa en die Omega, die Eerste en die Laaste, die Begin en die Einde. 16“Ek, Jesus, het my engel gestuur om dit alles aan julle in die gemeentes te betuig. Ek is die Wortel, dit is, die Nakomeling van Dawid. Ek is die helder Môrester.”
Uit die Bybelgedeeltes wat ons hier bo lees, sien ons dat presies dieselfde “titels” toegedig word aan God en aan Jesus. Ons het dus onteenseglik hier te doen met God as ons van Jesus praat.
Openbaring is egter nie die enigste bron waar Jesus as God beskryf word nie. Hier volg enkele van die ander getuienisse uit die Nuwe Testament:
1 Joh. 5:20,21: “En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die ware God te ken; en ons is in die ware God, in sy Seun, Jesus Christus. Hy is die ware God en die ewige lewe. 21Liewe kinders, bly dus weg van die afgode af.”
Heb. 1:8: “Maar van die Seun sê Hy: “U troon, o God, staan vir ewig vas, met u koninklike septer laat U reg geskied.”
Joh. 20:28: “En Tomas sê vir Hom: “My Here en my God!”
Jesaja 9:5: “Vir ons is ’n Seun gebore, aan ons is ’n Seun gegee; Hy sal heers, en Hy sal genoem word: Wonderbare Raadsman, Magtige God, Ewige Vader, Vredevors.”
Kol. 1:15,16 “15Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie. Die Seun is die Eerste, verhewe bo die hele skepping. 16God het deur Hom alles geskep wat in die hemel en op die aarde is: alles wat gesien kan word en alles wat nie gesien kan word nie, konings, heersers, maghebbers, gesagvoerders. Alles is deur Hom en vir Hom geskep.”
Jesus is dus ook Skepper en Hy is nie deur God geskep nie. Die Getuies wil beweer dat die gedeelte hierbo bewys dat Jesus die eerste Persoon is wat deur God geskep is.
Wanneer hier gepraat word van die “Eerste” word die Griekse woord prototokos gebruik, wat beteken “Eerste in rang of posisie” Vir die betekenis van “eerste in tyd” word die woord protoktistosos gebruik. Dit is hier nie die geval nie.
Deut. 6:4 sê dat daar slegs EEN GOD is. Is dit waar of vals?
Joh. 1:1 sê baie duidelik: “In die begin was die Woord daar, en die Woord was by God, en die Woord was self God.” Die Jehovah's Getuies sê dat ons die Bybel verkeerd vertaal het, en dat dit moet lees: “...en die Woord was ‘n God” In Grieks lui die laaste deel van vers 1 egter: "kai Theos yn ho Logos", wat op geen ander manier vertaal kan word nie, as: "en die Woord was God." Hulle stelling dat Jesus 'n God is, sal dan die vraag laat ontstaan: Is daar dan meer as een God? Indien wel, is die tweede “God” dan ‘n ware of vals God? Wat dan van die stelling in Deut. 6:4?
Hulle flou antwoord hierop is dat Jesus per geleentheid vir Sy dissipels gesê het: "Julle is gode."
In die volgende gedeelte gaan ons onder meer kyk na die vraag oor die Heilige Gees.
Gebed:
Here Jesus, dankie vir U heilige Woord wat so duidelik is, dat U waarlik die enige God is. Ek aanbid U met alles in my.