1 Samuel 16:19-23
Wanneer die hoogste gesag in die land jou oproep vir diens, dan weier jy dit nie sommer nie. Baie jare gelede was ek ook opgeroep vir diens. Ek was nog maar ‘n jong seun - skaars 16 jaar oud toe ek in 1964 ‘n amptelike brief van die Generaal kry om aan te meld vir diensplig. “Mag ek asseblief eers klaar Matriek skryf?” het ek gesoebat, en hy het my een jaar grasie gegee. Daarna het ek egter géén verskoning meer gehad nie en ek was verplig om te gaan “voete stamp” op Potchefstroom se paradegrond. Harde dae van bloedsweet en klippe kou! Maar die nege maande in diens van die weermag het my beslis voorberei vir die lewe want ek het gegroei van ‘n blote seun na ‘n volwasse man, en boonop hope mensekennis opgedoen. Dit was in ‘n sekere sin vir my kosbaar gewees, alhoewel ek beslis nie toé so gedink het nie!
Ek dink nie dat Dawid besef het watter kosbare geleentheid hy gekry het toe hy daardie dag daar in die veld by sy skape die nuus kry dat Pa Isai hom onmiddellik by die huis soek nie. “En jy moenie jou lier vergeet nie!” dra die slaaf Isai se bevele oor. Toe Dawid daar aangedraf kom, is sy goed alles klaar gepak. “My seun, die koning het jou nodig!” moes hy aanhoor. Daar was skaars tyd om te groet, want die donkie was gelaai met brood, ‘n sak wyn en ‘n klein bokkie. En die koning se boodskappers het al ongeduldig staan en rondtrippel oor hy so lank gedraai het!
Toe Dawid by Saul se paleis aankom, wou hy hom vergaap aan al die mooi bouwerk. “Kom, die koning wag vir jou!” word hy uit sy verwondering weggeruk.
Dawid het al baie gehoor van Koning Saul. Sy broers het al dikwels saam met die koning geveg, en hulle het hom vertel dat hy ‘n baie dapper man was en baie, báie lank, langer as énige man in Israel!
Dawid se kniekoppe klap behoorlik teen mekaar van pure senuwees as hy die hofsaal ingelei word. In sy natgeswete hand klou hy krampagtig aan sy lier vas. Skielik is die koning voor hom. Hy buig laag soos dit ‘n nederige onderdaan betaam. Saul gluur hom nors aan met wilde oë en Dawid skrik! Iets baie ernstig is verkeerd met hierdie koning!
“Speel!” blaf die lang man ongeduldig en van pure skrik speel Dawid ‘n paar vals note. Maar dan ruk hy hom reg en weldra vul hemelse, sagte, kalmerende musiek die vertrek. Dawid kyk vlugtig op en hy merk hoedat die koning se gemoed handomkeer verander, totdat daar uiteindelik ‘n salige glimlag om sy mondhoeke speel. Sodra die koning rustig is, kry Dawid verlof om te gaan. Hy is nog half bewerig as hy weggelei word na sy kwartiere. “Die koning hou van jou,” borrel die amptenaar, “jy moet so aanhou!”
Die volgende dag moet Dawid weer vir die koning gaan speel: “Hy het weer ‘n aanval gekry.” verduidelik die amptenaar. “Dit is ‘n staatsgeheim - niemand mag óóit weet van die koning se toestand nie, want as dit by die volk uitlek sal daar ‘n opstand kom!”
Na ‘n paar dae se speel, word Dawid nadergewink deur Koning Saul. Hy wil alles weet van Dawid af - wie sy pa is, wat hy doen by die huis, waar hy geleer het om so mooi musiek te maak - elke detail. En weldra begin daar ‘n soort van ‘n vriendskapsband opbou tussen hulle. Dawid se gespierde liggaam sê vir Saul dat hierdie mannetjie beslis ‘n aanwins sal wees vir hom op die slagveld. “Kom saam, ek gaan jag.” nooi hy eendag vir Dawid, en die jongman kry die taak om Saul se wapens te dra.
Tydens die volgende skermutseling met die Filistyne, is Dawid sommer outomaties Saul se wapendraer. Dit is Dawid se eerste kennismaking met ‘n oorlogsituasie. Hy is ‘n leergierige jong man en elke beweging en besluit van Saul word ingedrink. Met groot belangstelling let hy noukeurig op na elke stukkie taktiek wat hierdie slinkse vegter-koning gebruik om sy vyand te uitoorlê. Hy leer van die meester.
Dawid spandeer ook al hoe meer tyd in die koning se hofsaal, waar hy vir Saul speel op sy lier. Hy luister na elke besluit wat daar geneem word; hy hoor hoe die slim amptenare redeneer; hy sien hoe die koning sy onderdane hanteer; hy leer hoe ‘n land suksesvol regeer word. En niks gaan ongesiens by Dawid verby nie. Saul is só ingenome met hierdie knap jong man, dat hy vir Isai laat weet: “Ek wil graag hê dat Dawid permanent vir my werk. Ek hou van die jongman!”
Ons het in gister se dagstukkie net so terloops gemeld dat die Here vir Dawid die geleentheid gegee het om voor te berei vir sy toekomstige koningskap. Vandag het ons egter gesien hoe intens-deeglik hierdie voorbereiding was. Dawid het elke kunsie in die regering van die land aangeleer by die meester, selfs sonder dat sy leermeester daarvan bewus was. Ek en jy moet ook elke kans aangryp wat ons kant toe kom om te leer om effektief te kan werk in God se Koninkryk - Hy gee dikwels vir ons daardie geleenthede.
Gebed:
Here, maak my asseblief bereid om nooit op te hou om te wil leer van U nie!