Hy Bly Getrou

30 April, 2018
Luister Na Hierdie Dagstukkie Hy Bly Getrou

2 Timoteus 2:10-13

Elke Evangeliebedienaar het al op die een of ander stadium in sy lewe moedeloos die vraag ge-uiter: “Is dit ooit alles die moeite werd?" Ek het immers sélf al by geleentheid die vraag moes vra oor die dagstukkies. Dit was veral in die beginjare toe dit vir my nie gelyk het asof enigeen dit ooit waardeer het nie. Wanneer hierdie vraag by jou opkom, dan het dit tyd geword dat jy eers ‘n slag gaan sit en baie mooi dink oor die ware motiewe van jou bediening. Wat wil ek graag hê uit my bediening? Is daar iets hierin vir my? Ons het al gesels oor mense wat hulleself finansieel verryk uit die Evangelie, maar dit is nie waaroor dit hier gaan nie. Dikwels is ons motiewe baie meer subtiel. Ek soek ‘n bietjie erkenning; ek wil graag ook so ‘n bietjie gewildheid verwerf; ek wil graag hê dat mense my moet raaksien en sê: “Daardie man het darem iets in die lewe bereik.” Ek soek óók ‘n bietjie aansien. Dalk is dit die mag wat my bediening my gee, wat my tot groot hoogtes aanspoor. As leier-ouderling kan ek die kerkraad en gemeente dirigeer om na my pype te dans. Moontlik is my motief so 'n bietjie roem.

As daar iets van hierdie motiewe in jou bediening is wat jou dryf, dan het dit tyd geword om weer ‘n slag te gaan besin oor waaroor dit alles gaan. Die enigste ware motief behoort te wees, om tot eer van God die liefde van Christus in jou lewe en in jou leierskap sigbaar te maak. Dit is om daardie rede wat Paulus kan sê: “Ek verdra alles....” Paulus dra die belange op die hart van al die mense wat deur God uitverkies is om gelowiges te wees. Dit is een eienskap wat by elkeen wat in ‘n Christelike leiersposisie is voorop moet staan. Dit gaan nie oor my nie, maar oor God in die eerste plek, en in die tweede plek oor die mense wat die Here aan my toevertrou het. Ek het by geleentheid reeds die verhaal vertel van ons weermag bevelvoerder wat die nag toe ons troepies amper weggespoel het in ‘n donderstorm, van tent na tent geloop het in die gietende reën om te sien of almal veilig is. Hy het sy eie aansien, veiligheid en gemak prysgegee vir doodgewone troepies, sonder om enigiets terug te verwag.

Dit laat dan weereens die vraag ontstaan: is daar absoluut niks daarin vir my nie? Die beloning wat ons kry vir selfopoffering en ‘n lewe tot eer van God is baie groot. Kyk maar byvoorbeeld net na die beloftes vir ons opgesluit in vers 11-13. In kort kom dit daarop neer dat ons nie alleen saam met Jesus sal leef nie, maar boonop saam met Hom sal regeer. Wat ‘n wonderlike vooruitsig! Maar dit word beter: ons deel nóú reeds al in hierdie dinge! Gaan lees gerus ook Kolossense 3:1-4 en Openbaring 3:21 - hierdie is maar enkele van baie ander beloftes oor dieselfde onderwerp, om vir ons as gelowiges te sê dat, al lyk dit vir ons asof die ganse wêreld teen ons is, God se genade soveel groter is as al die onreg op aarde. Byt vas! Alles sal uiteindelik oor en oor die moeite werd wees!

As ons egter so van hierdie heerlike beloftes van God lees, dan dink jy onwillekeurig aan jou eie swakhede en foute, want geen mens, hoe heilig ookal, is volmaak nie. Dit is dan ook baie belangrik dat ons die waarskuwing wat Paulus in hierdie gedeelte gee ter harte neem, naamlik om versigtig te wees dat ons nie vir Jesus verloën nie. Die verloëning waarvan hier gepraat word, is ‘n aanhoudende en onbekeerde ontkenning van die verhouding met Jesus Christus. Paulus verwys hier na ‘n uitspraak van Jesus in Matt. 10:32-33, ‘n uitspraak wat gedurig totaal uit verband geruk word in sekere e-posse. Daar word op jou gevoel (gewete) gespeel, dat sou jy nie ‘n sekere e-pos aanstuur na tien mense nie, jy vir Jesus sou verloën. My gevoel is dat dit Godslasterlik is om Jesus se woorde so verkeerd aan te haal!

Saam met hierdie waarskuwing gaan daar egter ook ‘n troos. God weet maar al te goed dat ons maar net mense is, mense vol foute. Nou tref Paulus ‘n verskil tussen verloëning en ontrouheid. Ontrouheid is oomblikke van swakheid, foute, luiheid en gebreke in jou bediening waaroor jy berou het. Dit is anders as verloëning wat ‘n doelbewuste aanhoudende en beroulose ongehoorsaamheid aan God is. Die goeie nuus is ook dat Jesus getrou bly ondanks al ons ontrouheid. Dit beteken dan ook dat ons met nuwe oortuiging en sekerheid ons werk as Christenleiers kan aanpak. As ons net ons hand na Hom uitsteek, sal Hy sorg dat ons nie in ons ontrouheid volhard nie. Ek en jy is immers Christus se liggaam, en Hy voed en versorg Sy liggaam en doen alles wat nodig is om Sy kerk in volle heerlikheid by Hom te neem (Ef. 5:26-27).

Ja, Jesus is inderdaad getrou. Ons sien dit ook in die laaste belofte wat Hy aan sy dissipels, en by implikasie ook aan jou en my, gemaak het pas voor Sy hemelvaart: “En onthou: Ek is by julle al die dae tot by die voleinding van die wêreld.” (Matt. 28:20). Daarom kan ons vandag sê: “Alles is beslis die moeite werd! Wees getrou en werp alles in die stryd!”

Gebed:

Here, hou my asseblief getrou aan U, en gee my inspirasie om met die regte motiewe te werk in U Koninkryk.

Argiewe


Onlangse Dagstukkies

Brief aan Titus
24 July, 2026
In die Dodesel
22 July, 2026