Is daar Lewe na die Dood?

10 November, 2021
Luister Na Hierdie Dagstukkie Is daar Lewe na die Dood?

Lukas 20:27-40

VIDEO OUDIO

Hoe verskriklik moet dit nie wees as daar nie ‘n opstanding uit die dood sou wees nie? Dan was daar mos niks om voor te lewe buiten om jouself in wêreldsplesier te dompel nie! In die tyd toe Lukas die verhaal geskryf het, was daar ‘n Godsdienstige groep wat presies dit geglo het - die Sadduseërs. Die tragiese was dat hulle verskriklik Godsdienstig was! Hulle het die kern gevorm van die priesterdom in Jerusalem. Die Sadduseërs was fanatiese wetsonderhouers, wat die wet tot op die laaste kommatjie uitgeleef het. Daar het ongelukkig niks in die wet gestaan van die opstanding na die dood nie en daarom het hulle dit verwerp. As jy dood is, is jy dood! Finaal! Die Fariseërs en Sadduseërs het nie om dieselfde vuur gesit nie, want hulle lewensbeskouings was totaal verskillend. Hulle het egter een gemeenskaplike vyand gehad – Jesus!

Op ‘n dag konfronteer hulle Jesus oor die sogenaamde leviraatshuwelik. Vir die mense van daardie tyd was dit van kardinale belang dat ‘n man se naam voortleef in sy kinders. As ‘n arme man dus kinderloos sou sterf, was dit ‘n baie tragiese storie, want hoe kon sy naam dan voortleef? Dus was daar ‘n plan beraam. Die gebruik was dat die man se oudste broer dan soort-van verplig was om met sy oorlede broer se vrou te trou. Die kinders uit hierdie huwelik was amptelik nie syne nie, maar sy oorlede broer s’n want hy het namens sy broer kinders verwek. As dit dan nou sou gebeur dat daardie broer óók kinderloos sou sterf, dan sou die onus oorgaan op die volgende broer.

Hierdie Sadduseërs moes seker baie tyd gehad het om die strikvraag uit te werk waarmee hulle Jesus wou vastrek. Hulle het juis die leviraatshuwelik gebruik om te probeer sê hoe belaglik hierdie “lewe-na-die-dood” storie nou eintlik was. Dit kon mos nie werk nie? Dis nie logies nie! Hierdie Jesus sou nie uit hierdie tamaletjie kom nie - so het hulle gedink. G’n mens sou hierdie raaisel oplos nie!

Hulle het nie rekening gehou met die feit dat hulle nie maar net met ‘n “gewone mens” te doene gehad het nie, maar met Jesus, die Seun van God. Jesus het dit egter onomwonde gestel dat daar wél ‘n lewe na die dood is. Alhoewel die Sadduseërs nie in die opstanding geglo het nie, het hulle egter wél in God geglo. Jesus se troefkaart was dat Hy nie ‘n God van dooies is nie, maar van lewendes. Moses het gepraat van die God van Abraham, Isak en Jakob. Hy was steeds hulle God, dus kon dit mos nie anders as dat hulle springlewendig moes wees nie!

Watter wonderlike troos is dit nie om hierdie woorde uit die mond van Jesus te hoor nie. Dit sê vir ons dat ons geliefdes wat gelowig gesterf het, nie werklik dood is nie, maar slegs deur die poorte van die hemel gegaan het. Die ou liggaam het dalk agtergebly, maar die belangrike deel, die gees leef voort. Hoe presies hulle nou lyk, weet ons nie. Dat hulle herkenbaar is, is egter wéln feit! Jy onthou sékerlik nog van die insident toe Petrus, Jakobus en Johannes met hulle eie oë vir Moses en Elia saam met Jesus gesien het tydens Sy verheelriking op die berg. Vir ‘n kort stonde het God die hemelpoorte oopgemaak sodat hierdie bevoorregte manne vir hulleself kon sien hoe ‘n groot werklikheid die lewe na die dood is!

Wanneer Jesus vir die Sadduseërs verduidelik van hoe dit in die hemel werk, dan trek Hy as’t ware die gordyn vir ons op ‘n skrefie oop sodat ons kan inloer. Ons weet uit verskeie berigte van verskynings van spesifieke engele oor ‘n tydperk van duisende jare in die Bybel, dat hulle net eenvoudig voortleef vir ewig. Hulle is nie gebonde aan ‘n verganklike liggaam soos ons hier op aarde nie. Jesus sê dan ook onder andere dat diegene “wat waardig geag is” soos engele sal wees wat dit aanbetref. Die groter troos is dat hulle ook kinders van God sal wees.

Maar nou is daar iets wat ons die wenkroue laat lig, want volgens dit wat Jesus sê, sal nie almal hierdie voorreg hê nie. Slegs “dié wat waardig geag is om deel te hê aan die toekomstige wêreld”, sal hierdie wonderlike voorreg smaak. Die vraag is, wie is dan waardig? Is ek ooit waardig? Was my geliefdes wat gesterf het waardig? Leef hulle?

Wat is die voorwaardes om daardie waardigheid te bekom? Jesus is ook Sélf aan die woord wanneer Hy by ‘n ander geleentheid deur ‘n Fariseër met die naam Nikodemus uitgevra word. Jesus het vir Nikodemus verduidelik:God het die wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.” Dit is opgeteken in die welbekende Johannes 3:16. Verskeie ander uitsprake sê presies dieselfde, dat as jy in Jesus glo, dan is jy waardig om die ewige lewe te hê! Dit is nie hoe ‘n goeie mens jy is wat jou waardig maak nie, maar slegs die wonderlike, groot genade van God kan jou waardig maak. Laat dit dus vandag vir jou die wonderlike vertroosting wees, dat as jou afgestorwe geliefde in Jesus geglo het, hy of sy nou soos ‘n engel lewe, en dat dieselfde op jou wag as jy glo.

Gebed:

Dankie vir die wonderlike troos wat U my gee Here.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Samuel Salf Dawid
9 September, 2026
Gehoorsaamheid
8 September, 2026
Saul Verloor Vertroue
7 September, 2026
Samuel se Afskeidsboodskap
4 September, 2026
Saul se Vuurdoop
3 September, 2026