Nehemia 7
Dit was ‘n blye dag toe Jerusalem se mure voltooi was. Alles was kant en klaar - die mure was weer so goed soos nuut en die poorte herbou met hulle deure in plek. Die volgende stap was nou om mense aan te stel wat verantwoordelik sou wees om die poorte te bewaak, die sogenaamde Poortwagte. Dit was broodnodig dat hier baie verantwoordelike manne sou diens doen, want die vyande van die volk was slinks! Nehemia het die Samaritane nog glad nie vertrou nie en hy wou nie met hulle ‘n kans waag nie. Hulle het daarom die duidelike opdrag gekry dat Jerusalem se poort nie oopgemaak moes word voordat “die son warm is nie” (v. 3). Dit moes voor sononder weer gesluit en gegrendel word vir die nag sodat niemand verby die wagte kon insluip nie!
Terselfdertyd word daar egter ook na die geestelike omgesien, en daar word sangers en Leviete aangestel.
Dit was egter van uiterste belang dat daar verantwoordelike persone aangestel moes word om die stad se bestuur te behartig. Gananie, waarskynlik die persoon wat hom destyds vertel het van die haglike toestand van die stadsmure, kry hierdie taak. Saam met hom word Gananja aangestel. Hy word beskryf as ‘n baie betroubare man en dat hy groot eerbied vir God gehad het. Dis belangrik dat persone in sulke verantwoordelike posisies nie alleen sterk leierseienskappe moet hê nie, maar ook in ‘n noue verhouding met God moet staan!
Toe die onluste ons in KwaZulu-Natal getref het in Julie 2021, was ek en my bure genoodsaak om snags wag te staan om te verseker dat ons huise veilig sou wees. Die toestand was baie onstabiel! In Jerusalem was toestande óók baie onseker, dus was dit nie slegs die poortwagte wat snags op diens was nie, maar die ander inwoners van Jerusalem moes óók wagstaan, meeste sommer voor hulle eie huise. Dit was beslis nie maklike tye nie!
Hiermee was Nehemia se primêre taak afgehandel. Nogtans kon hy nie nou agteroorsit en ontspan nie, want daar was nog baie werk om te doen. Die mure was wel gebou, maar binne die stad was dit maar saai! Baie van die huise was in ‘n haglike toestand en die stad was grootliks ontvolk omdat baie van die ou inwoners na kleiner dorpies rondom Jerusalem getrek het as gevolg van die haglike toestande. Jerusalem moes weer ontwikkel word tot ‘n volwaardige stad. Nehemia sou ‘n behoorlike opname moes maak van die families om mense te hervestig.
Intussen het Nehemia ‘n lys ontdek van al die mense wat destyds na die ballingskap teruggekeer het. Dit was al meer as 100 jaar tevore gewees wat die terugtog plaasgevind het onder leiding van Serubbabel. Hierdie lys moes as hulpmiddel dien vir Nehemia om te bepaal watter families in Jerusalem hervestig moes word. Ons lees ook in Esra 2 van hierdie selfde lys. Vir latere lesers van die boeke Kronieke, Esra en Nehemia het hierdie lys die belangrike leierskap van hierdie drie persone, Serubbabel, Esra en Nehemia beklemtoon. Esra was natuurlik verantwoordelik vir die herstel van die tempeldiens, terwyl Nehemia weer gefokus het om die geloofsgemeenskap en die stad te herstel. Hier sien ons dus die verband tussen die werk van die drie leiers in perspektief.
Hierdie is ‘n ellelange lys van name van mense wat vir ons totaal onbekend is. Dit is maar een van etlike soortgelyke lyste wat in die Bybel voorkom, nie alleen in die Ou Testament nie maar ook in die Nuwe Testament. Vir ‘n buitestaander is dit maar net nóg ‘n vervelige lys, maar vir iemand wat hierby betrokke is, is dit ‘n vertroosting en bemoediging. Ek was ‘n tydjie gelede by Dingaanstat, waar daar so ‘n lang lys name op ‘n monument is van almal wat gesterf het toe Dingaan die Voortrekkers uitgemoor het. Vir ‘n buitestaander is dit net ‘n lys name, maar vir my was dit hartroerend, want ek het daar name gesien van my eie familie, selfs my eie Groot-oupa! Dit was veral vertroostend toe die ou Zoeloe predikant se woorde daardie middag was, dat dit ons moes aanspoor tot versoening!
Watter soort vertroosting kan ons vandag hieruit put? Vir ‘n begin gee dit vir ons vandag die versekering dat God nie ‘n enkele een van Sy kinders vergeet nie! Die naam van elkeen wat aan die Here behoort, word geskryf – nie in ‘n lys soos hierdie nie, maar in die groot Boek van die Lewe. Alreeds van die tyd van die skepping af, word name in hierdie boek geskryf, so lees ons in Openbaring 13:8. Ons moet dit baie deeglik besef dat God, wat deur al die eeue oor die wêreld regeer, getrou is tot in die kleinste besonderhede oor ál die name van Sy kinders! En dit sluit my ook in, en óók jou!
Gebed:
Here, wanneer ek hierdie lys name lees, wil dit my moedeloos maak, totdat ek begin besef dat U wonderlike genade daarin uitgebeeld word!