Jesaja 7
Net eers ‘n stukkie agtergrond geskiedenis. Ussia was ‘n bekwame koning, maar teen die einde het hy hoogmoedig begin word en te veel van homself begin dink. Toe hy selfs die tempeldiens van die priester wou oorneem, het hy melaats geword. Hy het hom aan sy mag vergryp! Hy het sy laaste dae in afsondering deurgebring.
Ussia is opgevolg deur sy seun Jotam, wat vir 16 jaar goed regeer het en baie bouwerk gedoen het. En toe kom sy seun Agas! In 2 Kronieke 28 word hy beskryf as die allerslegste van konings, wat by die dag nóg slegter geword het.
Op internasionale front het baie dinge gebeur sedert Ussia se dood. Die Assiriërs het op die toneel verskyn as ‘n wêreldmag, en onder die regering van hulle koning, Tiglat-Pileser III was hulle ‘n groot bedreiging vir Palestina en die ander volke. ‘n Paar nasies, waaronder Israel besluit om ‘n koalisie te vorm teen Assirië, en hulle wou Agas ook hierby betrek. Hy weier egter, en die Aramitiese koning Resin en Israel se koning Peka probeer hom dwing. Die uiteinde is ‘n oorlog teen Juda, die Siro-Efraimitiese Oorlog wat duur van 733-732 vC, maar wat uiteindelik op niks uitgeloop het nie. Teen hierdie agtergrond moet ons Jesaja 7 lees.
Dis te verstane dat ons lees dat koning Agas en sy volkie bitter bang was, letterlik gebewe het van angs (v. 2). Aan die een kant het die Assiriërs in hulle nekhare geblaas, en aan die ander kant het Israel en Damaskus gedreig.
Dan stuur die Here vir Jesaja en sy seun Sear-Jasub na Agas om hom te gaan bemoedig. Hy moet vir Agas gaan sê: “Bedaar! Bly kalm! Moenie bang wees nie!” God sal sorg dat daar niks van Resin en Peka se bedreiging kom nie. Hy wéét dat dié twee beplan om Agas te onttroon en iemand van húlle eie keuse op die troon te plaas. Maar dit sal nie gebeur nie, want God is in beheer!
Al wat die Here van Agas en sy volk vra is geloof in Hom en dat hulle die Here sal vertrou. Hulle moet volkome afhanklik van Hom wees. Agas het selfs al beplan om te gaan hulp soek by Assirië, maar God vra dat hy daarvan moet vergeet. Hy moet eerder sy hulp by die Here soek, en aan Sy beloftes vashou.
Om te beklemtoon dat die Here ernstig is hieroor, sê Hy dat Agas maar enige teken kan vra om te bewys dat God se woorde waar is. Agas weier egter, want hy “wil nie die Here tart nie.” Dit klink baie vroom van Agas, maar eintlik is dit net ‘n rookskerm om sy eie ongeloof weg te steek. Hy wil eerder sy eie plannetjies maak.
Dan besluit die Here dat Agas ‘n teken sál kry, of hy dit nou wil hê of nie. “'n Jong vrou sal swanger word en 'n seun in die wêreld bring en sy sal hom Immanuel noem.” (v. 14) Dit is die gedeelte wat in Matteus 1:23 aangehaal word as profesie van Jesus se geboorte.
Ongelukkig is daar nie baie duidelikheid oor die teken in Agas se tyd nie. Ons kan eintlik net raai dat die jong vrou waarvan gepraat word, iemand in Agas se hofhouding was, en dat Peka en Resin se bedreiging weg sou wees voordat haar seun gebore sou word. Daar is ook spekulasie dat die seun moontlik Hiskia, Agas se opvolger was. Matteus kon dus later hierdie woorde gebruik om te wys dat Jesus, die ware Immanuel, “God met ons” is.
Vir Agas was hierdie seun egter ook ‘n teken van oordeel, want elke keer as hy die seun sien, word hy herinner aan sy eie ongeloof. Hy moet ook weet dat teen die tyd dat die seun groot is, sal die lande van Resin en Peka, Damaskus en Israel verwoes lê. Verder sal Juda sélf nie gespaar bly nie, en Assirië sal Juda vernietig. God se oordeel oor Juda sal deur twee werktuie bewerkstellig word, Assirië en Egipte. Hulle sal soos vlieë en bye op Juda toesak (v. 18). Die eens waardevolle wingerde sal plek maak vir dorings en distels (v. 23).
Ons moet deeglik besef, dat mense wat op hulle eie vermoëns staatmaak en die rug op God draai, volslae verwoesting in die gesig staar.
Hierdie is aan die een kant ‘n ontstellende gedeelte om te lees. As ek nie my volle vertrou in die Here stel nie, dan wag daar net groot probleme vir my. Ek moet Hom in alles in my lewe vertrou. Dit kan slegs gebeur as daar ‘n intieme verhouding met Hom is, anders is dit totaal onmoontlik.
Die gedeelte is aan die ander kant ook ‘n wonderlike bemoediging. Vir Agas was die belofte van die jong meisie wat die seun in die wêreld sou bring, slegte nuus, soos ons netnou gelees het. Maar vir my en jou is dit terselfdertyd die wonderlikste nuus óóit, want dit is die profesie van Jesus wat sou kom om ons te verlos van die sonde.
Kom ons leef ons liefdesverhouding met Jesus ten volle uit!
Gebed:
Here, dankie vir hierdie verhaal van Agas, en dat ek ook daaruit kan leer hoe belangrik my vertroue in U is.