Jesus en die Kindertjies

25 October, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jesus en die Kindertjies

Lukas 18:15-17

VIDEO OUDIO

n Paar jaar gelede kyk ek na ‘n TV program waar daarn onderhoud gevoer was met ‘n baie bekende dramaturg. Soos die gesprek gevorder het, begin daar naderhand ‘n lastige geraas opbou buite die huis waar die opname gemaak was. Skielik staan die groot verhoogpersoonlikheid (Celebrity?) op en stap na buite. Die kameraman is nie links nie en volg hom. In die straat voor sy huis wasn swetterjoel kindertjies besig om baie luidrugtig te speel. Met groot geduld en liefde het hy mooi met hulle gaan gesels en verduidelik van die TV opnames en die klank en dat daar stilte moes wees. Hulle moes asseblieftog net vir die oomblik elders te gaan speel. Hulle kon later maar weer terugkom.

En toe tref die gedagte my dat hierdie spul raserige kindertjies waarlik die vrymoedigheid gehad het om hier vlakvoor die beroemde man se deur te speel. Hy moes baie beslis ‘n groot kindervriend wees! Was dit enige ander beroemde, dan het sy lyfwagte al lankal ‘n kordon gespan om die huis en enige ongewenste persone verdryf! Kyk maar hoe reageer Hollywood se beroemdes, en hoe word nuuskieriges dikwels selfs aangerand deur hulle wagte. G’n kind sal dit naby daardie beroemdes waag nie want hulle is “lastig” en pas beslis nie by hulle hoë lewensstyl in nie!

Vandag het kinders allerhande grondwetlike regte. In die Bybelse tyd was dit baie anders. Toe was kinders skaars meer werd as ‘n man se eiendom. In die geselskap van grootmense sou hulle beslis nie welkom gewees het nie. Naas slawe, was hulle die héél onderpunt van die sosiale leer - anders as vandag waar kinders dikwels meer regte het as grootmense. Toen paar mammas dus hulle kindertjies na Jesus bring sodat Hy hulle kon aanraak of seën, was die dissipels sommer dadelik warm onder die boordjie. Hulle wou Jesus “beskerm,” dus het hulle die mammas en kinders verjaag. Hy het baie beter dinge gehad om te doen met Sy tyd as om met simpele kindertjies te gesels!

Die manne het egter nie met Jesus rekening gehou nie. Hulle het baie duidelik gladnie verstaan waarom dit gegaan het nie. Nie alleen het Jesus vir tollenaars en sondaars en selfs “onrein” Samaritane omgegee nie, maar nou ook vir hierdie laagste van die laagstes, met absoluut géén regte nie - kindertjies!

Jesus het die dissipels in hulle spore gestop, en gevra dat hulle die kindertjies maar na Hom toe moes laat kom. Ek kan my die prentjie voorstel van die kindertjies wat rondom Jesus saamdrom het in verwondering en die dissipels wat kopskuddend in afgryse die toneel staan en dophou. Hulle verstaan gládnie! Eers die ete saam met die tollenaars en al die skuim van die stad, en nou dit! Wat van Jesus se selfbeeld? En natúúrlik word húlle ook hierby ingesleep, want hulle is mos Jesus se leerlinge! Nee, dit het tyd geword dat Jesus nou begin rigting kry in die lewe!

Dan kyk Jesus hulle meewarig aan: “Die Koninkryk van God is juis vir mense soos hulle”, verduidelik Jesus vir hulle.Wie die Koninkryk van God nie ontvang soos ‘n kindjie nie, sal nooit daar ingaan nie.”

Die dissipels was verslae, totaal stomgeslaan. Wat het Jesus hiermee bedoel? Hulle tradisies wat deur die eeue in hulle ingedril was, was nou besig om te verkrummel. Geloof is tog iets wat jy beoefen deur die wet te onderhou en te offer en in die tempel te aanbid. Maar nou sê Jesus dat jy soos ‘n kind moet word. Nee, dit kan mos nou nie!

Dit sou baie lank neem vir hierdie geharde manne wat so diep in hulle tradisies ingewortel was om waarlik Jesus se woorde te verstaan. Selfs vandag is dit moeilik om te verstaan presies wat Jesus hier bedoel het. Maar kom ons gaan kyk ‘n bietjie wat kindwees beteken.

In die eerste plek is daar sy swakheid, broosheid en onmag. Eers wanneer ek my eie swakheid, broosheid en onmag begin besef, dan kan ek by Jesus uitkom. Iemand wat sterk en onafhanklik is dink dikwels dat hy nie vir God nodig het in sy lewe nie. Hy is mosn selfgemaakte man wat vir homself kan sorg, selfs ook op die geestelike vlak. Wanneer jy die dag besef dat jy eintlik géén kans het om op jou eie stoom die ewige lewe te verwerf nie, dan is jy gereed om die Here se hulp te aanvaar.

In die tweede plek is daar die totale afhanklikheid wat ‘n kleintjie het van sy ouers. Sonder hulle kan hy nie oorleef nie. Hulle werk om vir hom kos en klere te gee asook liefde en versorging. Géén kleintjie kan homself onderhou nie! Net so moet ek as gelowige my totale afhanklikheid van God besef. Ek moet weet dat alles wat ek het van Hom afkomstig is, en dat ek slegs na Hom kan gaan vir my daaglikse behoeftes.

Derdens is daar die kinderlike vertroue en bewondering. Pa sal my beskerm, maak nie saak wát nie. My Pa is die sterkste en wonderlikste man in die hele wêreld! Is dit ook hoe ons oor God voel? Is Hy nog vir ons die wonderlikste Vader wat daar óóit kan wees?

Gebed:

Here, leer my asseblief om weer soos ‘n kindjie te kan glo.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026