Hy het Waarlik Opgestaan!

29 September, 2017
Luister Na Hierdie Dagstukkie Hy het Waarlik Opgestaan!

Matteus 28:1-15

Ons het gekom by die laaste hoofstuk van Matteus. Dit is moontlik die laaste hoofstuk in sy verhaal, maar beslis nie die einde nie! Terselfdertyd is dit ook die eerste hoofstuk van ‘n splinternuwe verhaal. Hierdie is ‘n verhaal van uitbundige blydskap, lewe en ‘n toekoms sonder perke!

Dit is vroeg die Sondagmôre. Die bitter lang Sabbat is verby en die twee Maria’s is op pad na die graf om daar dinge te gaan afhandel. Jesus is so haastig begrawe die Vrydagmiddag voordat die Sabbat sou begin, dat daar nie eers tyd was om Sy liggaam te balsem nie. Dalk kon hulle nou daardie taak gaan afhandel.

Skielik word hulle tot stilstand geruk as die aarde onder hulle voete skud. Hulle is doodsbenoud – wat sou dit beteken? Dit is die tweede aardbewing wat hulle voel in drie dae. Die vorige een het gebeur toe hulle Meester, Jesus gesterf het. Daardie was beslis ‘n Godsverskyning! Sou hierdie tweede skudding dalk ook een wees? Verskrik en met wild-kloppende harte stap hulle haastig verder na die graf toe wanneer die rammeling ophou. Het iets verskrikliks dalk daar gebeur?

As die twee vroue by die graf kom, skrik hulle hulle vir die tweede keer die oggend yskoud. Wat hulle daar aantref, vul hulle met skok en afgryse. Die klip voor die opening van die graf is weggerol. Wie sou tog so ‘n verskriklike ding wou doen? Dit is egter nie die oop graf wat hulle die meeste ontstel nie. Dit is die “man” wat op die grafklip sit! Hierdie is nie ‘n mens nie. Sy gesig blink so skerp dat ‘n mens hom nie in die oë kan kyk nie. Sy hele gestalte is soos weerligstrale, en sy klere skitterwit. Sowat het hulle nog nóóit gesien nie! Die arme twee vroue bewe van angs en hulle knieë word jellie. Maar dan kom ‘n gerusstellende stem van die “man”: “Moenie bang wees nie. Ek weet julle soek vir Jesus….” Hy begin dan in ‘n gerusstellende stem vir hulle vertel dat Jesus uit die dood opgestaan het, net soos wat Jesus al by verskeie geleenthede vir hulle probeer tuismaak het. Stadig begin dit by die twee vroue deurskemer dat hierdie gladnie ‘n man is nie, maar inderdaad ‘n engel! Hy nooi hulle om te kom kyk na die graf. Hulle moet kom kyk na die plek waar Jesus gelê het. Die doeke waarin Hy toegedraai was, lê steeds daar. Die graf is leeg!

Die vroue kan nie glo wat hulle sien nie: “Dan was alles tóg waar!” borrel dit deur hulle verwarde gemoedere. Die man sê vir hulle dat hulle gou moet maak. Hulle moet vir die ander gaan vertel dat Jesus opgestaan het. Daarna moet hulle na Galilea gaan, want Jesus sal hulle daar ontmoet. Die twee vrouens bewe van pure angs, maar terselfdertyd ook van blydskap. “Jesus leef! Jesus leef!” Hulle borrel behóórlik oor van blydskap! Hulle hardloop so vinnig as wat hulle voetjies hulle kan dra en wat hulle fladderende rokke dit toelaat om hierdie wonderlike nuus aan die moedelose dissipels te gaan uitbasuin. “Jesus leef! Ons Here leef!

Voordat hulle egter by die dissipels kan uitkom, word hulle egter in hulle spore gestuit. Skielik, asof uit nêrens, staan Jesus voor hulle. Vir die derde keer die oggend skrik hulle vir hulle asvaal. As hulle oor die skok kom, hardloop hulle nader en gryp Hom aan die voete terwyl hulle voor Hom kniel en Hom aanbid. “O watter vreugde! O watter blydskap!” Hulle is nou totaal verward. Hulle weet nie hoe om dit te hanteer nie. Alles lyk so onwerklik! “Moenie bang wees nie.” Jesus kalmeer hulle. “Gaan sê vir My broers dat hulle na Galilea toe moet gaan - daar sal hulle My sien.

Huppelend van vreugde hardloop die twee daar weg. Ek kan myself net die prentjie voorstel toe hulle by die ander kom. Hoedat hulle gebabbel het om die nuus oor te dra, en al die vrae en die opgewondenheid!

Maar daar is ook ‘n ander sy van die verhaal, een van donker en onheilspellende dinge. Toe die engel vroeg daardie oggend opdaag by die graf, sit die soldate wat daar wagdiens doen rustig op hulle pos. En dan skud die aarde. Terwyl hulle nog vol angs opspring oor hierdie vreesaanjaende “natuurverskynsel”, verskyn die engel hier vlakvoor hulle - skitterblink en skrikwekkend. So groot is hulle skok dat hulle net daar omdop, uit soos ‘n kers! Later, as hulle bykom en die skade sien, hardloop hulle uitasem na die Joodse leiers toe, en vertel wat gebeur het. Die manne is bitter ontsteld! Wat presies het hier nou eintlik gebeur? Hulle kan dit nie verklaar nie. Hulle betaal die wagte uit desperaatheid om die storie te versprei dat die dissipels Jesus se lyk gesteel het.

Niemand het Jesus sien opstaan nie, nie die wagte nie, want hulle het mos flou neergeval. Ook nie die vroue nie want hulle was nog op pad. Al “bewys” wat daar is, is die leë graf en die Jesus-verskyning. Hy verskyn egter slegs aan die gelowiges. Geen ongelowige sien Hom ooit nie! Het Jesus werklik opgestaan? Is dit nie dalk net ‘n versinsel nie? Inderdaad is dit ‘n fisiese werklikheid, net soos die leë graf en die vroue wat Sy voete gegryp het. Hierdie is egter nie bewyse van Sy opstanding nie, maar tekens wat in geloof aangegryp moet word. Uiteindelik het die Jode die teken gekry waarvoor hulle gevra het, maar dit het hulle nie tot geloof beweeg nie. Die vraag is of dit jóú al tot geloof gelei het……..

Gebed:

Ek jubel en juig vanoggend, Here, want U leef! U het waarlik opgestaan! U is my Koning en my Here!

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026