Daniël – Inleiding
Die wêreldpolitiek was seker nog nooit so deurmekaar as juis nóú nie. In Suid-Afrika wankel die regering en dreig om uitmekaar te skeur. Korrupsie vier hoogty selfs binne die kabinet. Dwelmkartelle, bendes, konstruksiemafia en dergelyke organisasies beheer ons samelewing. Ons buurlande is gedurig in die moeilikheid en daar is amper net soveel Zimbabwiërs onwettig in Suid-Afrika as in Zimbabwe. Elders in Afrika woed gevegte voort in bloedige oorloë. Daar is reeds duisende mense dood in die oorlog tussen Rusland en die Oekraïne en die skrikwekkende oorlog tussen Israel en Gamas eis talle onskuldige lewens.
Intussen is Amerika besig om ekonomiese verwoesting te saai regdeur die wêreld met hulle kranksinnige invoerbeleid. Boonop sit ons met ‘n ander krisis op hande: die wêreld se klimaatstoestande is besig om teen ‘n skrikwekkende tempo te verander. Sommige kenners reken dat die Noordpool se see-ys binne slegs vyf jaar totaal gaan verdwyn in die somermaande. Wat gaan dit aan ons klimaat doen? Gaan dit veroorsaak dat seevlakke drasties styg? Wat gaan word van ons eie land se landbou?
Onsekerhede, onsekerhede.......
Te midde van sulke onsekerhede gryp mense na enige strooihalmpie om te kan sien wat gaan gebeur. Wat hou die toekoms vir ons in? Die mens het ‘n natuurlike vrees vir die onbekende en dikwels jaag jy vir jouself voorspooksels op oor wat gaan gebeur. Ek onthou nog baie goed, toe ek op skool was, toe die Russe met ‘n skeepsvrag wapens na Kuba op pad was, en die Amerikaners gedreig het om hulle op te blaas. Dit was 16 tot 28 Oktober 1962 tydens die Kubaanse Missielkrisis, seker die mees spannende oomblikke van die Koue Oorlog. Dag na dag het ons kinders asem opgehou vir wat sou gebeur, want Rusland het gedreig om Amerika aan skerwe te blaas met atoombomme as hulle die skip sou aanval, en Amerika was weer op sy beurt gereed om Rusland te disintegreer. “Die derde wêreldoorlog gaan uitbreek!”, het ons vir mekaar gesê. Dis skip het omgedraai, en die oorlog het toe nooit gebeur nie. Die feit is dat alle mense ‘n behoefte het in vastigheid. Ons wil graag die versekering hê dat wat op ons lewenspad gaan kom, voorsien is.
Dit is in sulke oorgangstye en te midde van hierdie soort onsekerhede dat mense na steunpilare soek waaraan hulle kan vashou. En as hierdie steunpilare dan boeke is wat die toekoms haarfyn “voorspel”, dan verkoop hulle soos soetkoek - mense raap hulle op en verslind die inhoud. Sulke boeke plaas die gebeure op hande in ‘n netjiese patroon, en dit is wat mense wil hê. Hal Linsey se boek, “Die groot planeet aarde - wat is sy toekoms?”, het soos soetkoek verkoop. Lindsay was van mening dat die wêreldgebeure aan die einde van die twintigste eeu haarfyn in die Bybel voorspel is. Siener van Rensburg, wat gedurende die Anglo-Boereoorlog as siener opgetree het, is veral onder die Afrikaanssprekende mense baie gewild. Hy het die gebeure in Suid-Afrika aan die einde van die twintigste eeu voorspel. Nog ‘n baie gewilde “profeet”, was die sestiende-eeuse geneesheer en astroloog, Nostradamus. Hierdie Fransman se voorspellings word vandag nog steeds opgeslurp deur baie mense.
Ons moenie mense se behoeftes aan sekerheid en vastigheid sommer ligtelik opneem nie. G’n mens kan immers sinvol leef in totale chaos en anargie nie!
Die skrywer van die boek Daniël het hierdie behoefte aan sekerheid onder die gelowiges van sy tyd raakgesien, en daarom het hy ‘n boek geskryf wat hulle kon help om sin te maak van die dinge wat rondom hulle afgespeel het. Wie die skrywer was, weet ons ongelukkig nie, maar dit was geskryf in die tweede eeu vC. Vir hierdie skrywer was dit baie belangrik dat sy lesers hulle nie sou blindstaar teen die chaotiese gebeure rondom hulle nie. Hulle moes vir God raaksien! Hy is immers die Een wat saam met hulle die toekoms ingaan en wat uit hierdie oënskynlike chaos weer orde kan skep.
Waar ek en jy vandag in ‘n tydperk staan van “totale chaos” (so lyk dit vir ons), kan hierdie inspirerende boek uit die Ou Testament vir ons in die een en twintigste eeu steeds troos bied en vastigheid in ons lewens gee. Baie mense wil die boek Daniël sien as ‘n profetiese boek wat die gebeure vandag vir ons voorspel. Ons moenie allerhande dinge in Daniël probeer lees wat nie daar is nie. Saam met die skrywer moet ons liewer die troos vind dat God met ons is - maak nie saak wat die omstandighede nie. Ons moet terdeë besef dat daar geen nag is - hoe donker ookal - waarin God nie by ons is nie!
Vir my is die boek Daniël ‘n uitdaging. Ons is so geneig om slegs die “stories” in die boek te lees, en wanneer ons by hoofstuk 7 tot 12 kom, dan blaai ons liewers verby, want dit is te hoog vir ons. Ek nooi jou uit om saam met my sin te maak van hierdie heerlike boek. Ek gaan die Bybellennium van Prof. Wil Vosloo en Fika van Rensburg gebruik as handleiding - as jy een het, trek hom gerus ook nader! Ek leen verder ook uit Ds. Wouter te Haaf se boek oor Daniël: Gewaarborgde Oorwinning.
Gebed:
Here, dankie dat ek vanoggend die versekering het dat U elke oomblik by my is, selfs al lyk dit soms of chaos my oorval het!