Jaïrus se Frustrasie

26 August, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jaïrus se Frustrasie

Markus 5:21-34

VIDEO * OUDIO

Jaïrus is ‘n baie belangrike man - hy was verkies tot een van die hoogste statusposisies in die samelewing van die dorp. As raadslid van die sinagoge is sy taak om reëlings te tref vir dienste in die sinagoge. Hy is verantwoordelik daarvoor dat alles in stand gehou word en dat dit ordelik gaan.

Maar Jaïrus is nou ‘n baie bekommerde man, want sy lieflingdogtertjie het ernstig siek geword, en hulpeloos moet hy toekyk hoe haar toestand by die minuut versleg. Dag en nag waak hulle by haar bed. Baie mense het al met raad gekom, maar niks wil werk nie, en magteloos moet Jaïrus toekyk hoe die lewe uit sy dogtertjie vloei. Dit is ‘n totaal hopelose situasie.

En dan bereik die nuus Jaïrus se ore: Jesus is terug in die dorp! “Dit is ons laaste kans!” sê hy vir sy vrou, en dan hardloop Jaïrus die straat af na waar hy verneem het Jesus besig is. “As daardie Jesus Simon se skoonma kon gesond maak, én die verlamde man, kan Hy mos my lieflingkind ook gesond maak!” Die arme man is desperaat.

Wanneer Jaïrus egter naby Jesus kom, sien hy tot sy groot ontsteltenis ‘n reuse skare wat rondom Jesus saamdrom. Hy druk sy pad tussen die mense deur: “Verskoon my, laat my deurkom asseblief. Dis dringend!” Stelselmatig wurm hy hom tussen die hordes deur, totdat hy Jesus uiteindelik hier reg voor hom sien staan. In wanhoop val die belangrike raadslid voor Jesus neer, smekend: “My dogtertjie, sy is besig om te sterf! Asseblief, kom lê tog net U hande op haar sodat sy gesond kan word en bly lewe…..”

Die skare is opgewonde, Jesus stem in om saam met Jaïrus te gaan. Hier gaan hulle vandag weer ‘n gróót wonderwerk sien! Tot Jaïrus se groot frustrasie gaan dit egter uiters moeilik, want almal wil naby Jesus wees om mooi te kan hoor wat Hy sê. Mense verdruk mekaar en stamp aan Jesus, en die stoet beweeg vorentoe teen ‘n slakkepas.

Intussen is daar egter ‘n ánder baie groot drama wat besig is om af te speel rég agter Jesus se rug. Met vrees en bewing het die vrou die besluit geneem dat hierdie haar enigste en laaste kans is. As sy tog maar net by Jesus kan uitkom. Twaalf jaar lank sukkel sy nou al met hierdie verskriklike kruis, amper so erg soos melaatsheid. Sy ly aan bloedvloeiing, en dit maak dat sy permanent onrein geklassifiseer word. Sy mag aan niemand raak nie. Dokters het al elke raad onder die son probeer, en finansieel is sy totaal uitgeroei. As sy tog maar net weer ‘n normale lewe kan lei......

Wat sy nou hier doen, is ‘n reuse waagstuk. Sy waag eintlik haar lewe om so tussen die mense deur te druk. Sy trek die tjalie laer oor haar gesig sodat iemand haar nie per ongeluk herken nie. As sy uitgevang word, stenig hulle haar! Haar hart klop wild in haar borskas, as sy skielik vir Jesus hier rég voor haar sien. “As ek tog maar net aan Sy klere kan raak!” Sy bewe van angs. Mense stamp en druk van alle kante aan haar, terwyl sy ‘n bewende hand uitsteek.

Die oomblik wanneer sy aan Jesus se klere raak, voel dit asof daar ‘n elektriese stroom deur haar liggaam vloei. Oombliklik is die pyn en ongemak van soveel jare weg, en sy wéét: “Ek is genees!”

Oombliklik stop Jesus. Hy draai om en kyk haar reguit in die oë: “Wie het aan my klere geraak?” Sy dissipels vind dit ‘n komiese situasie, want almal stamp en druk dan aan hulle Meester, en nou vra hy wie aan sy klere geraak het? Dis mos belaglik!

Bewend staan sy daar, spierwit geskrik omdat sy uitgevang is. Haar knieë word lam. Dan val sy voor Jesus neer, en in ‘n stroom van woorde vertel sy haar droewige geskiedenis, van die dokters, die verwerping, die verskriklike stigma wat aan haar gekleef het.

“Dogter,” kom Jesus se wonderlike trooswoorde, “jou geloof het jou gered. Gaan in vrede.” Dan verseker Jesus haar dat haar kwaal vir goed genees is. Sy is weer na al die jare ‘n normale mens.

Intussen staan Jaïrus en rondtrippel van nood. Sy dogtertjie is besig om te sterf, en Jesus raak nou eers besig met ‘n vrou! Haar kwaal dra sy al twaalf jaar met haar rond, kon dit nie maar nog ‘n klein bietjie langer gewag het nie? Netnou is dit dan hééltemal te laat!

Die vraag is nou, of die vrou se geloof haar gered het? Jesus sê dan so! Wat presies het Hy daarmee bedoel? Natúúrlik was hierdie ‘n Goddelike genesing, want Jesus het haar mos gesond gemaak. Maar waar kom háár geloof dan in?

Deur haar geloof maak sy die deure oop sodat Jesus se krag deur haar kan vloei. So werk dit vandag nog steeds. God is die Een wat genesing, uitkoms, krag, wysheid ensovoorts gee, maar terselfdertyd vra Hy van my en jou om die geloofstap te neem en die deur vir Hom oop te maak om die wonderwerk deur ons te laat geskied. “As julle maar die geloof van ‘n mosterdsaadjie gehad het,” het Jesus eenmaal Sy dissipels verwyt. Natuurlik is Hy by magte om enigiets te doen sonder ons geloof, maar God wil juis hê dat ons daardie volle vertroue in Hom sal hê, met die volle wete dat absoluut niks vir Hom onmoontlik is nie.

En Jaïrus se dogtertjie? Ons sal maar moet wag tot Maandag om te sien wat verder gebeur het!

Gebed:

Here, ek is dikwels so ongelowig wanneer ek U iets vra. Leer my asseblief van ware geloof!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026