Jesus genees ‘n Seun

22 September, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jesus genees ‘n Seun

Markus 9:14-29

VIDEO * OUDIO

Petrus huppel die berg af. Hy kan steeds nie glo dat hy deel kon wees van hierdie wonderlike ondervinding op die berg nie. Hy het waarlik die hemel geopend gesien! Elia, Moses.…! Hy brand om sy maats te vertel. Maar hy kan nie - Jesus het hulle belet om ‘n woord hiervan uit te lap!

Petrus is egter skielik weer terug in die werklikheid as hy hom vasloop in ‘n groot skare mense wat aan die voet van die berg vir hulle staan en wag. Hy sien sommer: hier is groot moeilikheid! Sy maters word gepeper deur ‘n groep Skrifgeleerdes, en Petrus hoor net hier en daar van “Julle totale onvermoë” en “Waar is julle kamtige krag dan?” Wanneer die mense vir Jesus-hulle sien, hardloop hulle nader, hulle is baie opgewonde.

“Waaroor redeneer julle so met My dissipels?” Jesus is kalm.

‘n Man tree na vore en hy vertel vir Jesus van sy seun wat so verskriklik deur ‘n bose gees geteister word. Die arme kind kry epileptiese aanvalle, en dan vertrek sy lyf van stuiptrekkings. “Hy het selfs al in die vuur geval,” huil die pa.

Dan moet Jesus hoor dat Sy dissipels baie hard probeer het om hierdie bose gees uit te dryf, maar hulle was magteloos. “Ongelowige geslag! Hoe lank moet ek julle nog verdra?” Jesus sug: hierdie manne kan net eenvoudig niks reg doen nie, en dit nadat Hy hulle dan so mooi geleer het! Hulle was selfs baie suksesvol toe Hy hulle uitgestuur het. “Bring hom na My toe!”

“As U iets kan doen, ontferm U oor ons en help ons!” Die arme man is desperaat!

“‘As U kan?’ Alle dinge is moontlik vir iemand wat glo!”

“Ek glo! Ek glo! Kom my ongeloof te hulp!”

Jesus beveel die gees om die seun te verlaat, en na ‘n paar hewige stuiptrekkings lê die kind doodstil.

“Hy is dood!” ‘n Geskokte fluistering dreun deur die skare. Daar sak ‘n doodse stilte neer oor die mense. Alle oë is gerig op die seun wat daar leweloos lê. Jesus buk en vat die seun aan die hand. ‘n Kreun van verwondering eggo deur die skare as die seun opstaan, blakend gesond en bevry van die bose gees!

Met hierdie beskrywing beklemtoon Markus net weereens wat Jesus bedoel het toe Hy gesê het dat die Koninkryk van God nou baie naby gekom het. Dit kon vir die mensdom net iets baie goed beteken. Maar Markus wil ook twee ander sake uitlig wat van uiterste belang is: geloof en gebed.

Die dissipels se ongeloof is in die eerste plek verantwoordelik vir hulle onvermoë om die bose gees uit die seun te dryf. Jesus is moedeloos met hulle, want na ál die dinge wat Hy gedoen het en hulle geleer het, het hulle steeds nie die vertroue om die seun gesond te maak nie. Ons het alreeds per geleentheid genoem wat geloof beteken, en dat dit nie alleen kennis is nie, maar dat dit hand aan hand gaan met ‘n onvoorwaardelike vertroue. Die dissipels was wel deeglik daarvan bewus dat hulle hierdie dinge slegs deur God se krag kon doen. Dit was nie húlle nie maar God Almagtig wat deur hulle gewerk het om genesing, of in hierdie geval, die uitdryf van ‘n bose gees te bewerkstellig. Die dissipels het egter nie die nodige vertroue gehad dat God hulle werklik kon gebruik nie.

Die tweede belangrike saak wat skoon by hulle verbygegaan het, is gebed. Toe die dissipels later vir Jesus uitgevra het waarom hulle nie die gees kon uitdryf nie, was Jesus se antwoord nie, soos ons sou verwag, dat hulle nie geloof gehad het nie, maar omdat hulle nie gebid het nie! Hulle het ‘n baie groot fout begaan deur hierdie bose gees in hulle eie krag uit die seun te probeer dryf. Jy kan die duiwel nie sonder handskoene aanpak nie, en allermins in jou eie krag! Jy gaan lelik tweedebeste daarvan afkom! Alleen, soos ons hier bo gesien het, in God se krag kan dit geskied. Om egter jouself as Sy werktuig te stel, vra kommunikasie van jou kant af met God. En jy kommunikeer deur gebed.

Ek dink nie ons besef aldag die waarde en die krag van ‘n gelowige se gebed nie. En nou praat ek nie van die wenslysies wat ons dikwels aframmel nie, dis nie gebed nie! Gebed is ‘n innige, gelowige en intieme gesprek met God. In gebed kan jy dan ook jou totale afhanklikheid van God verklaar, en jouself in Sy hande plaas. Dit is blykbaar iets wat die dissipels gladnie gedoen het nie! Hulle het maar op hulle eie probeer voortploeter.

Vir ‘n gelowige het gebed verder ook ‘n groot waarde, dat dit die band tussen jou en die Here sterker maak. Hoe meer tyd jy in gebed spandeer, hoe meer raak jy bewus van die Here, en hoe meer plek gee jy Hom in jou lewe. En hoe meer dit gebeur, hoe meer besef jy jou totale afhanklikheid van Hom. Terselfdertyd besef jy ook dat Hy jou kan gebruik soos Hy wil. Dan begin jy ook besef dat Hy wonderwerke kan laat geskied deur jou te gebruik!

Gebed:

Here, leer my asseblief hoe om waarlik te bid, en my volle vertroue op U te plaas.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026