Jaïrus se Dogtertjie

29 August, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Jaïrus se Dogtertjie

Markus 5:35-43

VIDEO * OUDIO

Jaïrus staan en rondtrippel van ongeduld. Sy dogtertjie is besig om te sterf en Jesus maak nou eers bemoeienis met ‘n vrou wie se langdurige siekte maar nog ‘n rukkie kon gewag het! Weet Jesus dan nie wat die erns van die saak is nie?

En dan, terwyl Jesus nog rustig met die vrou staan en gesels, kom daar van Jaïrus se mense aangehardloop. Hy sien sommer dadelik aan hulle gesigte dat hier baie slegte nuus is. “Meneer, u dogtertjie het gesterf!” Jaïrus word doodsbleek. “Waarom het Jesus tog so getalm? Hy kon dalk nog betyds gewees het, as dit nie vir hierdie vrou was nie.....”

Maar Jesus het gehoor waaroor dit gaan en dan draai Hy rustig om en sê vir Jaïrus: “Moenie ontsteld wees nie – glo net!” Hoe bly jy glo in sulke omstandighede? Dit is te laat om te glo! Dis klaar verby! Sy is dood en niks kan haar weer terugbring nie! Het hierdie gedagtes dalk deur Jaïrus se kop gegaan? Dalk sou dit die gedagtes wees wat deur my en jou verwarde verstand sou gaan as iemand vir ons sulke woorde van “vals hoop” sou gee, want ek dink dit is presies wat Jaïrus op daardie oomblik dalk sou kon dink.

Jesus beduie vir die skare om Hom asseblief alleen te laat. Dan vat Hy vir Petrus, Jakobus en Johannes saam met Hom na Jaïrus se huis. Daar tref hy ál die familie en vriende aan. Dit kerm en huil en rou, iets aller-verskriklik. Maar dit is nie net die familie wat kerm nie: daar is ook al die professionele roubeklaers. Twee manne speel hartseer musiek op fluite terwyl ‘n groepie vroue begraafplaas-liedere sing wat selfs die dooies koue rillings sal gee!

“Waarom gaan julle so tekere?” vra Jesus vererg vir die klomp.

“Weet Hy dan nie dat Jaïrus se dogtertjie dood is nie? Hoe kan Hy so onsensitief wees? Ons doen in elkgeval maar net ons werk!”

Dan bars Jesus die bom: “Die kindjie het nie gesterf nie, sy slaap net.”

Die spul bars uit van die lag: “Wat weet Hy tog? Hy was nie by toe die kind dood is nie! Ons het mos met ons eie oë gesien hoe die arme kind ly en hoe sy haar laaste asem uitblaas. En nou kom staan en spot hierdie Man met die dood! Dis verregaande!”

Jesus is egter nie klaar met hulle nie: “Gaan asseblief uit, almal!” Jesus neem vir Jaïrus, sy vrou en die drie dissipels saam met Hom die vertrek in waar die dogtertjie se lyk lê.

Deur sy hartseer trane, sien Jaïrus hoedat Jesus sy pragtige dogtertjie se koue slap handjie vat. “Wat gaan Hy doen?” Jaïrus se hart wil skeur. “Hy kan haar tog nie weer lewendig maak nie? Dis verby! Sy is dood!”

“Talita, koem!” (Dogtertjie, Ek sê vir jou: Staan op!) hoor Hy Jesus sê. Dan sien Jaïrus hoe sy dogtertjie se ogies ‘n flikkering toon. Sy maak haar oë oop, en onmiddellik kom die kleur terug in die spierwit doods-gesiggie. Dadelik is daar krag in die handjie wat Jesus vashou. Die twaalfjarige sit regop voor die verbaasde gesigte van haar ouers en dan staan sy uit die bed op - blakend gesond, asof sy nooit siek was nie!

Jaïrus is stom van verbasing. Hoe is dit óóit moontlik? Hy gryp sy vrou vas, en trane stroom oor hulle wange. “My dogtertjie leef!” is al wat hy kan uitkry. Hulle vreugde ken géén perke nie!

“Gee vir die kind iets om te eet,” beveel Jesus die ma. Buite vertrap die mense mekaar om te sien wat gebeur het. Hulle monde hang onbeskaamd oop van verbasing as hulle die dogtertjie springlewendig daar sien sit met ‘n bakkie kos voor haar. “Hoe is dit op aarde moontlik? Ons het dan sélf gesien dat sy dood is!”

Wat leer ons uit hierdie verhaal? Watter boodskap is hier vir ons vandag opgesluit in die aangrypende verhaal?

Eerstens dat Jesus bomenslike krag gehad het in daardie tyd, en vandag nog steeds het. Hierdie was menslik gesproke ‘n totaal onmoontlike situasie en só ook die een van die vrou in die vorige oordenking. Nogtans het Jesus dit verander na ‘n doodgewone situasie. Ons sien terselfdertyd dat die Koninkryk van God inderdaad gekom het, want daardie mense was stomgeslaan deur die gebeure. Hulle kon dit nie begryp nie. Vandag aanvaar ons dit as ‘n wonderwerk, want ons weet dat Jesus die Seun van God is en ons kan maar net in absolute verwondering voor Hom buig.

Die tweede boodskap wat Markus uitstuur is die rol van geloof. Ons verskraal dikwels ons geloof tot “glo in Jesus as ons Verlosser.” Geloof behels egter meer as dit. Daar is ander fasette waarvan ons moet kennis neem. Geloof beteken ook dat ‘n mens wat in ‘n situasie kom waar alles desperaat onmoontlik lyk, sy hand kan uitsteek na God in die verwagting dat Hy kan help. Daardie dominee wat verkondig het dat dit nie help om te bid nie, het nog nooit ontdek dat geloof en vertroue in God jou nie teleurstel nie. Om bloot te sê dat ons in Jesus glo, maar ons stel nie ons totale vertroue op Hom nie – selfs ook dat Hy die onmoontlike kan vermag, is om Jesus se mag in ons lewe te beperk tot slegs een enkele area. Ek nooi jou uit om Hom ten volle te vertrou!

Gebed:

Dankie Here, vir die asemrowende wonderwerke wat U daardie tyd gedoen het, en vandag steeds doen. Ek stel vandag my volle vertroue in U.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026
Brief aan die Efesiërs
21 July, 2026