Om te krap waar dit nie jeuk nie, kan gevaarlik wees - so het die eerste vrou in die wêreld (volgens ‘n ou Griekse legende) uitgevind. Haar naam was Pandora. Volgens hierdie verhaal is daar aan haar ‘n kissie gegee, en saam daarmee ‘n opdrag dat sy dit onder géén omstandighede mag oopmaak nie. Nou vra ek jou met trane in my oë, is dit nou nie die mees onregverdige ding om enige vrou aan te doen nie? Soos dit natuurlik enige volbloed vrou betaam, het haar nuuskierigheid die oorhand gekry, en sy kon net eenvoudig nie anders nie as om te loer wat in daardie geheimsinnige kissie is. En nét daar begin al die ellende toe, want toe sy die deksel lig, vlieg die aller-liederlikste dinge daar uit: rampe, siektes, ouderdom, misdaad, swaarkry en al wat ‘n ellende is. Sy probeer wal gooi, maar dis puur verniet! Al wat sleg is borrel in ‘n stroom by haar kissie uit. Spierwit geskrik klap sy uiteindelik tóg die deksel toe, net voor die heel laaste ding uitvlieg. Wat het in die kissie oorgebly? HOOP! Sonder hoop sou die mensdom nooit die magtige vloed van onheil wat Pandora laat ontsnap het kon hanteer nie.
Inderdaad is dit maar net ‘n storie, ‘n legende, maar die feit is dat sonder hoop baie mense nooit sal kan oorleef nie. ‘n Goeie voorbeeld hiervan is die Nazi konsentrasiekampe, waar mense soos uitgeworpe diere aangehou is in die mees haglike omstandighede. Die bekende skrywer, Victor Frankl het in sy boek, “Man’s Search for Meaning” geskryf oor sy ervaringe in so ‘n kamp. Hy vertel dat die enigste mense wat daar oorleef het, dié was wat nog hoop gehad het. Hoop het hulle letterlik aan die lewe gehou.
Die Hebreërskrywer wil vir sy lesers hoop gee. Hulle het baie vervolging ervaar, en die verskriklike lewensomstandighede het hulle dikwels wanhopig gehad. Baie mense het moed verloor. Is daar ooit vir hulle iets oor in die lewe? Inderdaad! Daar is hoop! God hou sy beloftes!
Abraham was ‘n voorbeeld van iemand wat op hoop geleef het. As hy kinderloos sou sterf, sou dit die einde van ‘n geslaglyn beteken het. ‘n Groot ramp! God het egter aan Abraham ‘n belofte gemaak van ‘n ontelbare nageslag, en Abraham het vasgeklou aan daardie hoop, al het dit naderhand totaal onmoontlik gelyk dat God so ‘n belofte sou kon vervul. Die groot honderd het al aan Abraham se deur geklop, toe is daar nog steeds geen kinderlaggies in sy tent nie. Abraham het egter steeds op God vertrou, want God het dit met ‘n eed bevestig. Abraham het nooit sy hoop verloor nie.
En toe kom die vreugdevolle dag toe klein Isak gebore word. Mamma Sara was toe al oud genoeg om ‘n Oumagrootjie te wees, en Abraham moes al stringe agterkleinkinders gehad het. Net ‘n paar jaar later kry hy egter die skokkende opdrag om vir klein Isak te gaan offer. Het God dan sy belofte verbreek? Abraham se hoop was egter steeds gevestig op God se beloftes, en Hy het voorsien.
Vandag leef ons ook in bitter onseker tye. O ja, daar is baie mense in ons mooi land wat stinkryk is, en op die oog af nie ‘n bekommernis in die wêreld het nie. Maar miljoene mense leef in die grootste onsekerheid. Wat gaan die dag van môre vir ons bring? Gaan my motor dalk gekaap word? Gaan ek beroof word? Moordenaars, verkragters en rowers skuil om elke hoek en draai. Gaan ons land ekonomies oorleef? Gaan al die korrupsie, staatkaping ens. nie uiteindelik die totale ondergang van ons land beteken nie? En wat van aardverwarming? Daagliks sien ons hoe toestande versleg, en hoe ons mooi aarde besig is om weg te kwyn. Die pole is klaar besig om te smelt, en ongekende droogtes en vloede teister die ganse aarde. Ons is besig om die wêreld te vernietig, en dit lyk asof niemand iets daaromtrent wil of kan doen nie. Is daar nog hoop?
Vir iemand wat nie deel het aan God se beloftes nie, is daar géén hoop nie. As jy nie die Woord van God as grondslag vir jou lewe het nie, lyk die prentjie bitter donker. Vir my en jou, vir wie God geloof gegee het, is dit egter ‘n héél ander prentjie. Die Bybel is propvol wonderlike beloftes waaraan ons kan vashou. Oor hierdie beloftes skryf die Hebreërskrywer: “Die twee onveranderlike dinge, die belofte en die eed, waarborg dat God sy woord gestand sal doen, en is vir ons wat ons toevlug tot Hom geneem het ‘n kragtige aansporing om vas te hou aan die hoop wat vir ons weggelê is.”
Ja, selfs as die heel ergste gebeur, is daar steeds hoop. Wat vir ons dalk na die einde lyk, is slegs die begin. Agter die “voorhangsel” lê die begin van ‘n onbeskryflike splinternuwe lewe waarvan ons nou maar net kan droom. Openbaring trek die gordyn op ‘n skrefie oop, en dit slaan jou asem skoon weg. Het jy hoop? Ek hoop van harte so!
Gebed:
Here, ek kan U nie genoeg loof en dank en aanbid vir die wonderlike anker van hoop wat U vir my gegee het nie. Dankie vir die heerlike vooruitsig van die lewe hierna waarop ons hoop.