Isebel van Tiatira

21 May, 2020
Luister Na Hierdie Dagstukkie Isebel van Tiatira

Openbaring 2:18-29

“Ek weet alles wat julle doen. Ek ken julle liefde, geloof, diensvaardigheid en volharding.” Pragtige woorde aan die gemeente in Tiatira!

Tiatira was ‘n handelsentrum waar tekstielwerkers, leerlooiers, skrynwerkers, wewers en pottebakkers gewerskaf het. Lidia, die Purperverkoopster van wie ons in Handelinge 16 lees, was uit Tiatira afkomstig. Die stad het nie natuurlike beskerming soos berge of riviere gehad nie, en was hulle maar baie kwesbaar teen enige militêre inval. Gevolglik het die inwoners in onsekerheid geleef.

Die gemeente se geloof was egter kerngesond. Al die mooi deugde van geloof was uitstaande kenmerke van die gemeente, en dit het nie ongesiens by die Seun van God verbygegaan nie. Hy deurgrond immers alles en almal. Wat meer is, hulle bly nie stagnant nie. Hulle is gedurig besig om steeds te groei in hulle geloof, presies die teenoorgestelde van wat in Efese aan die gang was. Wat ‘n wonderlike getuienis van ‘n gemeente!

Tóg is daar iets in die gemeente wat nie kosjer was nie: Isebel! Hulle laat hierdie vrou, Isebel toe om haar duistere dinge te doen. Soos met Bileam in die brief aan Pergamum, moet ons Isebel ook sien as ‘n simboliese figuur. Isebel verteenwoordig ‘n heulery met afgode en godsdiensgebruike. Isebel was mos die bose vrou van Koning Agab van Israel. Sy het destyds haar afgode, Baäl en Astarte met haar saamgebring, en uiteindelik die ganse Israel daarmee die afgrond ingelei.

“Isebel” van Tiatira was moontlik ‘n leierfiguur van die Nikolaïete, wat seksuele wanpraktyke en afgodsoffers beoefen het, en dus dieselfde rolmodel gespeel het as die bose Isebel van ouds. Sy word gewaarsku, dat as sy en haar volgelinge hulle nie van hulle wanpraktyke bekeer nie, sal hulle swaar getref word deur ‘n siekbed en pessiekte. Losbandigheid het dikwels die een of ander verskriklike siekte tot gevolg. Kyk maar byvoorbeeld na die verskriklike gevolge van Vigs, iets wat óók die gevolg is van ‘n losbandige lewe. Onskuldige mense, selfs kindertjies word dikwels getref deur iemand anders se onverskilligheid!

Hoe tragies, dat sulke dinge vandag dalk nog veel meer voorkom, dikwels selfs in lewendige gemeentes. Die gemeentelid wat losbandig lewe word nie vermaan nie, al weet almal daarvan. Die persoon word maar gelos om met die bose dinge voort te gaan. Dikwels is dit “onskuldige” dingetjies wat subtiel ingevoer word, en die gemeente word verlei om sodoende te heul met die duiwel. Kom ek noem ‘n voorbeeld: Iemand sê vir my ná die erediens, waar die verjaarsdae van die week afgelees is: “O, ek sien jy is ook ’n Leo!” (onder die sterreteken van Leo gebore.) En skielik flits gevaarligte, want talle mense, selfs gelowiges, volg die voorspellings van die sterre slaafs na. Hierdie is niks anders as duiwelspraktyke nie, en onskuldig word gelowiges ingesleep in die okkulte bedrywighede.

Nog ‘n voorbeeld is die vrou wat ‘n paar jaar gelede die program op TV aangebied het oor kontak met afgestorwenes. Dit was so pragtig geestelik ingeklee, dat talle gelowiges daarvoor geval het. Dit word in die Bybel beskryf as “’n gruwel in God se oë”, en dit is ook duiwelspraktyke! Bly weg van sulke dinge af, dit is bitter gevaarlik vir jou geestelike lewe.

Hierdie is maar enkele voorbeelde van die “diep geheimenisse van Satan” waarvan Johannes praat in vers 24.

Daar is egter ook ‘n pragtige getuienis oor die gemeente van Tiatira: Baie van die gemeentelede het hulle nie laat verlei deur hierdie verloklike booshede nie. Hulle moet vasstaan in hulle geloof in die opgestane Jesus Christus. Aan elkeen wat so vashou aan Jesus in die geloof, word die koningsheerskappy oor die nasies saam met Christus gegee. En elkeen wat volhard sal die môrester as geskenk kry. Ons kan die môrester sien as die aanbreek van die nuwe daeraad van die Messias, die nuwe Dawid se ryk. Die môrester is beskrywend van die “ster uit Jakob”, Jesus Christus. As jy Hom ontvang, beteken dit dat jy die nuwe lewe kry.

As ek op ‘n Sondagoggend my oë oor die gemeente laat dwaal, sien ek ‘n see van stralende gesigte, en ek weet: hulle het elkeen reeds die “môrester” as geskenk ontvang. Alles in hulle lewens wys dit - hulle ywer vir koninkrykswerk, hulle stralende liefde. Maar dan is daar ook die enkele “Isebels” tussen-in, goed gekamoefleer, en hulle beteken net moeilikheid! Jesus se dringende pleidooi uit hierdie brief is, dat as jy dalk ‘n “Isebel” is, bekeer jou baie dringend! Nie alleen lei jy jouself oor die afgrond nie, maar jy trek ‘n klomp mense met jou saam.

Gebed:

Dankie, Here Jesus, dat U ook vir my die nuwe lewe gegee het. Hou my asseblief styf vas sodat ek nie swig voor “Isebel” se verleiding nie, en dan wil ek ook bid vir elkeen wat ‘n “Isebel” in ‘n gemeente is, dat U haar (of hom) asseblief tot besinning sal ruk.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026