Romeine 10:16-11:17
Dit is so ironies dat die ganse heilsgeskiedenis juis in Israel begin het, maar dat die Jode nog steeds nie God se vryspraak ervaar het nie. Dit het begin by Adam, Noag en Abraham en Jesus se bloedlyn loop soos ‘n goue draad regdeur die duisende jare se geskiedenis van die Joodse volk. Telkens duik daar groot name uit die geskiedenis op wat in Jesus se stamboom ingewortel is.
Nie lank na Jesus se kruisiging nie, is daar ‘n magtige ontploffing van die Christendom, reg in die hartjie van Jerusalem. Drieduisend mense, meeste van hulle Jode, word op een dag gelowig op Pinksterdag. Wie is dit dan wat die blye boodskap van die evangelie die wye wêreld indra? Niemand anders nie as Jode! Selfs die grootste sendeling van alle tye, Paulus, was só Joods dat hy as jong man ‘n gesoute Fariseër was!
Wat het van al die Joodse Christene geword? Selfs in Paulus se eie tyd al het die Jode die Christendom verwerp. Telkemale as Paulus in die moeilikheid kom, kan jy maar seker wees dat daar iewers Jode agter sy vervolging sit. En vandag? Wys my ‘n Jood wat ‘n Christen is! Hulle is bitter yl gesaai! Deur die eeue heen het die geskiedenis oor en oor bewys dat die Jode ‘n hardkoppige nasie is.
Dis baie maklik om vinger te wys na die Jode, maar ons leef eintlik nou in ‘n post-Christelike era. Skaars 180 jaar gelede was die ou Voortrekkers wat die ganse binneland bevolk het beskou as ‘n diep-gelowige volk en slegs by groot uitsondering het iemand afgewyk van die “smal weg”.
Die bordjies is verhang en nou is die gelowige eintlik die uitsondering op die reël. O ja, statistieke het getoon dat 80% van Suid-Afrikaners Christene is. Dit is egter net in naam want slegs ‘n baie klein persentasie van daardie sogenaamde “Christene” is gelowiges. Hulle hang die Godsdiens aan en sommige gaan selfs kerk toe, maar hulle bevind hulleself in werklikheid in dieselfde posisie as die Jode, want hulle staan in groot gevaar om God se vryspraak heeltemal mis te loop.
Dit plaas natuurlik op my en jou as gelowiges ‘n baie groot verantwoordelikheid want die voorbeeld wat ons stel is die enigste ware preek wat hulle dalk ooit sal hoor! Daarmee bedoel ek dat my lewe by hulle só ‘n honger moet gee vir die geloof, dat hulle positief sal reageer wanneer die evangelieboodskap hulle bereik. Dit help gewoonlik nie as die boodskap aan hulle opgedring word nie. Daar is egter baie maniere waarop jy die Evangelie kan oordra. Een manier is om eenvoudig so ‘n persoon uit te nooi om saam met jou ‘n Bybelstudie of lofprysingsgeleentheid by te woon. Dit kan deure oopmaak vir die Evangelie. Ek bid dat hierdie dagstukkies, waarvan ek al duisende uitgestuur het, by iemand ‘n honger vir die evangelie sal wakker maak. Inderdaad het dit al verskeie kere gebeur!
Om terug te kom by die Jode: die vraag is vanoggend of die Jode dan nou finaal verlore is? Is daar géén salf te smere aan hulle nie? Hulle het immers die evangelie verwerp? Inderdaad is daar wél baie Jode wat die Evangelie reeds aanvaar het. Paulus is hiervan ‘n baie groot voorbeeld. My goeie ou vriend Clive Stein van Ballito is een so 'n vurige Christen-Jood. Vandag is daar ook ‘n baie sterk beweging onder sekere Jode, sogenaamde Messiaanse Jode, wat die evangelie aanvaar het, maar steeds hulle Joodse tradisies behou. In Suid-Afrika is daar die beweging met die naam: Jews For Jesus wat intensief evangelisasiewerk doen onder hulle mede-Jode. God het nie die Jode verwerp nie, die Jode het God verwerp. Nogtans is God se genade só groot, dat Hy enige Jood wat Hom verwerp het met liefdevolle, ope arms sal verwelkom in Sy koninkryk!
Wat vir die Jode geld, geld natuurlik ook vir alle volke. God se genade is so wyd soos die heelal en absoluut niemand is uitgesluit nie, selfs nie die gehardste ongelowige of ateïs nie.
Paulus noem in vers 11 dat die geloof van die heidennasies die Jode jaloers moes maak. Net so moet jy só lewe dat dit ongelowiges jaloers sal maak sodat hulle óók sal wil hê wat jy het. Presies net dít het met my gebeur. Ek was as jong man bitter jaloers op ‘n jong meisie wat haar geloof voluit geleef het. Hoekom kon ek nie ook bid soos sy nie? “Sy dweep!” het ek dikwels gedink, totdat ek later ook gered is deur God se genade en daar vir my ‘n totale nuwe lig opgegaan het oor waarom sy leef soos wat sy leef! Ongelukkig gebeur die teenoorgestelde dikwels, dat gelowiges jaloers raak op die bandelose lewe van ongelowiges. Dit is egter ‘n hol en niksseggende lewe en as jy vasbyt en streef na ‘n intieme geloofsverhouding met God, raak hierdie dinge naderhand vir jou waardeloos. Vermy ongelowiges se slegte invloed en bid die Heilige Gees om jou die wil te gee om ‘n geloofsvoorbeeld uit te leef wat ongelowiges soos ‘n magneet na God sal trek.
Gebed:
Heilige Gees, help my asseblief om sodanig te leef dat ongelowiges jaloers sal word op die blydskap wat ek uitstraal en U sal soek!