Handelinge 21;1-16
“Die Heilige Gees het vir my gesê ……” So begin iemand die anderdag vertel waarom ‘n sekere ding gedoen moet word. Hoe weet ons wanneer die Heilige Gees jou lei om iets te doen of sê? Hierdie is baie beslis nie ‘n maklike vraag om te antwoord nie. Dikwels gebeur dit dan ook dat iemand ‘n wilde gedagte in sy kop kry en dan besluit hy dat dit die werk van die Heilige Gees moet wees. Sodoende word die Heilige Gees dikwels “misbruik”.
‘n Voorbeeld is die pastoor wat vir die familie van iemand wat gesterf het gesê het dat die Heilige Gees hom meegedeel het dat daardie man weer lewendig sou word op ‘n bepaalde tyd en dat hulle hom nie moes begrawe nie. Hy het groot opskudding veroorsaak en boonop die familie baie hartseer besorg toe dit nie gebeur nie! Ons moet baie versigtig wees wanneer ons iets aan die Heilige Gees wil toedig. Pasop dat dit nie dalk jou eie wil is wat jy aan Hom wil koppel nie!
Lukas vertel dat hulle in Milete naby Efese op die skip geklim het en die lang reis na Jerusalem aangedurf het. Hier was Lukas een van Paulus se reisgenote. Nes die Melktrein van ouds stop hulle by elke klein hawetjie en eilandjie. In Tirus staan hulle ‘n volle sewe dae oor terwyl die vrag afgelaai word. Daar was nog nie reuse hyskrane soos vandag nie en alles moes met die hand gelaai word! Paulus is dankbaar vir die oponthoud en hy gryp die geleentheid aan om die gemeente te besoek om die gelowiges te versterk.
Lukas skryf dat hulle "onder leiding van die Gees vir Paulus gesê het om nie na Jerusalem te gaan nie.” Natúúrlik was die gemeente bang vir wat op Paulus in Jerusalem gewag het. Hulle het gewéét dat die Jode daar Paulus se bloed gesoek het en daarom het hulle by hom gesmeek om sy reis te heroorweeg.
Ons moet sekerlik vra of dit werklik die Heilige Gees was wat hulle gelei het om Paulus te probeer stop? Was dit nie maar hulle eie vrese nie?
Uiteindelik was die vrag afgelaai en het dit tyd geword dat Paulus en sy geselskap moes vertrek. Die hele gemeente het saam met Paulus-hulle na die strand toe geloop om te gaan afskeid neem. Daar het hulle op die strand gekniel en saam gebid. Hier sien ons ‘n interessante verskynsel, dat werklik álmal daar was, mans, vrouens en kinders inkluis. Onthou, wanneer die Jode Godsdiens bedryf het was dit slegs vir mans bedoel en die vrouens en veral kinders was totaal uitgesluit. Hier sien ons nou in die Christengemeenskap dat vrouens en kinders ingesluit is in kerkwees! Skielik is vrouens, wat nog altyd uitgesluit was nou óók deel van die kerk.
So vertel Lukas dat hulle in Ceasarea by die evangelis Filippus tuisgegaan het. Hy het vier ongetroude dogters gehad wat almal profetiese gawes besit het. Hierdie jong vroue het met ander woorde ‘n onderwysende funksie in die gemeente gehad. Ons sien dus duidelik dat vrouens dikwels ‘n aktiewe en soms leidende rol in die vroeë kerk gespeel het.
Die Filippus waarvan Lukas hier skryf was een van die sewe manne wat vroeër as helpers aangestel is in die Jerusalemgemeente. Hy het later na Ceasarea gegaan om sendingwerk daar te doen en nou, twintig jaar later woon hy in die stad.
Weereens word Paulus gewaarsku. Op 'n dag kom 'n profeet met die naam Agabus daar aan. In 'n simboliese aksie vat hy Paulus se gordel en bind sy eie hande en voete daarmee vas om, gelei deur die Heilige Gees daarmee te wys dat Paulus in Jerusalem gevange geneem sou word. Die gemeente het hom gesmeek om nie te gaan nie maar selfs hiérdie dringende waarskuwing laat hom nie vir ‘n oomblik twyfel oor sy besluit nie, selfs al sou dit sy dood beteken!
Dit herinner ons sterk aan Jesus en hoedat Sy dissipels Hom probeer keer het toe Hy na Jerusalem wou gaan. Hulle het gewéét dat daar net moeilikheid sou wag! Nogtans het Jesus nie vir ‘n enkele oomblik getwyfel oor Sy besluit nie. Hy het geweet presies wat in Jerusalem op Hom sou wag en dat gevangenskap, marteling, kruisiging en uiteindelik die dood Sy voorland was! Paulus het óók besef dat ook hý reguit in die leeu se bek sou instap! Gelukkig het Paulus nie geweet watter verrykende gevolge sy besluit sou inhou nie. Sy een begeerte was om nog in Rome te kon kom om daar die Evangelie te verkondig en sy besoek aan Jerusalem was júís die voertuig wat die Here vir Paulus sou gee om na Rome te gaan. Wat meer is, dit sou nie eers op sy eie onkoste wees nie maar op staatskoste! Jerusalem sou ‘n totale draaipunt wees in Paulus se bediening. Van nou af gaan sy sendingwerk totaal anders daar uitsien. Maar nou loop ek alweer die verhaal vooruit!
Van Ceasarea na Jerusalem was ongeveer ‘n honderd kilometer. Hierdie laaste stukkie pad het hulle te voet afgelê en dit het hulle ‘n paar dae geneem.
‘n Baie moeilike vraag wat ons dalk vanoggend kan vra, is of Paulus die regte ding gedoen het om deur te druk met sy besluit om na Jerusalem te gaan ten spyte van die vele waarskuwings daarteen. Vandag kan ons natuurlik met sekerheid sê dat hy reg gedoen het want dit was deel van God se raadsplan. Daardie tyd moes twyfel beslis aan hom gevreet het. Paulus het egter ‘n lewe gelei wat só naby aan die Here was dat hy dit kon verwerk en die Here se antwoord kon hoor.
Dikwels is ons ook in vertwyfeling oor ‘n besluit wat ons moet neem. Die antwoord is om só naby aan die Here te leef dat ons Sy stem duidelik kan hoor en onderskei. Hoe nader jy aan Hom leef, hoe helderder word Sy stem in jou lewe!
Gebed:
Here, trek my asseblief nader aan U - só naby dat ek U stem duidelik kan hoor!