1 Tessalonisense 4:13-18
Onthou jy nog die treurmares en Jeremiades van die Briels? Ek het as kind koue rillings gekry as hulle sing van grafte en lyke en bittere, hartseer verlangens - en natuurlik daardie berugte trein na Pretoria. Onthou jy nog hoe die oumense altyd gerou het? Die arme vrouens moes lang, pikswart rokke dra vir máánde na die geliefde al in die graf is, en die mans moes swart roubandjies dra sodat almal kon weet dat hy ‘n familielid aan die dood afgestaan het. Daar durf ook nie ‘n sweempie van ‘n glimlag op die arme weduwee se gesig wees nie, want dan dink almal dat sy nie ernstig is oor haar geliefde se afsterwe nie. En wanneer sy kerk toe gaan, moes sy ‘n swart sluier oor haar gesig dra.
Vandag is daar steeds mense wat op dieselfde manier rou. Ek gesels eendag met ‘n Hindoe dame, en die dood kom ter sprake. Sy vertel my toe hoe hulle Hindoes so verskriklik rou wanneer iemand te sterwe kom. Ja, hulle glo ook in ‘n lewe na die dood, vertel sy my, en dan verduidelik sy vinnig van reïnkarnasie. “Glo jy in lewe na die dood?”, wil sy van my weet, en ek kry die geleentheid om prontuit te vertel waarheen ek gaan, en dat ek geensins bang is om te sterf nie!
‘n Tyd gelede vlieg ’n vliegtuig naby Barberton teen ‘n berg vas. Nege mense sterf. Die pa van een van die slagoffers, sê later: “Ek dink nie aan die dood van my seun nie - ek vier sy lewe!” Wat maak die verskil dat die een persoon bitterlik rou oor ‘n geliefde, terwyl ‘n ander dit aanvaar? Natuurlik is daar droefheid, dis net natúúrlik, maar die bittere, hartverskeurende smart is nie te bespeur nie.
Die Tessalonisense het nie Jesus se wederkoms mooi verstaan nie. Hulle het geglo dat dit baie gou sou gebeur, en dat hulle almal Jesus sou ontmoet wanneer Hy op die wolke kom. Hulle het gewag, maar dit het nie gebeur nie. Intussen het daar van hulle gesterf, die gemeente wou baie bekommerd van Paulus weet wat die situasie was? Sou diegene wat voortydig sterf, Jesus se wederkoms misloop? Dit was vir hulle ‘n reuse probleem, en wanneer iemand sterf het hulle bitterlik gerou. Dit was ‘n tragedie.
Paulus moes verduidelik dat die dood nie ‘n finale skeiding is, soos wat hulle gedink het nie. Dis alles slegs tydelik! Wanneer Jesus terugkeer word die gees en die liggaam weer herenig, en so word ook die gelowiges weer herenig. Dan gaan dié wat reeds gesterf het en diegene wat nog lewe met Jesus se wederkoms ook weer bymekaar wees, vir altyd!
Paulus se bedoeling met hierdie skrywe was nie om ‘n haarfyn beskrywing te gee van presies wat gebeur in watter volgorde met die Wederkoms nie. Hy wou bloot die verontruste gelowiges die versekering gee dat die ontslapenes nie ‘n agterstand het wanneer Jesus kom nie.
Paulus praat hier van “ontslapenes.” Elders in die Bybel word die dood met “slaap” vergelyk. Net soos wat fisiese slaap slegs ‘n tydelike toestand is, so is die dood ook maar net ‘n tydelike toestand. Jesus het die angel uit die dood gehaal. Dit is eintlik ‘n mooi beeld om die dood met slaap te vergelyk, want daar is nogal ‘n paar interessante ooreenkomste.
Soos slaap ‘n tussentoestand is, so is die dood ook ‘n tussentoestand. Voordat jy slaap, is jy wakker, en nadat jy geslaap het is jy weer wakker. Jy rus dus net. Net so is die dood óók ‘n wonderlike “rus” by die Here. Wat presies daarna gebeur, is ongelukkig vir ons ‘n misterie, want daar word bitter min hieroor in die Bybel geskryf. Ons kan maar net sekere afleidings maak.
Die tweede vergelyking met slaap, is dat wanneer jy wakker word, en jy kyk in die spieël, dan sien jy nog presies dieselfde mens. So is dit ook met die opstanding na die dood, waar jy nog dieselfde mens gaan wees.
Derdens, nadat jy geslaap het, is jy uitgerus en vars. Jy staan as’t ware as ‘n nuwe mens op na ‘n goeie nagrus. Met die dood is nog veel meer so, want jy word ‘n totale nuwe mens, nie met ‘n verfrisde liggaam nie maar ‘n verheerlikte liggaam sonder siekte, pyn en beperkings.
Wanneer jy dus weer by die graf of sterfbed van ‘n geliefde staan, herinner jouself dan aan die woorde van 1 Tess. 4:17 en 18, en ervaar die wonderlike troos wat God jou daar gee. Inderdaad sal ons saam met ons geliefdes wees by Jesus. Verséker kom daar ‘n herontmoeting om nooit, óóit weer van mekaar geskei te wees nie. Daar lê ‘n wonderlike toekoms voor saam met die Here, nadat Hy ons nuutgemaak het. Ja, die soete trooswoorde van 1 Tess 4:13 gee aan elkeen van ons hoop: “Dan sal julle ook nie (só) treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie”. Natúúrlik mag ons treur en bedroef wees, want ons word immers vir ‘n tyd lank geskei van iemand vir wie ons lief is, en ‘n mens verlang. Maar dié wonderlike hoop gee vir ons vertroosting, want die skeiding is nie vir altyd nie, maar slegs tydelik.
Gebed:
Baie dankie dat U ons troos met ‘n wonderlike hoop, selfs wanneer die dood ‘n skadu oor ons gooi.