Hy het Waarlik Opgestaan

3 January, 2022
Luister Na Hierdie Dagstukkie Hy het Waarlik Opgestaan

Lukas 24:1-12

VIDEO OUDIO

Wat ‘n wonderlike gedagte om ‘n splinternuwe jaar mee te begin – Hy het waarlik opgestaan!

Ons haak dikwels vas by Jesus se kruisiging en nes die dissipels dink ons ook dat dit die einde van die pad is. Vir ‘n klompie moderne teoloë is dit dan ook waar Jesus se lewe eindig, omdat die opstandingsverhaal vir hulle ‘n mite is. Dit het slegs in die dissipels se harte gebeur! Hoe ver is dit nie van die waarheid af nie!

Die opstandingsverhaal is egter ook nie die einde van Lukas se Evangelie nie, maar eerder die begin van sy Handelinge-verhaal, want hier lê die kerk se oorsprong!

Daardie Sondagmôre was dit nog bitter vroeg toe die drie vroue, Maria Magdalena, Johanna en Maria (Jakobus se ma), al op pad was graf toe om te gaan doen waarvoor daar die Vrydagmiddag nie tyd was nie. Hulle moes Jesus se lyk behoorlik gaan versorg. Dit is só ironies dat hulle gehoor het dat Hy gesê het dat Hy op die derde dag sou opstaan, maar hulle wou dit maar net nie glo nie. Só ‘n groot wonderwerk was gans te groot vir hulle om te begryp!

Met genoeg reukolies en mirre het hulle al huilende na die graf gestap wat Josef van Arimatea so goedgunstiglik vir Jesus aangebied het.

Toe kom die verskriklike skok! Die klip wat die graf verseël het was weggerol! Haastig het hulle tot by die graf gehardloop. Al hulle vrese het waar geword toe hulle sien dat die graf inderdaad leeg was! “Iemand het ons geliefde Meester se lyk gesteel!” Só groot was hulle skok, dat hulle nie eers die twee hemelwesens in skitterblink klere opgemerk het wat by die graf gestaan het nie!

Skielik het die vroue die twee engele raakgesien en byna flou geval van skrik. Die engele het die vroue gekalmeer en toe omslagtig vir hulle verduidelik wat Jesus bedoel het toe Hy vir hulle gesê het dat Hy sou sterf en dan weer opstaan. Stadigaan begin hulle om te verstaan. Hulle het onthou wat Jesus gesê het, en skielik begin dit alles sin maak en soos die blokkies van ‘n legkaart inmekaar pas.

Baie haastig het hulle teruggehardloop om hierdie wonderlike nuus vir die dissipels te gaan vertel. Ek kan my voorstel hoe die drie vrouens gelyk gebabbel het, en die arme dissipels wat moes probeer sin maak van hulle ongelooflike storie. Hulle was baie opgewonde, maar die ander dissipels kan dit net eenvoudig nie verstaan of glo nie. Wat veronderstel was om ‘n bitter droewige dag te wees, het skielik vir hierdie drie “deurmekaar” vroue in ‘n jubelfees verander!

Uiteindelik het die vroue se gebabbel tog wel sin gemaak vir die manne, maar hulle kon steeds nie glo dat hierdie dinge werklik waar was nie. Die drie vroue het hulle dit seker maar verbeel en hulle het dit as onsin afgemaak. Dit was alles een groot droom wat in die vroumense se koppe afgespeel het! Jesus was dood! Hulle het dit immers sélf met hulle eie oë gesien! Hy was begrawe. Dit was verby! Alles was een groot nagmerrie!

Vir een man het hierdie dinge nou hééltemal te veel geword. Petrus het só gewens dat dinge anders kon wees, veral sy verskriklike verraad teen sy geliefde Meester daardie nagmerrie-Donderdagnag. Hy sou letterlik na enige ou grashalmpie gryp om dinge te kon verander. Hierdie nuus van die vroue - hoe verregaande dit ookal mag klink - was vir Petrus ‘n opflikkerinkie van hoop. Haastig het hy opgespring en na die graf toe gehardloop. Wat sou hy daar aantref? Die vroue het seker maar by die verkeerde graf uitgekom! ‘n Warboel gedagtes het deurmekaar deur sy kop gemaal - as dit tog maar net waar kon wees! Sê nou maar net....... Die gevolge van ‘n opstanding - ás dit ooit moontlik kon wees - was te groot vir sy verwarde verstand om te verwerk!

Petrus was nog ver van die graf af toe sy hart ‘n wilde sprong gee. “Dit is dan tóg waar!” het hy skielik met ‘n skok besef. Met bewende knieë het hy die laaste treë tot by die oop graf gestrompel. Sy hele liggaam het gebewe toe hy vooroor buk om by die klipgat in te loer. Binne het hy die doeke sien lê - die doeke wat Josef spesiaal gaan koop het om Jesus in toe te draai. Verder was daar niks - géén liggaam nie. Niemand sou tog so mal wees om ‘n lyk te steel, en die doeke waarin dit toegedraai was net daar los nie!

Uitasem het Petrus teruggehardloop om die nuus met die ander te gaan deel. Hy het nog nie mooi geweet wat om hiermee te maak nie - dit was hééltemal te groot vir sy verwarde verstand om te begryp! Waar sy Meester was het hy nie geweet nie, maar wat hy wél geweet het is dat Jesus nie dood was nie! Hy léwe! Hy het wáárlik opgestaan!

Raak jy nog opgewonde oor Jesus se opstanding? Is Paas Sondag nog vir jou ‘n dag van jubeling en borrelende blydskap? Baie mense is vandag skepties oor hierdie gebeure, maar die feit is dat niemand - nie eers die heidene nie - praat van “oorlede” Jesus nie. Hiermee word selfs die mees skeptiese persoon gedwing om te erken dat Jesus lééf, en dat Hy waarlik opgestaan het. Vir ons as gelowiges beteken dit nog soveel meer, want dit beteken dat Jesus, soos Hy belowe het, vandag, hier en nou, by ons is!

Mag 2022 vir jou ‘n jaar van borrelende vreugde wees, want Jesus lééf! Hy hét waarlik opgestaan!

Gebed:

Dankie, dankie, dankie Jesus, dat U gedoen het soos U belowe het, en dat U nie alleen lewe nie maar ‘n lewende verhouding met ons het.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026